94. Hoe ontstaan ‘n harmoniërings verandering? Matteus 20;22-23

94 Hoe ontstaan ‘n harmoniërings verandering? Matteus 20;22-23

Het jy al ‘n vers in die Bybel gelees en dan sommer aangevoel dat hier iets kortkom?

Stel jou voor jy is ‘n monnik wat in die middeleeue in ‘n koue kloosterkamertjie besig is om Matteus te kopieer. Jy kom by die deel waar Johannes en Jakobus se moeder Jesus versoek het dat haar seuns links en regs van Hom moet sit. En by die lees van Jesus se antwoord, weet jy sommer dat Hy meer gesê as wat hier in jou bronkopie staan. Hy het mos nie net oor die beker wat Hy sou drink gepraat nie, maar ook oor die doop waarmee Hy gedoop sou word! En hier in die bronkopie wat jy kopieer staan net: “Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink; maar om te sit aan my regter – en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.” Jesus het mos by hierdie geleentheid ook van die doop waarmee Hy gedoop gaan word, gepraat! En dan sit jy terug en dink: “Ja, ek ken mos die vers! Jesus het immers gesê: “Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?  En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word;” Die vorige kopieerder het hierdie belangrike deel uitgelaat! Sy oog het seker gespring en so het hy ‘n reëltjie gemis. En om seker te maak, klop jy by jou buurman aan wat besig is om Markus te kopieer, en gaan maak seker wat Jesus regtig gesê het. En daar staan dit in duidelike letters. Jesus hét ook van die doop gepraat. En gou maak jy reg wat jy oortuig is die vorige kopieerder verbrou het. Geen woord wat Jesus gespreek het, mag verlore gaan nie.

En so beland ‘n sinsnede wat Matteus nie in sy Evangelie neergeskryf het nie, sowat 800 jaar later vanuit Markus in Matteus se weergawe van hierdie gebeurtenis. En omdat hierdie monnik so versigtig te werk gegaan het, en so ‘n mooi duidelike handskrif gehad het, is sy kopie telkens gebruik vir verdere kopieë. En so gebeur dit dat die meerderheid van die latere manuskripte almal hierdie byvoeging uit Markus in Matteus in het. Hierdie byvoeging was ook in die manuskrip wat Erasmus in 1516 gebruik het om die eerste gedrukte Griekse teks uit te gee. En sy teks word onbevraagteken deur talle latere uitgewers herdruk, en gebruik vir vertalings van die Nuwe Testament. En so beland hierdie uitbreiding in die King James, en in die Nederlandse Statevertaling, en in ons eie 1933/53 Ou Afrikaanse Bybel.

Wanneer ons nou in die moderne tyd die voorreg het om al die beskikbare Griekse manuskripte en ook die manuskripte van die ou vertalings en selfs die aanhalings van talle ou Kerkvaders almal voor oë te hê, en ons sien dat al die ou dokumente voor die jaar 800 n.C. nie hierdie woorde in het nie, is dit immers logies dat Matteus nie hierdie sinsnede van Jesus aangehaal het nie. Die verandering het moontlik presies ontstaan soos ek hierbo voorgestel het. Indien ons huidige Bybelvertalers dan hierdie woorde nié in Matteus insluit nie, is hulle mos nie besig om dele uit die Woord van God uit te haal nie, maar herstel hulle die Woord terug na wat Matteus aanvanklik neergeskryf het. In elk geval gaan die woorde wat Jesus gespreek het, nie verlore nie, maar staan dit steeds in Markus, soos dit oorspronklik was. Elke Evangelis het immers neergeskryf wat hy as van belang geag het.

Die egtheid en uniekheid van ‘n evangelis se weergawe word juis bevestig deur die verskille met ‘n ander evangelis se weergawe, en nie net met wat ooreenstem nie. Matteus sê dat Johannes en Jakobus se moeder die versoek gerig het, terwyl Markus onthou dat die versoek eintlik van die twee broers self gekom het. Harmoniëringsveranderings veroorsaak bloot dat een weergawe voortgesit word, eerder as dat elke unieke weergawe behou word. Daarom is die herstel van die weergawe tot die oorspronklike outografie altyd ‘n verbetering, al lyk dit op die oog af of iets moontlik verlore kan gaan.

Seën,

Herman.

Kommentaar en vrae is baie welkom onder aan die bladsy, of per e-pos na bibledifferences@gmail.com

 

Ek het die volgende vrae per e-pos ontvang en plaas my antwoord daarop hieronder.

Beste Leon,

Dankie vir jou vrae.

Ek gee eers die volgende agtergrond:

Die groot uitdaging waarvoor mens te staan kom, met ‘n verskil soos dié in Mat 20:22-23 is om ‘n verklaring te vind vir die verskille. In die manuskripte bestaan daar twee weergawes. Een sonder die verwysing na die doop, die ander volledig in ooreenstemming met die Markus weergawe.

Eerstens moet mens die feite in ag neem.

  1. Geen Griekse manuskrip voor die jaar 800 het die verwysing na die doop soos dit in Markus opgeneem is, in Matteus nie.
  2. Daar bestaan 4 verskillende Siriese vertalings, talle oud Latynse vertalings die Vulgaat van Heronimus (Jerome) 4 verskillende Koptiese (Egiptiese) vertalings. ’n Gotiese, ‘n Armeense (Rusland), Georgiese en Etiopiese vertaling wat almal voor die jaar 800 n.C. ontstaan het. In nie een van hierdie vertalings kom die uitbreiding voor nie. Gee my enige logiese verklaring waarom al hierdie vertalings wat in Afrika, Europa, Asië en Palestina ontstaan het, almal ‘n “gewysigde” manuskrip waar hierdie deel uit verwyder sou wees, as bronteks sou hê. Vir my is dit logies dat Matteus nie hierdie verwysing oorspronklik in gehad het nie.
  3. Daar is drie ou Kerkvaders (Origenus †254, Chrysostomus †407 en Nonnus †431) wat ‘n kommentaar op elke sin in die Nuwe Testament geskryf het. Nie een van hulle ken Matteus met die verwysing na die doop nie. Daar is ook nie een ander ou kerkvaders wat hierdie vers aanhaal met die verwysing na die doop in nie.

Wanneer ons na hierdie feite kyk, dan is dit vir my logies dat die oorspronklike outografie van Matteus nie hierdie verwysing na die doop in gehad het nie, of het jy ‘n moontlike verklaring waarom alle Griekse manuskripte wat die “oorspronklike” bewoording in sou gehad het, almal vernietig is? Of waarom nie een van die manuskripte met die “volledige oorspronklike” bewoording in, gebruik was as bronteks vir enige van die antieke vertalings nie? Of waarom nie een van die Kerkvaders ‘n “korrekte oorspronklike” weergawe van die manuskrip soos Matteus dit sou neergeskryf het, gebruik het nie, selfs nie die drie waarna ek met name verwys nie? Vir my is dit net te onverklaarbaar, of het jy ‘n logiese verklaring?

Dit bring my dan by die eintlike doel van my blogplasing. Ek kan geen aanvaarbare verklaring vind wat aandui dat die oorspronklike weergawe hierdie uitbreiding in gehad het nie. Ook nie enige aanduiding van waarom hierdie deel dan verwyder sou gewees het nie.

Maar daar het wel ‘n verandering ná die jaar 800 n.C. ontstaan. Dan eers kom dit voor in sommige Griekse en daarna in die meeste van die latere Griekse manuskripte. Hiervoor moet ons dan ‘n verklaring vind. En dit is die senario wat ek in my plasing geskep het.

Leon: Ek het jou kommentaar gedagtig oorweeg en sal die volgende probleme wat ek daarmee het aan jou wil voorhou:

  1. Ons weet dat jou verklaring vir die ‘fout’ ‘n blote vermoede of suggestie is. M.a.w. dit is nie die waarheid nie.

Herman: Ja, dit is nie ‘n “waarheid soos ‘n koei” nie, maar het jy ‘n beter verklaring vir die bestaan van die twee variasies? Dit mag nie die waarheid wees nie, maar as regsgeleerde sal jy my seker toegee dat dit die beste “circumstantial evidence” is wat seker in ‘n hofsaak redelike gewig sou dra? Of het jy ‘n beter verklaring?

Leon: 2. As dit wat jy beweer waar is, hoekom het die monnik nie sommer die aangeleentheid rakende die identiteit van wie die vraer van die vraag was ook reggestel nie?

Herman: Weereens kan ek nie ‘n verklaring daarvoor aanbied nie. Dat hy dit moontlik nie as ‘n problem gesien het nie, is moontlik, net soos ek nie daar ‘n probleem in sien nie. Matteus noem die “spokesperson” en Markus die mense van wie die versoek eintlik gekom het.

Leon: 3. Om watter rede kon die skribent van Matteus nie ‘n draai geloop, sy bene gerek en nagelaat het om die gedeelte rakende die die doop met sy terugkeer aan te teken nie?

Herman: Dit raak die hele saak wat ek hierbo genoem het. Indien wat jy vra ‘n verklaring wil aanbied as sou die sinsnede uit die oorspronklike “korrekte” weergawe “uitgelaat” was, sit jy met oneindige probleme. Dan moet jy ook ‘n logiese verklaring daarmee saamgee van waarom daar geen “korrekte” weergawe voor die jaar 800 n.C. oorleef het nie, en waarom niemand hierdie “korrekte” weergawe gebruik het as bron vir vertalings nie, en ook waarom geen kerkvader ‘n “korrekte” kopie besit het om aan te haal of in sy kommentaar op te neem nie. Gee my hiervoor logiese verklarings en ek gee jou gelyk dat die oorspronklike outografie wel die verwysing na die doop in kon gehad het.

Leon: 4. Is dit nie meer sinvol dat ‘n weglating, wat nie met opset gedoen was nie, toegereken kan word eerder as ‘n aanvulling wat doelbewus gedoen moes wees? Gedagtig aan die die erns van die taak van hierdie monnike moet onskuldige weglatings liefs die rede wees van onakkuraatheid as aanvullings!

Herman: Inderdaad het toevallige weglatings voorgekom. Dit is presies wat gebeur het in 1 Johannes 2:23 waar die tweede deel van die vers per ongeluk uitgelaat is uit die Textus Receptus, en daarom nie in die King James of in die 1933/53 vertalings voorkom nie. Daar sê dit net: “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.” Die tweede deel wat uitgelaat is, lui: “Wie die Seun erken, erken ook die Vader.”

In die manuskripte is daar heelwat voorbeelde van haplografie (waar ‘n deel per toeval uitgelaat is), en dittografie (waar ‘n deel gedupliseer is). Hier in Matteus 20:22-23 het ons eerder met harmoniëring te doen, waar ‘n kopieerder die deel wat hy kopieer het, met ‘n ander deel in die Bybel wou laat ooreenstem.

Seën,

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Betroubaarheid van Teks, Textus Receptus, Verskille: Beoordelingsfoute, Verskille: Geheue. Bookmark the permalink.

One Response to 94. Hoe ontstaan ‘n harmoniërings verandering? Matteus 20;22-23

  1. Pingback: Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s