23. Die oorsprong van Tekstipes.
Dit is algemeen bekend dat die woord “Bybel” afgelei is van “biblia” wat boeke of biblioteek beteken. Die Bybel is inderdaad ‘n versameling van boeke. Soms besef ons nie dat elkeen van hierdie boeke ‘n lewe van hul eie gehad het nie. Eers op ‘n later stadium is die briewe van Paulus in een bundel versamel, insluitend Hebreërs. So is ook die briewe van Jakobus tot Judas saamgevoeg as die bundel van die algemene briewe. Aanvanklik is afskrifte van die oorspronklike dokumente gemaak. Later, veral nadat die kodeks in gebruik geneem is, is hierdie dokumente in groeperings van geskrifte saamgevat soos: die evangelies (e); Handelinge (a); Pauliniese briewe (p); Algemene briewe (c); en Openbaring (r). Reeds in ‘n vroeë stadium het daar variasies, foute en doelbewuste veranderinge in sommige afskrifte ontstaan. Wanneer die evangelies byvoorbeeld in een bundel saamgevoeg is, het die verskillende evangelies verskillende kenmerke vertoon. So kon Matteus van een tekstipe wees, en Markus van ‘n ander. Hierdie samestellings is dan as ‘n enkele dokument verder gekopieer. Later het kodekse wat die hele Nuwe Testament bevat het, gedien as basis vir verdere kopieë.
Dit is verstaanbaar dat iemand ‘n dokumente wat geografies die naaste aan sy tuisdorp was, sou gebruik as bronteks om sy afskrif van te maak. Enige variasie, byvoeging of fout in hierdie bronteks sou gevolglik oorgedra word na die nuwe kopie, en so verder na volgende kopieë. Dit het daartoe gelei dat bepaalde groeperings van teksgetuies ontstaan het met spesifieke karaktereienskappe wat tans maklik bestudeer en uitgeken kan word. Hierdie groepe tekste of tekstipes word vernoem na die hoofsentrum waar hulle ontstaan het. Vandag kan ons die bewoording van verskillende tekstipes met die oudste papirus dokumente vergelyk. Dit help ons om met ‘n groot mate van sekerheid die oorspronklike teks vas te stel. Hoogs opgeleide kenners het ‘n stel universeel aanvaarde basiese beginsels en kriteria saamgestel, gerugsteun deur toepaslike prosesse, om tekstipes te evalueer. Hierdie reëls is nie net in die Nuwe Testament getoets nie, maar ook in talle ander antieke tekste, en word universeel aanvaar en toegepas. Dit geld ook die delikate kuns om elke variasie te evalueer. Die manuskripte van die Nuwe Testament word in die volgende tekstipes gegroepeer: Aleksandrynse tekstipe, die Westerse tekstipe, die Sesarea-tekstipe (Of Sesareaanse tekstipe, Engels: Caesarean text type) en die Bisantynse tekstipe.
Ons kyk na elke tekstipe afsonderlik.
Seën
Herman.
Pingback: 39. Gebed en vas? Markus 9:29 | Bybelverskille
Pingback: 37 Vergifnis. Markus 11:26 | Bybelverskille
Pingback: 36 Beskrywing van die hel afgewater?. | Bybelverskille
Pingback: 21. Doelbewuste veranderings | Bybelverskille
Pingback: 13. Vasstel van die Teks. | Bybelverskille
Pingback: 42. Maansiek? Mat.17:15 | Bybelverskille