44 Wie kom moeilik in die Koninkryk van God?

44 Wie kom moeilik in die Koninkryk van God?

Image from Flickr

Daar is tye wanneer die Bybelvertaler ‘n uiters moeilike keuse moet maak. Wat doen jy wanneer jy gekonfronteer word met ‘n variasie in die teks waarvan die manuskripbewyse feitlik ewe swaar weeg? Die maklike uitweg is om te bly by dit waaraan mense gewoond geraak het en te bly by die keuse van vorige vertalings. Ten minste spring jy kritiek vry! Maar ‘n verantwoordelike vertaler moet alles in sy vermoë doen om vas te stel watter variasie die grootste moontlikheid het om die oorspronklike woorde wat neergeskryf was, vas te stel. Die woorde wat donker gedruk is in hierdie aanhaling uit die 1933/53-vertaling kom nie in die 1983-vertaling voor nie.
AOV: Markus 10:24 “En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!”
ANV: Markus 10:24 “Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: ‘Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. ‘ ”
Kom ons kyk na alles tot ons beskikking en evalueer wat ons self sou besluit.

Ons kyk eers na die Skrifbewyse vir “…die wat op hulle goed vertrou…” in hierdie vers:

Markus 10:24:

Moontlikheid Uitgelaat: Ingevoeg:
Getuies Grieks: Vertalings Kerkvaders Grieks Vertalings Kerkvader
101-200 Diatessaron
201-300 Sahidies Clementus
301-400 א, B 1 Oud Latyn, Bohairies 1 Oud Latyn, Vulgaat, 3 Siries, Bohairies Goties
401-500 A, C, D 3 Oud Latyn, Armeniaans, Georgiaans
501-600 Oud Latyn
601-700 3 Oud Latyn
701-800 Ψ
801-900 Δ K, X, Π, Θ
901-1000
1001-1600 f1, f13, 19 Minuskules

By die evaluering van variante het ons drie kreteria wat ons kan help om ‘n keuse te maak.
1. Eksterne gegewens.
Onder eksterne gegewens word verstaan daardie feite wat uit die manuskripte self na vore kom, veral sake soos die datering van die manuskripte, die geografiese verspreiding van ‘n bepaalde variant asook die mate waarin die een ‘n afskrif van die ander sou kon wees, nl. die genealogiese verswantskap.
Wat kom uit die manuskripbewyse na vore? Let op die volgende:
i) Die oudste manuskripte wat ons van hierdie vers het, is ‘n Arabiese en ‘n Persiese vertaling van die Diatessaron (deur vier Evangelies gesien) van Tatianus. Tatianus, ‘n Siriër uit Mesopotamië het ongeveer 170 n.C. ‘n aaneenlopende verhaal van die vier Evangelies geskep, en ingevoeg of uitgelaat soos hy dit nodig geag het. Bybelkenners heg nie veel waarde aan hierdie samestelling nie, vanweë die willekeurige aard van sy samestelling. Sy dokument het egter deeglike invloed op veral daardie manuskripte wat in die Ooste ontstaan het, en spesifiek die Bisantynse Tekstipe.

ii) Wat die res van die manuskripte betref, vind ons tot die jaar 400 n.C. twee belangrike Griekse manuskripte ( א , B ) tesame met drie antieke vertalings wat die woorde nie in het nie. Daarteenoor het sewe antieke vertalings weer die woorde wel in.

Wat die eksterne gegewens betref, veral as ons die moontlike invloed van Tatianus se Diatessaron in ag neem, weeg die weglaat van die woorde ‘n klein bietjie swaarder as die invoeg daarvan.
2. Interne gegewens.
Met interne gegewens word veral gekyk na dié faktore wat by die kopieer van die manuskripte self ‘n rol kon speel. In die geval wat ons bespreek, kon die volgende faktor ‘n rol gespeel het.
Net in die vorige vers kom feitlik woordeliks dieselfde sin voor, daar met die bepaling “hulle wat goed besit” by. ‘n Kopieerder kon maklik dit onthou het en onwetend dit ook hier ingevoeg het. Daar is ‘n manuskrip wat letterlik die identiese woorde ingevoeg het. Dit kon gebeur het deurdat die oog “spring” na die vorige vers en die sinsnede herhaal word, dittografie genoem.
3. Intrinsieke gegewens.
Onder intrinsieke gegewens kyk ons na wat die skrywer of spreker, Jesus in hierdie geval, moontlik self sou gesê het. In hierdie teks speel die onmiddelike konteks ‘n belangrike rol.
Let op die volgende:
i) Die dissipels reageer op hierdie uitspraak nie met: “Watter ryke kan dan gered word?” nie. Nee, hulle sê: “Wie kan dan gered word?” M.a.w. hulle het Jesus se woorde interpreteer as dat die eise wyer strek as net vertrou op besittings, of net op rykes van toepassing sou wees!
ii) Jesus se antwoord dat dit vir mense onmoontlik is, maar wel vir God moontlik verwys weereens terug op die beeld van die kameel en die oog van ‘n naald, en nie op rykdom nie. ‘n Ryke kan sy goed verkoop, anders sou die eis aan die ryk jongman onmoontlik wees. Maar om werklik alles op te gee? Dis net met God se ingrype moontlik.
iii) Die volgende stelling is nog meer insiggewend. Petrus wou seker maak dat hulle wel self aan die eise vir dissipelskap voldoen. Daarom noem hy dat hulle alles verlaat het om Hom te volg. Dis duidelik dat Petrus hiermee te kenne gee dat dit nie meer om rykdom of besittings gaan nie.
iv) Jesus se antwoord dat volgelinge, vir wat hulle ookal opoffer, reeds in hierdie lewe beloon sal word, sluit ook nie by rykdom of die vertroue daarop, aan nie.

Gevolgtrekking.
By al drie die evaluerings kriteria weeg die uitlaat van die sinsnede swaarder as die invoeg daarvan.
Vir my lyk dit of Jesus die erns waarmee dissipelskap hanteer moet word, duidelik nie net op rykes van toepassing maak nie, maar op alle mense. In dié opsig is Jesus se versekering dat dit wel nie vir die mens moontlik is nie, maar wel vir God van belang. Elke volgeling moet in geloof en in verhouding met God sy volgelingskap uitleef.
Plaas jou ‘n oomblik in die vertaler se stoel. As jy hierdie deel moes vertaal, watter variasie sou jy kies? Wat sou jou motivering wees?

Seën,

Herman.

Gee gerus u opinie onder aan die bladsy.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Uncategorized. Bookmark the permalink.

5 Responses to 44 Wie kom moeilik in die Koninkryk van God?

  1. yfveldhuizen says:

    Dag Herman
    Betreffende weglaitngs en insluitings is dit dalk nou die tyd om jou iets oor die kanon van die NT te vra. Daar was toe al vele teksvariasies in omloop. Die tekste wat, vir alle praktiese doeleindes (cirra 390 – 400 n.C.), aanvaar was vir insluiting, het seker almal hulle oorsprong in Alexandrië en die (latere) Wes-Romeinse Ryk gehad? Toegang tot bv. Siriese tekste was seker baie beperk en ek kan geen rede sien waarom dit voorkeur sou geniet bo die ‘plaaslike tekste’ van bv. Augustinus en Athenasius nie. Dalk sou diesulkes die ander manuskripte as ten minste apokrief beskou het?Teen hierdie tyd was daar seker baie byvoegings / weglatings. Mens kan tog seker nie een teks as ge-inspireerd beskou en die ander nie, gebasseer op weglatings / byvoegings nie? Of as mens kan, watter een? Ons weet seker nie presies watter teksvariante hulle in gedagte gehad het nie. Dis seker juis die probleem – sê mens ‘n groep tekste is ge-inspireerd, hoe verantwoord mens die verskille tussen hulle wat verskille in dogma of oortuiging word? Selekteer mens net een teks, watter tydgebonde weergawe daarvan – met die tyd saam het weglatings en byvoegings mos plaasgevind. Elimineer mens net voor die voet alle latere byvoegigns, hoe weet ons dat dit nie ‘n latere “herstel an volledighei” was nadat agtergekom is daar was wegkatubgs yut ;b virieëre teks nie? Nog erger, as ons alle byvoegings net voor die voet elimineer, is ons nie besig om in die rigting van die reduksionistiese Thomas “evangelie” te beweeg nie? Of nog erger nog, Duitse hogere kritiek en die Jesus Seminaar?
    Dit klink nou alles baie akademies en stratosferies maar daar is ook die vermaning van Openb. 22:18, so ons moet baie versigtig wees.

  2. Beste vriend,
    Jy raak hier ‘n uiters belangrike saak aan.
    Vir die ernstige Christen is die vasstel van die oorspronklike bewoording van die woord van God, soos Hy dit gegee het, van uiterste belang. Dit is waarom ons nie sommer enige variasie wat in manuskripte voorkom, aanvaar en op arbitrêre wyse kies nie.
    Hierdie is ‘n baie intensiewe proses en ek gee beslis nie voor dat ek ‘n ekspert is nie. Al wat ek doen is om die feite so getrou moontlik te gee en die proses van keuse te verduidelik.
    Kortliks kom dit op die volgende neer:
    Daar word gekyk na al die manuskripte tot ons beskikking. Die Textus Receptus is gebaseer op slegs sowat ses manuskripte, (net een vir Openbaring!) terwyl die grondteks van die United Bible Societies alle variasies in meer as 5000 manuskripte, duisende antieke vertalings en aanhalings deur die ou Kerkvaders in ag neem en publiseer. Sien meer by: https://bybelverskille.wordpress.com/2011/05/30/26-die-beoordeling-van-variasies/
    Eers as jy alles voor oë het, kan jy evalueer.
    1. Kyk na die eksterne faktore wat die manuskripte self behels.
    2. Kyk na die interne faktore, soos die normale praktyk van kopieer en in watter mate ‘n fout deur die kopieerder ‘n variasie kan verklaar. Hierdie twee stappe hanteer ek meer volledig by: https://bybelverskille.wordpress.com/2011/05/30/27-maatstawwe-vir-die-evaluering-van-variante/
    3. Die derde stap is om die direkte bewoording self te evalueer en te probeer vasstel wat die oorspronklike outeur sou gesê het. Dit word die intrinsieke maatstawwe genoem. Sien meer hieroor by: https://bybelverskille.wordpress.com/2011/09/26/27-1-intrinsieke-kriteria/
    Ek het ‘n spesifieke pos gedoen waar hierdie kreterium meer prakties hanteer word by: https://bybelverskille.wordpress.com/2011/09/01/39-gebed-en-vas-markus-929/

    Dat dogmatiese invoegings of weglatings in die verlede kon plaasvind, is moontlik. Daarom moet ons alle variasies eerlik bestudeer en die “guts” hê om te verwyder of in te voeg sodat ons by die oorspronklike kan uitkom. Al is iets vir my kosbaar, As God dit nie oorspronklik laat neerskryf het nie, is dit nie deel van die Woord van God nie!

    Gee asb enige spesifieke variasie wat jy wil hê ons moet meer volledig bespreek, deur.

    Dankie vir die vraag.

    Seën

    Herman.

  3. Pingback: 50 Vrou in die Amp: Is 1Kor.14:34-35 ‘n Glos? | Bybelverskille

  4. Pingback: 50. Vrou in die Amp. | Bybelverskille

  5. Pingback: 54. Die vrou in Owerspel betrap. (Joh.7:53-8:11) | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s