84. Diakensvroue of Vrouediakens? 1Tim. 3:11

Vroue of Vrouediakens? 1Tim. 3:11

Kan ‘n man uit sy amp verwyder word as gevolg van die swak gedrag van sy vrou? Ek is oortuig dat daar mense is wat graag 1Timoteus drie vers elf so sou wou interpreteer. Tot watter mate moet die Bybelvertaler, met sy meerdere kennis van die oorspronklike taal en sy insig in die kultuur, hom deur die konteks laat lei om ‘n woordkeuse te maak wat ‘n bepaalde verstaan van die teks laat afdwing?

Ons kyk na die Afrikaanse vertalings tot my beskikking.

1933/53: Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles.

1983: Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar.

Die Bybel: ‘n direkte vertaling (2016): Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles.

Bybel vir Almal: Vroue wat in die gemeente wil werk, moet ook mense wees wat reg lewe.

NLV: Teks: Net so moet hulle vroue Nota onder aan die bladsy: “of vrouediakens

Die Boodskap: Vroue wat in die gemeente help

Interliniêre Bybel: Net so moet die vroue

Wat ‘n voorreg om reeds soveel Bybels in ons eie taal beskikbaar te hê nie!

Die Griekse woord “gunaike” wat hier gebruik word, word gewoonlik gebruik om na die vrou as huweliksmaat te verwys, maar ook na ‘n vrou in die algemeen. Daarom is “hulle vroue” of “vroue” albei taalkundig korrekte vertalings, maar dit het reeds verstaans implikasies. In watter mate behoort die vertaler hom deur die konteks te laat lei?

In 1 Tim. 3:1-13 gee Paulus riglyne rondom die karakter en eienskappe van mense wat in die gemeente dien, of ‘n amp beklee.
Verse 1-7: Ouderlinge
Verse 8-10: Diakens
Vers 11: Vroue
Verse 12-13: Diakens

Uit die konteks is daar drie moontlikhede.
1. Vroue as gemeentelede in die algemeen.
2. Die vroue van diakens.
3. Vroue wat in die gemeente diens doen, in die algemeen, of die spesifieke amp van diaken.

Ons ondersoek die drie moontlikhede na aanleiding van die konteks.
1. Vroue as gemeentelede in die algemeen. 1) Dit is onwaarskynlik dat Palulus vrouegemeentelede in die algemeen in gedagte sou hê. In geen ander brief noem Paulus vereistes vir vroue spesifiek, anders as die algemene leiding aan gelowiges nie. 2) Hierdie vers is deel van die bespreking van die spesifieke vereistes vir ampsdraers wat dit onwaarskynlik maak dat hy juis vrouegemeentelede in die middel van hierdie bespreking sou invoeg. Die 1933/53, 1983 en voorstel vir Die Bybel: ‘n direkte vertaling (2016) asook die Interliniêre Bybel se keuse moet so verstaan word.
2. Die vroue van diakens. 1) Hierdie opmerking is binne in die bespreking van die vereistes vir diakens geplaas, wat dit deel van die betrokke saak maak eerder as ‘n ander kategorie. 2) Die normale gebruik van die woord “gunaikes” is ‘n huweliksmaat. 3) Paulus gebruik hierdie woord nêrens elders om byvoorbeeld na diakonesse te verwys nie, maar soos in Rom 16:1 direk die woord vir diaken. 4) Paulus maak groot belang van die eenheid binne die huwelik (1Kor.9:5) wat hier onderliggend kan wees dat die vroue hul diaken-mans sou vergesel in hul werk in behoeftiges se huise. Die NLV maak hierdie keuse.
3. Vroue wat in die algemeen in die gemeente diens doen, of spesifiek in die amp van diaken. Die kerkvaders Chrysostomos (†407) en Theophylactus (†1077) het reeds hierdie vers so verstaan. 1) Presies dieselfde inleidende konstruksie word gebruik as vir diakens in vers agt. 2) Daar is geen verbintenis na die diakens soos “die vroue van diakens” of “die diakens se vroue” nie. 3) Net soos in vers agt, het die konstruksie in vers elf nie ‘n werkwoord nie, maar gryp terug na “moet wees” in vers twee. 4) Dit is duidelik dat Paulus hier mense in gedagte het wat ‘n bepaalse funksie of werk in die gemeente verrig. Indien hy dit sou beperk tot slegs “vrouens van diakens”, verklein hy drasties die groep wat kan dien. 1Tim. 5:3-11 dui aan dat o.a. weduwees ‘n belangrike formele rol in die eerste gemeentes gespeel het. 5) Paulus beklemtoon elders die gelykwaardigheid van mans en vroue voor God, en daarom sekerlik ook in die kerk en ampte (Gal. 3:28; 1 Kor. 11:11) Wanneer Paulus hier die vereistes vir ouderlinge en diakens beklemtoon, is dit die ideale plek om ook die vroue wat dien, te hanteer. 6) Die versiestes wat gestel word, stem baie ooreen met dié vir diakens en ouderlinge. Dis onwaarskynlik dat dieselfde versiestes aan die vroue van diakens gestel sou word. 7) Vers dertien kan as slotwoord duidelik op beide mans en vroue diakens dui, maar vers twaalf is hier uit pas, veral as in ag geneem word dat die moontlikheid van enkel vroue en weduwees as diakens in die eerste gemeentes van groot belang sou wees. Die Bybel vir Almal asook die Boodskap kies hierdie interpretasie.

Die Griekse grammatika maak dit moontlik om nie ‘n keuse aan te dui nie, maar in Afrikaans is ‘n keuse onafwendbaar. Daarom is die vertaler genoodsaak om sy keuse in die teks te plaas, met die ander moontlikheid (-hede) in ‘n voetnota onder aan die bladsy.
Vir my lyk die weergawe in die Bybel vir Almal, “Vroue wat in die gemeente wil werk” na die beste keuse, juis omdat dit ‘n wyer toepassing het as net diakonesse.

As u die vertaler sou wees, hoe sou u dit hanteer?

Seën,

Herman.

Gee gerus u opinie onder aan hierdie bladsy.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria in the seventies. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Dinamies Ekwivalente Vertaling, Konteks, Vertalings Uitdagings. Bookmark the permalink.

Leave a comment