9. Die Kanon.

Die bepaling van die kanon

Onder “Kanon” verstaan ons die geskrifte wat as riglyn of meetstok vir ons geestelike lewe aanvaar kan word. In die Nuwe Testament is dit die 27 boeke wat in ons Bybels opgeneem is.

Die eerste lesers, kopieerders asook vertalers van die geskrifte waaruit Nuwe Testament bestaan, het hierdie geskrifte aanvanklik nie as woord van God gesien nie. Vir hulle was slegs die Ou Testament die woord van God, en veral die Griekse vertaling wat hulle algemeen gebruik het, bekend as die Septuagint (LXX). Die kanon van die Ou Testament was op daardie stadium ook nog nie afgesluit nie. Wat vandag as die Nuwe Testament aanvaar word, het hulle gesien as geskrifte van die apostels en ander gelowiges wat die Christelike geloof verduidelik. Vir hulle was slegs die Ou Testament “woord van God”. Veranderinge en “verbeteringe” wat ‘n koopieerder as noodsaaklik beskou het, is wel in die Nuwe Testamentiese geskrifte aangebring.

Vir baie eeue is die meeste geskrifte ook net as enkel dokumente afsonderlik, of as versamelde bundels gedupliseer, en nie as die hele Nuwe Testament soos ons dit vandag ken nie. Kodekse wat die meeste of al die dokumente van die Nuwe Testament bevat, het eers na 300 n.C. in gebruik gekom, en selfs dan nog is byvoorbeeld Openbaring nie altyd ingesluit nie, selfs tot nà die finalisering van die kanon. Spelfoute of geografiese regstellings, asook name van dorpe of plekke kon daarom met redelike gemak “reggestel” word.

Hoewel hierdie benadering tot die Nuwe Testamentiese geskrifte baie van die variasies tussen die manuskripte van dieselfde boek kan verklaar, is die verskille feitlik altyd van minder ernstige aard. Waar het Jesus die besetene wat tussen die grafte gewoon het, genees? Was die dorp se naam Gadara, Gergésa of Gerasa? (Vergelyk Mat.8:28, Mk.5:1 en Luk.8:26) Waar dit ookal was, dit maak geen verskil aan die korrektheid van die inhoud van die gebeurtenis nie. Doelbewuste veranderinge word later in groter detail behandel. Dis egter belangrik dat ons verstaan waarom sulke veranderinge wel aan die begin gedoen kon word.

Ons kan God net dank dat Hy self oor sy woord waak sodat ons vandag met feitlik algehele sekerheid die suiwer boodskap en bewoording kan vasstel.

In die tyd wat die Nuwe Testament ontstaan het, en veral in later jare het verskeie ander skrywers ook hul eie geskrifte neergeskryf. Hierdie geskrifte noem ons apokriewe geskrifte. Sommige van hierdie geskrifte het groot waarde en kom in inhoud en benadering baie met die Nuwe Testamentiese geskrifte ooreen. Maar daar is werklik geen nuwe kennis of insigte wat uit daardie geskrifte tot die Nuwe Testament toegevoeg kan word nie. Aan die ander kant is heelwat van die verhale of “wonderwerke” wat daarin vermeld word, van so ‘n aard dat dit nie as eg aanvaar kan word nie. Dikwels het van hierdie skrywers gepoog om “geloofwaardigheid” aan hul geskrifte te heg deur dit onder die naam van een of ander apostel te versprei. So ‘n geskrif word ‘n pseud-epigraaf genoem. Paulus waarsku reeds in 2Tes.2:2 teen “…’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees.” Daar was immers van die begin af ook valse leraars wat binne die gemeentes gewerk het. (Hand.19:11-16, Fil.1:15-17, 1Joh.4:1-6)

Die leiers in die vroeë kerk het voortdurend al die verskillende geskrifte geweeg en getoets. Sodoende het hulle bepaal watter as meetstok of “kanon” vir die Christelike lewe aanvaar kon word. Die 27 boeke van die Nuwe Testament is reeds in 367nC. deur Athanasius van Aleksandrië in sy paasbrief as kanon vermeld.

Die ander geskrifte vorm die apokriewe geskrifte van die Nuwe Testament, waarvan sommige so laat as 600 nC. ontstaan het.

Die probleem waarmee die kerkleiers destyds geworstel het, was om te bepaal watter van al die dokumente wat geskryf is, as rigsnoer, as kanon vir die Christelike Kerk aanvaar kon word. Buiten vir Openbaring meld nie een van die skrywers van ons Nuwe Testamentiese geskrifte dat hulle ‘n direkte opdrag van God ontvang het om iets neer te skrywe nie. God het nie uit die Hemel sommige persone opdrag gegee om sy woord neer te skryf nie! Hy het dit ook nie vir iemand gedikteer nie! En tog moes die gelowiges ernstig elke beskikbare dokument bestudeer en op die ou end daaroor ‘n besluit neem. Die apostels en Paulus het direk uit die Ou Testament gepreek, en dan verduidelik hoe dit van toepassing op Jesus sou wees. (Hand.2:14-36, Hand.7:2-53, Hand.8:35, en verder.) Justinus die Martelaar het reeds vroeg in die tweede eeu gemeld dat die “geskrifte van die apostels” elke Sondag tesame met die “profete” (die Ou Testament) in die eredienste gelees is. Die kerkleiers het mettertyd deur deeglike studie en debatvoering en gebed besef dat sekere geskrifte die geskiedenis en lering van Jesus, asook die korrekte Christelike leer akkuraat weergee. Ons kan nie anders as om die inspraak van die Heilige Gees hierin raak te sien nie, net soos die apostels reeds in Hand 15:28 erkenning gee deur te verklaar: “Die Heilige Gees en ons het besluit…” Die bepaling van die kanon is onder leiding van die Heilige Gees en in gebed bepaal. Die kerkleiers het die verduideliking van die geloof, soos dit deur die apostels en Paulus gedoen is, aanvaar as riglyn. Niks meer is nodig nie. Hulle het besef dat van die ander geskrifte ernstige verdraaiings van die waarheid bevat. Sodoende het die gelowiges self bepaalde geskrifte aanvaar en ander verwerp. Sommige dokumente is as apokriewe geskrifte van die begin af, eenkant toe geskuiwe. Baie van hulle het as interessante leesstof voortbestaan en is gevolglik ook gedupliseer. Enkele van die meer belangrike apokriewe geskrifte is selfs saam met die Bybelboeke in dieselfde bundel gedupliseer, en gewoonlik agter ingevoeg. Elke kerk het sy eie kanon bepaal. So het dit gebeur omdat die Rooms Katolieke Kerk, die Oosters Ortodokse Kerk asook die Koptiese Kerk in Afrika elk hul eie kanon bepaal het. Die stryd om die kanon te bepaal het tot na hervorming voortgeduur. Martin Luther het self ook probleme met sommige boeke gehad, o.a. Hebreërs, Jakobus, Judas en Openbaring.

Die eerste amptelike vergadering van biskoppe wat besluit het watter groep boeke húlle as kanon vir die Rooms Katolieke Kerk sou aanvaar, was die Sinode van Hippo in 393 n.C. Hulle het die 27 boeke van ons Nuwe Testament asook die Septuagint vertaling van die Ou Testament as kanon aanvaar. Een van die hoof maatstawwe vir die Nuwe Testament was dat die geskrif deur ‘n apostel geskryf moes wees. Hierdie reël het byna die Hebreërbrief in die slag laat bly. Gelukkig het die Sinode verkeerdelik aanvaar dat Paulus dit geskryf het, en is dit wel ingesluit. Niemand weet wie werklik die skrywer was nie, maar volgens onder andere taal, styl, woordgebruik en beredeneringstegniek was dit beslis nie Paulus nie. Ons kan net die Here dank dat dit nie verlore geraak het nie. Die 27 boeke van ons Nuwe Testament word deur al die Christelike kerke as kanon aanvaar. Sommige Kerke aanvaar ook enkele ander boeke, soos die “Didache”, die evangelie van Barnabas en die Herder van Hermas.

Seën

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Apokriewe, Inspirasie deur Heilige Gees, Kanon, Ontstaan van NT, Septuagint. Bookmark the permalink.

14 Responses to 9. Die Kanon.

  1. Pingback: 35 Apokriewe | Bybelverskille

  2. Pingback: 25. Antieke Vertalings en die Kerkvaders. | Bybelverskille

  3. Pingback: 24. Griekse Manuskripte | Bybelverskille

  4. Pingback: 22 Die Eerste Gedrukte Griekse NT. | Bybelverskille

  5. Pingback: 15. Foutiewe sien, 2: Haplografie en Dittografie. | Bybelverskille

  6. Pingback: 1. Direkte Vertaling | Bybelverskille

  7. Pingback: 3. Parafrase | Bybelverskille

  8. Pingback: 21.2 Leerstellige Oorwegings | Bybelverskille

  9. Pingback: 23.4 Bisantynse Tekstipe | Bybelverskille

  10. Pingback: 23. Tekstipes. | Bybelverskille

  11. Pingback: 18. Geografiese en Harmonierings Veranderings | Bybelverskille

  12. Pingback: 51. Comma Johanneum. 1Johannes 5:7-8 | Bybelverskille

  13. Pingback: 37 Vergifnis. Markus 11:26 | Bybelverskille

  14. Pingback: 54. Die vrou in Owerspel betrap. (Joh.7:53-8:11) | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s