26. Die Beoordeling van Variasies.

Die beoordeling van Verskillende Lesings

Elke gelowige wil graag weet wat God in sy woord aan ons laat skryf het. Daarom maak elke gelowige erns met die Bybel.

Hand.9, Griekse NT van die United Bible Societies

Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Omdat Grieks nie ons gebruikstaal is nie, is ons genoodsaak om ‘n vertaling in Afrikaans te gebruik.

Elke vertaling is ‘n poging om die oorspronklike so getrou moontlik weer te gee. Sommige lê groter klem op die betekenis, ander probeer die vorm en woordspeling van die Grieks weergee, maar nie een kan die Grieks presies weergee nie. Ons het ook geen oorspronklike geskrif van die eerste skrywer nie, slegs kopieë van kopieë. Maar dit is juis deur onvolmaakte woorde, opgeteken en voortgedra deur onvolmaakte mense, dat God besluit het om met ons te praat. En selfs dan nog spreek Hy elkeen telkens uniek aan binne sy eie onvolmaakte leefwêreld.

As ek persoonlik na die Bybel kyk wat ek het, is daar sekere sake waaroor ek graag ‘n duideliker antwoord van God wil hê. Daar is sekere teksverse wat ek ‘n bietjie anders sou wou skryf. Daar loop uitsprake van mense rond wat ek graag in die Bybel sou wou vind, maar my Bybel het dit nie in nie. Daar is teksverse wat ek ín die Bybel sou wou hê, en ander verse wat ek graag sou wou skrap. Die uitdaging vir die ernstige gelowige is om ‘n teks te vind wat sover moontlik die oorspronklike outografie bevat. ‘n Teks wat daarom vry is van enige manipulasie, invoegings of weglatings deur die een of ander priester, kopieerder of vertaler van die Bybel. Wat ookal die rede vir veranderinge, hoe goed ookal bedoel, ek wil dit nie hê nie. Ek wil die woord van God hê so na aan wat God laat neerskryf het, en so verstaanbaar in my taal as wat moontlik is. Al is ‘n vers vir my hoe kosbaar, as iemand anders dit geskep het en dit nie oorspronklik deel van God se woord was nie, wil ek dit nie in my Bybel hê nie. Al is ‘n vers vir my hoe onaanvaarbaar, of al gee dit aanstoot, as dit deel van die oorspronklike woord van God was, wil en nie hê iemand anders moet dit namens my uit die Bybel verwyder nie. Daarom vra die gelowige telkens: “Wat het God regtig vir ons laat neerskryf en wat nie!”

‘n Ander vraag is wat wel as woord van God beskou moet word, en wat nie. Is net die woorde wat God of Jesus self uitgespreek het, woord van God? In sommige Bybels word die direkte woorde van Jesus of die Vader in rooi gedruk. Soms kan mens egter in die Grieks nie duidelik aflei waar die presiese woorde wat aangehaal is, ophou en waar die evangelie-skrywers se eie beskrywing aangaan nie. Dan is die bybelvertaler genoodsaak om ‘n keuse te maak. Is die gedeelte wat deur die vertalers gekies is as direkte aanhaling, korrek gedoen, of los hulle van Jesus se woorde uit? Plaas hulle moontlik van die evangelie-skrywers se woorde in Jesus se mond? Hieruit vloei die vraag of die ander woorde, byvoorbeeld die geskiedenis of omstandighede waarbinne Jesus iets gesê het, op ‘n laer vlak staan, of is dit ook woord van God?

Die idee om sommige woorde verskillende kleure te skryf, kry ons die eerste keer in die minuskule kodeks 16 van die Evangelies, gedateer ongeveer 1350 n.C. “The general run of the narrative is in vermilion; the words of Jesus, the genealogy of Jesus, and the words of angels are in crimson; the words quoted from the Old Testament, as well as those of the disciples, Zachariah, Elizabeth, Mary, Simeon and John the Baptist, are in blue; and the words of the Pharisees, the centurion, Judas Iscariot, and the devil are in black. The words of the shepherds are also in black, but this may well have been an oversight.” (Metzger, p.66)

Aansluitend hierby is die vraag na die skrywers van die woord van God. Het alleen die geskrifte wat deur die evangeliste en apostels geskryf is, Bybelse gesag? Wat van die Hebreërbrief waarvan ons nie eens weet wie die skrywer was nie? Daar is redelike eenstemmigheid onder ernstige bybelgeleerdes dat bv. die insident tussen Jesus en die vrou wat in owerspel betrap is, nié deur Johannes neergeskryf is nie. Maar tog is dit absoluut eie aan Jesus! As iemand anders dit dan neergeskryf het, en dit later in die evangelie van Johannes ingeskryf is, moet ons dit verwerp nèt omdat Johannes dit nie self neergeskryf het nie? Ons behandel hierdie deel uit Joh.8 later in detail. Dieselfde geld ook die einde van Markus se evangelie. (Mk.16:9-20.)

Maar ‘n belangriker vraag is of ons gedeeltes as woord van God kan aanvaar indien dit honderde jare later eers ontstaan het, en op een of ander manier in die Bybel beland het! Kan latere toevoegings tot die oorspronklike geskrifte deur byvoorbeeld kerkvaders uit die eerste eeue, ook as kanon of maatstaf aanvaar word, of het die afsluiting finaal plaasgevind met die afsluiting van die geskrifte van die apostels en evangeliste?

Daar is heelwat verskille tussen die 1933- en 1983-vertalings. Soms kom hele teksverse, wat wel in die ouer vertaling bestaan, nie in die 1983-vertaling voor nie. Hierdie tendens kom in die meeste tale voor. Verteenwoordig die betrokke verse invoegings in die ouer vertalings, of is dit weglatings uit die nuwer vertalings?

Wanneer ons krities alle en elke verskil tussen die ouer vertalings van die Bybel met die nuwer vertalings bestudeer, is daar nie een enkele geloofs-leerstelling of Bybelse begrip wat in die twee vertalings anders gesien of anders geïnterpreteer moet word nie. Geen waarheid in die Bybel hang ook van net ‘n enkele teksvers af nie. Nie eens die teksvers oor die Drie-Eenheid van God, (1Joh.5:7-8) is bepalend vir die leer oor die Drie-Eenheid of vir die verstaan daarvan nie. 1Joh.5:7-8 word baie verskillend deur die twee Afrikaanse Bybels vertaal. Die leer oor die Drie-Eenheid hang egter nie van die 1933-vorm hierdie enkele teksvers af nie. Die Drie-Eenheid loop soos ‘n goue draad vanaf Genesis regdeur die Bybel tot by Openbaring.

Tekskritiese apparaat van Hand8:37, met die drie hoof variasies omkring

Ter wille van duidelikheid plaas ek hier ‘n kopie van die tekskritiese apparaat soos dit in die teks van die United Bible Societies gepubliseer word. Heel eerste word al die manuskripte aangedui waarin vers 37 nie voorkom nie. Dan, met rooi omkring die eerste variasie soos in die 1933/83 Ou Afrikaansae vertaling. Vervolgens twee verdere variasies. Neem ook in ag dat by elk van die variasies, kleiner variasies ook voorkom!

Met die koms van die eerste gedrukte Griekse teks is algemeen aanvaar dat dit die oorspronklike Griekse teks foutloos weergee. Eers nadat dit bestudeer en met ander tekste vergelyk is, het dit duidelik geword dat dit nie die beste Griekse manuskripte verteenwoordig nie. Mense het in daardie tyd ‘n bepaalde teks gekies as die korrekte, en dan variasies in ander tekste as afwykings van die teks beskou. Die huidige benadering van die Bybelgenootskappe is dat nie net ‘n enkele manuskrip gebruik word nie. ‘n Griekse teks word uit al die beskikbare manuskripte saamgestel, en al die verskillende weergawes word in tekskritiese nota’s onder aan die bladsy gedruk. Nou kan bybelvertalers en enigiemand met ‘n kennis van Grieks, die voorgestelde teks lees en al die ander moontlike variasies bestudeer en evalueer. Eers dan word ‘n keuse gemaak.

Hieronder is ‘n uittreksel van die tekskritiese notas op Handelinge 8:37 soos wat dit in die “United Bible Societies” se teks aangegee word. Die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se saamgestelde teks is algemeen in boekwinkels beskikbaar. By elke variasie van ‘n teksvers gee hulle ook ‘n evaluering van A tot D as ‘n aanduiding van hoe sterk hulle die gekose teks onderskryf. A dui daarop dat die gekose teks verseker die korrekte is. B dui op ‘n geringe mate van onsekerheid terwyl C op groter twyfel dui. ‘n D kom basies daarop neer dat die twee lesings gelyke moontlikheid vertoon om die korrekte te kan wees.

Selfs met hierdie middele tot hul beskikking word die teks van die Bybelgenootskappe nie afgedwing nie, maar het die vertaler alle feite tot sy beskikking sodat hy ‘n ingeligte besluit kan neem.

Wees geseënd!

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Kanon, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

29 Responses to 26. Die Beoordeling van Variasies.

  1. Hans Matthysen says:

    Die probleem met die nuwe vertalings is, dat hulle vertaal word om ‘n dogma te pas wat nie noodwendig korrek is nie.

    • Hans, baie dankie vir jou uiters belangrike opmerking.
      Die gevaar om ‘n vertaling “aan te pas” om by ‘n bepaalde dogma te pas, is ‘n wesentlike gevaar! Daarom waardeer ek jou vraag so baie.
      Ek is oortuig dat jy sekere sake reeds raakgesien het waaroor jy en ook baie ander mense twyfel, maar dit nie op skrif stel nie. Gee dit asseblief deur sodat ons die feite op die tafel kan sit. As daar mense is wat met die Woord van God speel of selfs goël om hul dogma’s te bevorder, moet ons dit aan die kaak stel voordat die volgende amptelike vertaling oor ‘n jaar of twee gepubliseer word. As dit eers op die mark is, koop mense dit en word daardeur beïnvloed! Dis beter om so iets vooraf te keer.
      En dit is waaroor hierdie blog gaan. Ons wil die feite op die tafel sit en die verskille objektief bestudeer sodat ons kan weet wat God self vir ons laat skrywe het. Wees geseënd!
      Herman.

  2. Hans Matthysen says:

    Herman, kyk net na Jes. 9 v 5:
    Jes. 9 v 5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
    Eerstens, volgens die nuwe vertaling word “Kind” verander na “Seun”.
    Enige vroulike of manlike lidmaat, aan die liggaam van Christus, word weer gebore, dus pas die woord “Kind” en Christus word dan deel van een se lewe en daarom volg die woord “Seun” wat gegee word.
    Tweedens, is die komma weggelaat tussen “Wonderbaar” en “Raadsman”. Dit is verander na “Wonderbare Raadsman”. Daar is dus nou net vier punte en nie meer vyf nie. Die Bethlehem stêr het vyf punte en nie vier nie. Die regter hand van God het vyf punte en nie vier nie. Simbolies gesien, is die Ou Vertaling dus korrek en die Nuwe Vertaling ‘n afgewaterde weergawe.

    • Beste Hans
      Baie dankie vir you belangrike navraag.
      Oor die Nuwe Afriaanse Vertaling se verandering van “kind” na “seun” stem ek met jou saam. In die Hebreeus word inderdaad twee verskillende woorde gebruik waarvan die eerste (jeled) net beteken iets wat gebore is, dus ‘n kind of nageslag, of seun. Dit staan wel in die manlike vorm, en kan dus as “seun” vertaal word. Maar “kind” is ‘n beter vertaling as “seun”. Die tweede woord (ben) is “seun”. Die AOV is beter as die nuwe vertaling. Ek gee dit deur aan die Bybelgenootskap.
      Oor “Wonderbaar” en “Raadsman” het ons met ‘n bepaalde taalstrutuur te doen. In die Hebreeus staan Wonderbaar as ‘n bepalende beskrywing van Raadsman, op dieselfde wyse as wat Sterke to God staan en Ewig tot Vader. Selfs die “Complete Jewish Bible” vertaal dit ook so: “Wonder of a Counselor, Mighty God, Father of Eternity, Prince of Peace”.
      Terloops, hoe weet ons dat die ster van Betlehem 5 punte het en nie 7 nie?
      Jou vraag plaas ‘n ander belangrike saak op die tafel: Moet ons die vertaling aanpas om met hoe ons glo in te pas (m.a.w. ons teologie of dogma), of moet ons suiwer taalkundig vertaal wat daar geskrywe staan, en dan ons teologie of dogma daarvolgens beoordeel? Wat sê jy?
      Seën!
      Herman.

  3. Hans Matthysen says:

    Herman, ek sou dink dat die “Wonderbaar” dui die “Hoëpriesterskap” aan wat vir ewig staan. Die “Raadsman” dui weer vir my die “Profeet” aan en “Sterke God” dui weer vir my die “Evangelis” aan. “Ewige Vader” dui weer die goeie “Herder” aan en die “Leeraar” dui weer die “Vredevors” aan. Emanuel beteken “God met ons” en dus lyk so ‘n Bethlehem stêr soos ‘n mens. Twee arms twee bene en ‘n hoof wat my vyf punte van die stêr gee. ‘n Mens kan dus ‘n stêr wees wat lig bring in die duisternis deur sendingwerk.
    Ek sou sê, dat so ver moontlik, behoort die vertaling suiwer taalkundig te wees anders gaan elke groep wat ‘n ander dogma volg, hul eie vertaling van die Bybel hê, soos wat dit reeds deesdae die geval is. Die Bybel, nuwe vertalings, is dus nie meer die “Bybel” nie.

    • Hans,
      Verstaan ons mekaar reg?
      Jy sê: “dat so ver moontlik, behoort die vertaling suiwer taalkundig te wees anders gaan elke groep wat ‘n ander dogma volg, hul eie vertaling van die Bybel hê…”
      Dit is juis die punt. Taalkundig staan daar: “Wonderbare Raadsman”. Selfs die Joodse eie vertaling vertaal dit so!
      Jou dogma skei die twee as dat “Wonderbaar” op Hoëpriesterskap” moet dui, en “Raadsman” op “Profeet”. Maar dis jou dogmatiese interpretasie van die twee woorde, Is daar Bybelse gronde om hierdie woorde so te interpreteer, of dit so te skei?
      Dieselfde geld die verbinding van “Sterke God” met “Evangelis”, en “Ewige Vader” met “Herder”, en “Vredevors” met “Leeraar” .
      Dit is ‘n mooi teologie en ‘n mooi toepassing, maar is dit wat taalkundig in die Hebreeus staan?
      As iemand anders kom en bv. “Sterke” met God se “voorsieningheid” verbind, en God met sy “almag”, en “Ewig met Jesus se “oorwinning oor die dood”, en “Vader” met sy “Wederkoms” dan het ons op jou toepassing ‘n “Sewepunt Betlehem Ster” en moet ons daardie woorde ook skei. Op grond waarvan sê ons daardie ou is verkeerd?
      Taalkundig het ons 4 kenmerke:
      1. ‘n “Wonderbare (wonderwerkende) Raadsman”
      2. ‘n “Sterke (sterk soos) God”
      3. ‘n “Ewige (ewigdurende) Vader”
      4. en ‘n “Vredevors, (‘n Vors wat vrede bewerk)”!

      Dankie vir die saamdink en saamworstel met die vertaal van die Woord van God soos Hy dit vir ons gegee het.

      Seën

      Herman

  4. Hans Matthysen says:

    Herman, jy weet, en ek weet, dat die ou vertaling meer korrek is en dat dit nie onkundige mense was, wat die vetalings gedoen het nie. Die nuwe vertalings is ‘n geldmaak saak onder valse voorwensels. Ek het ook al ander wilde vertalings gesien, wat veral van Amerikaanse gelowe afkomstig is. My Joodse en Griekse vriende verskil met jou waar een hulle versoek om die Griekse of Hebreërse betekenis van die teks, te verduidelik. Dit wil voorkom of een die konteks waarin die teks geskryf is, moet verstaan, om die beste vertaling te kry. Mens moet nie oorgelaat word aan keuses, wat dan die gevolg is, van dogmatiese vertalings. Ek kan dan net sowel die Jahowa Getuies se vertaling aanvaar, sou ek al hierdie nuwe vertalings aanvaar.

    • Hans,
      Ek aanvaar geen vertaling somer maar net as “meer korrek” as ‘n ander sonder om die feite te ondersoek nie.
      By enige vertaling moet ons eers vasstel watter woorde oorspronklik neergeskryf is en wat later bygevoeg of uitgelaat is.
      Wanneer ons al die veranderinge wat aan die teks aangebring is, reggestel het, en die beste moontlikheid het om die oorspronklike teks voor ons te hê, moet ons vertaal wat daar staan. Daarin mag ons ons nie laat beïnvloed deur ons persoonlike voorkeure of interpretasies nie. Eers daarna kan ons begin kyk na die verstaan en toepas van die teks.
      Sodra ek die vertaling “aanpas” om by my verstaan van die teks in te pas, het ek met ‘n dogmatiese vertaling te doen.
      Dit is wat gebeur wanneer ek Jes.9:5 wil indwing in 5 stellings, terwyl daar taalkundig net 4 stellings neergeskryf is.

      Seën
      Herman.

  5. Hans Matthysen says:

    Nouja Herman en so gaan ons kort, kort nuwe vertalings kry wat heeltemal verskil van Bybels wat in ander tale oor die wêreld gevind word. Soos dit deesdae reeds is, het dit nou werklik ‘n sirkus geword. Die ou vertalers het minstens by die grondteks gebly. Gee maar vir my die ou vertalings want hulle maak vir my beslis meer sin.

    • Baie dankie Hans vir die verwysing na die webblad.
      Ek vind die sg. Skokkende Bybelstudie uit die 1983-vertaling deur ds. Jan Bekker besonder interessant. Ek is nie sodanig geïnteresseerd om ‘n studie te maak uit dit wat nie in die Bybel voorkom nie, maar eerder waarom? Ek sal mettertyd van die meer belangrike weglatings in diepte bestudeer en die feite op die tafel sit. My benadering is dat wat Jesus gesê het, is van kardinale belang. Maar as die een of ander monnik of Roomse priester 500 jaar later woorde in Jesus se mond lê, kan die belangrik wees, maar dis nie Woord van God nie. Maar dit sê ek sonder dat ek nog die feite onder oë gekry het. As daar iets is wat jy graag wil hê ek eerste moet hanteer, gee dit asseblief deur. Kyk ook gerus na die feite rondom die slot van die “ons Vader-gebed” wat ek hier hanteer het en gee my jou opinie daaroor. Dit sluit aan by Ds. Bekker se tweede vraag.
      Seën
      Herman

  6. Pingback: 14.1 Sinaitikus; Regstelling | Bybelverskille

  7. Pingback: Bybelverskille

  8. Pingback: 38. Jesus tussen die Misdadigers! | Bybelverskille

  9. Pingback: 32 Jesus vermaan die Fariseërs. | Bybelverskille

  10. Pingback: 30 Soek die Here, ten spyte van. | Bybelverskille

  11. Pingback: 22 Die Eerste Gedrukte Griekse NT. | Bybelverskille

  12. Pingback: 15. Foutiewe sien, 2: Haplografie en Dittografie. | Bybelverskille

  13. Pingback: 13. Vasstel van die Teks. | Bybelverskille

  14. Pingback: 3. Parafrase | Bybelverskille

  15. Pingback: 18. Geografiese en Harmonierings Veranderings | Bybelverskille

  16. Pingback: 21.1 Uitbreiding van die Teks | Bybelverskille

  17. Pingback: 44 Wie kom moeilik in die Koninkryk van God? | Bybelverskille

  18. Pingback: 48. ‘n Onwaarskynlike Getuie | Bybelverskille

  19. Pingback: 50 Vrou in die Amp: Is 1Kor.14:34-35 ‘n Glos? | Bybelverskille

  20. Pingback: 50. Vrou in die Amp. | Bybelverskille

  21. Pingback: 56 Klere was of Gebooie doen? | Bybelverskille

  22. Pingback: 66 Handelinge 28:29 | Bybelverskille

  23. Pingback: 71 Is die Textus Receptus onfeilbaar? | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s