50. Vrou in die Amp.

50 Vrou in die Amp.

Fotokrediet, Flickr

Is 1Kor.14:34-35 oorspronklik of later ingevoeg? (Moontlik ‘n glos?)
1Kor.14:34-35: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.“
Ek het in ‘n vorige plasing oor “gehoor en beoordelingsfoute” gewys op die “Whiley-vrugtekoek” wat in my vrou se familie vir geslagte reeds vir trou- en kersfeeskoeke gebruik word. Langs die resep in Ouma se handskrif, het iemand anders ‘n paar bestanddele bygeskryf. Is dit bestanddele wat per abuis uitgelaat is, of is dit ‘n variasie? Tant San se afskrif plaas dit saam met die vorige bestanddele wat oornag in sjerrie moet week, terwyl tant An s’n dit saam met die volgende bestanddele in die meel invryf! As ons tog maar net Ouma-Grootjie se resepteboek in die hande kon kry!
Indien ‘n woord of sinsnede wat moontlik as kommentaar in die kantlyn geskryf was, later per abuis, of met opset in die teks ingevoeg is, word dit ‘n glos genoem. Dit was nie deel van die oorspronklike dokument nie.
Tans word ‘n lewende debat oor die posisie van die vrou in Kerklike ampte gevoer. In die debat word soms beweer dat hierdie voorskrif van Paulus in 1 Korinthe 14 nie deel was van sy oorspronklike outografie nie, maar later ingevoeg is, toe die rol van die vrou deur die Kerk gering geag is. Dit sou dan ‘n glos wees wat verwyder moet word sodat die teks herstel kan word tot die oorspronklike outografie soos God dit deur Paulus laat neerskryf het.
Om ‘n glos te identifiseer, benut ons drie kriteria:
1) Eksterne kenmerke wat met die manuskripte self te doen het.
2) Interne kenmerke wat die oordra van die bewoording bestudeer.
3) Intrinsieke kenmerke wat op die skrywer self fokus. Hoe groot is die moontlikheid dat die skrywer werklik die woorde sou neergeskryf het, of nie?
Eers dan kan ‘n finale ingeligte besluit geneem word.
1) Eksterne kriteria:
i) ‘n Glos ontbreek in sommige, veral die oudste manuskripte. Hierdie voorskrif ontbreek in geen manuskrip nie, ook nie in die oudste, papirus 46 uit die jaar 200 n.C. nie. Dit ontbreek ook nie uit enige voorleesbundel, òf antieke vertaling, òf uit die aanhaling van enige ou kerkvader nie.
ii) ‘n Glos kom soms in ‘n ander Bybelboek voor. Hierdie voorskrif nie.
iii) ‘n Glos kom soms in sommige manuskripte op ‘n ander plek in die betrokke Bybelboek of hoofstuk voor. 1Kor.14:34-35 kom wel in sommige manuskripte eers nà 1Kor.14:40 voor. Dit moet nader ondersoek word.
Ons kyk na ‘n tabel wat al die bewyse vir die twee moontlikhede aandui:

1Kor.14:34-35:

Moontlikheid Soos tans: Nà 1Kor.14:40:
Getuies Grieks: Vertalings Kerkvaders Grieks Vertalings Kerkvader
101-200 P46
201-300 Sahidies
301-400 א, B Vulgaat, Boharies, Fayumies Ambrosiaster
401-500 A Armeniaans, 2 Siries D 1 Oud Latyn
501-600
601-700 1 Siries
701-800 Ψ 2 Oud Latyn
801-900 K 1 Oud Latyn Fp, Gp 4 Oud Latyn Sedilius-Scotus
901-1000 0243 + 21 Minuskules

Uit die nagaan van manuskripbewyse is die volgende duidelik:
Die enigste moontlike grond om hierdie voorskrif ‘n glos te noem, is dat ‘n verre minderheid manuskripte, vertalings en kerkvaders wel hierdie sinsnede eers nà vers 40 plaas. Dit oortuig nie. Op eksterne gegewens moet die bewering dat dit ‘n glos kon wees, verwerp word.
2) Die interne kriteria kyk na die oordra van die bewoording en kan moontlik ‘n verklaring bied waarom hierdie voorskrif wel in sommige manuskripte op ‘n ander plek in die hoofstuk voorkom. 1Kor.14:26-40 hanteer die ordelikheid in die erediens. Verse 26-28 gaan oor die gebruik van ongewone tale; 29-38 die hantering van profete en profesieë. Vs.39 neem hierdie twee elemente saam en vs.40 beklemtoon dat alles ordelik toe moet gaan. In die middel van die hantering van profesieë in die erediens, kom hierdie voorskrif voor. Hier is twee moontlike interpretasies om in ag te neem.
i) Hierdie voorskrif kan gesien word as in direkte verband met profete en profesieë in die erediens self. Dit sou beteken dat die vrou nie as profeet in die erediens moet optree nie, en indien sy iets daaraangaande te vra het, moet sy dit nie in die erediens opper nie, maar haar man tuis gaan vra.
ii) Tweedens kan hierdie ‘n tussenwerpsel oor die vrou se spreke in die erediens in die algemeen wees, nie direk met profesieë te doen het nie.
By gebrek aan nader aanduidings is albei interpretasies moontlik. Dit sou beteken dat die eerste moontlikheid geen probleem sou veroorsaak met die aanvaarding van hierdie sinsnede waar dit in die meeste manuskripte voorkom nie. Indien die tweede moontlike interpretasie aanvaar word, sou dit beteken dat hierdie voorskrif ‘n direkte breuk binne die hantering van profesieë veroorsaak, en inderdaad teenoor vers 39 staan. Dit kan verklaar waarom sommige kopieerders hierdie sinsnede liewer nà vers 40 verskuif het. Interne kriteria gee dus ‘n logiese verklaring vir die feit dat hierdie sinsnede wel op twee plekke voorkom.
Beide interne en eksterne kriteria gee geen gronde om hierdie voorskrif as ‘n glos te beskou nie.
3) Ons kyk na die intrinsieke kriteria.
i) Hier vra ons eers of die betrokke saak in ooreenstemming is met die skrywer se woordgebruik. Alles in hierdie sinsnede stem ooreen met die tipiese woordgebruik en onderwerpe wat Paulus hanteer.
ii) Vervolgens kyk ons of hierdie saak ooreenstem met die skrywer se hantering van soortgelyke situasies in die praktyk. Paulus erken wel dat vroue profeteer (1Kor.11:5). In 1Kor.11:1-16 is die konteks duidelik dat haar optrede in die erediens nie haar man in verleentheid mag stel nie, of hul huweliksverhouding mag skaad nie. Dit stem ooreen met ons sinsnede.
iii) Derdens vra ons of hierdie voorskrif ooreenstem met die skrywer se algemene opinie of uitsprake oor die aangeleentheid. Hierdie voorskrif stem ooreen met Paulus se standpunt in 1Tim.2:11-14. Ook hier is die beskerming van die huweliksverhouding ‘n onmiskenbare ondertoon.
Wat die intrinsieke kriteria betref, soos die ander twee kriteria, is daar dus ook geen gronde om hierdie voorskrif as ‘n glos te beskou nie.

Implikasies:
Ten slotte is dit nodig om die implikasie van hierdie voorskrif van nader te beskou. Waar dit tans staan, moet aanvaar word dat hierdie sinsnede direk met die vrou se optrede as profeet binne die erediens te doen het. Dit is nie ‘n algemene voorskrif wat buite konteks maar net na goeddunke benut kan word nie.

Gevolgtrekking: Daar is geen gronde om hierdie sinsnede as ‘n glos te beskou nie, maar dit moet binne konteks verstaan en toegepas word.

Seën,

Herman.

Deel gerus u kommentaar onder aan die bladsy.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Glos, Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria. Bookmark the permalink.

6 Responses to 50. Vrou in die Amp.

  1. yfveldhuizen says:

    Middag Herman.
    Dit is baie maklik om bewerings te maak, maar bewerings is nie argumente nie. Bewerings moet ten minste met bewyse ondersteun word anders verloor dit alle trefkrag en gesag. Behalwe vir die interne en eksterne kriteria wat jy aanvoer, is dit in hierdie tipe van argumente ook geoorloof om na die sosiale situasie te kyk? Bedoelende dat daar geen aanduiding is dat Paulus ooit die sosiale orde van sy tyd wou omver gooi nie. Binne die sosiale orde van die tyd het die vrou op opbare verhoë van watter aard ookal nie veel sê gehad nie. Indien dit wel so kontroveriseël was (se bv. dat die vroue net soveel spreekkans op openbre verhoë – die raadsale, howe en kerke as die mans gehad het, maar Paulus beveel dat hulle moet stilbly) dan dink ek is die kanse veel groter dat latere oorskryfwers sy stelling sou weggelaat het. Dit lyk vir my Paulus is heel in pas met die sosiale norme van sy tyd.

    Moet mens net volgens die stel kriteria wat jy gebruik redeneer of mag mens ook vanuit die sosiologie redeneer of is dit nou bietjie te veel soos die sg. Duitse hoëre tekskritiek wat meer by die Jesus Seminaar as by Gereformeerdes tuishoort?

    Ek buig voor jou meerdere kennis, Herman!🙂

  2. Yf, lekker om weer van jou te hoor!
    Baie dankie vir hierdie opmerking en vraag. Wat in jou hart leef, leef baie moontlik ook in andere se harte. Ek reageer graag daarop.
    Die vraag wat ek probeer antwoord, is of hierdie voorskrif/stelling wat ons in 1Kor.14:34-35 in ons Bybels aantref, net so aanvaar moet word, en of dit geskrap moet word. Omdat dit in sommige manuskripte eers na vers 40 aangetref word, het iemand beweer dis ‘n glos, ‘n latere byvoeging!
    Die kreteria wat gebruik word om so iets te beoordeel, is soos ek dit bespreek het. Dit gaan nie om te bepaal of Paulus met sy tydgenote saamgestem het, of met hulle verskil het nie. Dit gaan ook nie of Paulus vir vandag reg of verkeerd is nie. Dit gaan daarom of ons moet aanvaar dat Paulus self hierdie woorde oorspronklik in die brief aan die Korinthe geskryf het, en of iemand anders dit later daar ingeskryf het. Ek dink die bewyse wat ek aanvoer maak dit duidelik dat ons hierdie woorde nie as ‘n glos kan beskou nie, en dat dit inderdaad moet bly waar dit is.
    Vervolgens het ek ‘n bietjie uitgebrei oor die vraag of ons ‘n logiese rede kan vind waarom sommige kopieerders dit uitgeskuif het tot na vers 40. Ek vertrou jy aanvaar my redinasie, nl. dat dit moontlik is dat mense dit so ‘n bietjie los kan sien van die hele kwessie van profesie wat dit dan sou onderbreek.
    Ten slotte het ek gekyk na die implikasies van die plek waar dit tans voorkom. As ons dit aanvaar waar dit tans staan, is dit duidelik dat hierdie nie maar net ‘n algemene stelling is nie, maar dat dit direk in verband staan met die hantering van profesie deur ‘n vrou binne die erediens, en as sodanig hanteer moet word. As Paulus dit eers na vers 40 geplaas het, was dit ‘n algemene stelling. Maar dit het hy nie gedoen nie, en so aanvaar ons dit.
    Jy maak ‘n baie belangrike stelling as jy sê: “Indien dit wel so kontroveriseël was (se bv. dat die vroue net soveel spreekkans op openbre verhoë – die raadsale, howe en kerke as die mans gehad het, maar Paulus beveel dat hulle moet stilbly) dan dink ek is die kanse veel groter dat latere oorskryfwers sy stelling sou weggelaat het.” Beter kon ek dit nie sê nie! Dit is nog ‘n grond vir die bevestiging dat hierdie voorskrif eerder oorspronklik tot die outografie behoort, as ‘n moontlike latere byvoeging. Dis skokkend hoe mense soms die Woord wil aanpas met die geringste grashalms, veral wanneer hulle iets daar wil uithaal, of iets wat wel later ingevoeg is, wil behou.
    Die toepassing en hantering van hierdie voorskrif binne die kerk vandag, is ‘n eksegetiese vraag en val buite die skopus van hierdie blog. Maar dis die uitdaging vir elke predikant en gelowige. Om openhartig te hoor wat God vir die mense van daardie tyd binne hul situasie gesê het. En dan te bepaal wat God vir ons binne ons situasie sê. En wat die vrou in die amp betref, is dit ‘n diep en ernstige vraag! Bv. “Soos die sosiale norm buite die Kerk is, laat ek ook nie die vrou toe om binne die Kerk te praat nie.” Dan is sy bepaling beskrywend gegrond, en “maak ons in Rome soos die Romeine.”
    Daarteenoor staan die moontlikheid dat Paulus juis voorskrywend bepaal: “Hoewel my voorskrif in die huidige situasie ooreenstem met die die sosiale norm buite die Kerk, is my voorskrif nie daarop gegrond nie, maar op die Skeppingsorde wat God daargestel het.” Dan is die uitdaging vir die Kerk vandag, hoe akommodeer ons die vrou met haar talente, gawes en roeping, (ook die profetiese wat deur Paulus erken word) binne ‘n wêreld wat direk teen die Skeppingsorde ingaan? “Binne die Kerk maak ons nie soos die Romeine nie!”
    Let wel: Hier is twee kernvrae op die tafel: 1. Is die bepaling van God via Paulus beskrywend, nl: “soos die norm van die wêreld, so doen julle ook!” Of is die bepaling voorskrywend, nl: “al is die norm in die wêreld ook wat, julle doen soos Ek beveel!” 2 Eers nadat die Kerk dit bepaal het, kom die tweede vraag op die tafel, nl. “Op grond van die begronding wat in die eerste vraag bepaal is, hoe akommodeer ons die vrou met al haar gawes en talente binne die Kerk en laat reg aan haar geskied?”
    Maar soos ek sê, dit val buite die skopus van hierdie blog.
    Ek bid maar net dat die GKSA met hierdie twee vrae erns sal maak voor die volgende Sinode, anders word hulle deur humanisme oorspoel soos so baie kerke in ons tyd!
    Ek vertrou ek beantwoord jou vraag.
    Nogmaals baie dankie vir hierde vraag.
    Seën!
    Herman.

  3. yfveldhuizen says:

    Hallo Herman
    Dankie vir die volledige uiteensetting van jou antwoord. Iets wat my oog gevang het, is de onderskeiding tussen “beskrywend” en “voroskrywend” Nogal ‘n belangrike bril waardeur na ander teksgedeeltes ook gekyk moet word, sou ek dink. Dankie vir die stukkie insig. Net vir my tog so jammer v ir my dit val buite die scopus van jou blog.
    Vrede en nabyheid vir jou

  4. Pingback: 54. Die vrou in Owerspel betrap. (Joh.7:53-8:11) | Bybelverskille

  5. Richard en Lea Downing. says:

    Dankie Herman vir jou insiggewende studie van die Bybel verskille. Dit bevestig net die feit dat ons nie kan maak wat ons wil nie, maar tot die letter toe aan God se opdragte gehoorsaam moet wees.

    Soos by voorbeeld, God se opdra was dat die verbondsark van God aan draaghoute op die skouers gedra moet word en nie op n wa nie, toe die osse struikkel en die verbondsark wou val het Ussa by die wa gesterf, omdat hy die uitdruklike voorskrifte van God oortree het. So moet ons ook seker maak dat ons die uitdriklike opdragte van God uitvoer en nie maak soos dit vir ons gerieflik is nie.

    So wil God dan met eerbied en ontsag gedien word en nie soos ons wil of soos die wereld wil nie.

    Baie seen op jou werk Herman.

    Groete,
    Richard en Lea.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s