Die “doding” van Jesus. 2Kor4;10
Op die plaas is daar boorde en saailande. Die een word elke jaar gesnoei, bemes en die oes afgehaal; Die ander word elke jaar omgeploeg gesaai bemes en die oes afgehaal. Die boord lewer elke jaar sy oes as ‘n voortgaande proses, die saailand lewer elke jaar sy oes as ‘n proses wat van vooraf begin het. Maar albei het deurlopend aandag nodig om sy jaarlikse oes te lewer. Dit is vir my ‘n beeld om te verduidelik waarmee ons te doen het met moontlike vertaling van die woord “nekrōsin” (dood) in 2Kor. 4:10.
1933/53: Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.
1983: Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.
Na analogie van die Hollandse Statevertaling het die 1933 vertaalspan besluit om die “onafrikaanse” woord doding te gebruik om ‘n voortgaande proses van die sterwe van Jesus in ons liggame aan te dui. Die 1983 vertaling kies vir sterwe om ook dieselfde betekenis te bereik eerder as byvoorbeeld dood wat op ‘n afgehandelde saak sou dui.
Die Griekse woord (nekrōsin) dui op die finale toestand van doodwees, soos ‘n “lyk”. Ons vind die woord ook in Rom. 4:19 waar dit ‘n finale afgehandelde toestand aandui. Daar gebruik die 1933/53 Ou Afrikaanse Bybel weereens ‘n vreemde woord “verstorwe”. (“En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” Die 1983-vertaling asook die NLV parafraseer eerder: “Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.” Die Interliniêre Bybel bied: “doodsheid van die moederskoot…”)
Wil Paulus met “nekrōsin” in 2 Kor.4:10 die voortgaande “dodingsproses” van Jesus se lewe voor die oog roep, wat op die einde op die finale “dood” van Jesus uitloop? Dit sal dan op die voortgaande lyding van apostel dui, wat op die einde in die oorwinnende lewe uitloop. Of het Paulus die finale sterwe aan die kruis in gedagte wat telkens as ‘n afgehandelde saak die apostel in sy aanvegtinge moet bemoedig en tot lewe oproep?
Die tweede deel van 2 Kor.4:10 weerspieël die eerste: “…sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.” Die “oes” in elke aanvegting moet die “lewe” en oorwinning in Christus wees.
Ek kan dit nie beter stel as prof. Francois Malan nie: “Ek sien die identifisering met beide Christus se sterwe en opwekking as werk van die Heilige Gees wat in ons woon om 2 Kor 3:18 uit te werk: dat Hy ons daagliks verder voer om ons te verander na die beeld van Christus se selfopofferende liefde om iets van die heerlikheid van Christus tot openbaring te bring in ons lewe van nederige liefdesdiens aan mekaar en selfs aan ons vyande, soos Mt 5:44 sê, sodat ons die beelddraers van ons Vader kan wees. Maar dit vereis ‘n daaglikse sterwe aan ons self.”
Laat ons dan in elke aanvegting wat ons self beleef, opkyk na die oorwinning wat Jesus reeds deur sy sterwe en opstanding vir ons behaal het. Laat dit ons tot nuwe lewe opwek. So kan die Heilige Gees 2Kor.3:18 al meer ‘n werklikheid in ons lewe maak: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Erdekruike wat maklik breek, maar gevul met lewegewende sekerheid!
Seën,
Herman.
Kommentaar onder aan die bladsy is baie welkom
Sjoe Herman, dit is kosbaar! Ja, die EK MOET VREK en dis maar n moeilike ding, want die mens is van nature die groot EK. Gelukkig hoef ons dit nie op een slag te doen nie, maar so met verdrag en in die krag van die Heilige Gees. Sonder die GEES is dit onmoontlik!
Groete
Thys
_____
Baie dankie vir hierdie opmerking, Thys.
Dit is so waar dat ons nooit sal uitkom by die plek waar die Heilige Gees ons wil hê as Hy ons nie bemagtig nie.
Die dissipels het letterlik die sterwe van Jesus fisies aan hulle liggame beleef! En dan kla ons so gou wanneer dinge nie uitwerk soos ons dit beplan het nie!
Seën
Herman.