51. Drie-Eenheids teks. 1Johannes 5:7-8

51. Johannese Komma, 1Joh.5:7-8

“Olifant, laat ek jou gou help!” Fotokrediet: Flickr

Ons het seker al almal stories gehoor van die muis wat vir die olifant sy hulp aangebied het.
Het God nodig dat ons Hom meer duidelik definieer as wat Hy self nodig geag het?
1Johannes 5:7-8 is seker die mees bekende verskil tussen die ouer vertalings soos die 1933/53 Bybel en nuwer vertalings van die Bybel soos die 1983 Vertaling en NLV. Boeke is al oor hierdie verse geskrywe. Nogtans nooi ek u om met ‘n oop gemoed na die werklike feite te kyk en dan ‘n ingeligte, feitgebaseerde besluit te neem.

Die woorde wat in donker gedruk is, kom nie in die 1983-Vertaling voor nie.
Ou Afrikaans Vertaling, 1Joh.5:7-8: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.”
1983-Vertaling: “Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen”

Kom ons kyk heel eerste na die manuskripbewyse.

In die tabel hier onder word alle dokumente in die tyd van hul ontstaan aangedui. Die in rooi is manuskripte waar die uitbreiding op 1Joh.5:7-8 op ‘n latere datum in die kantlyn ingeskryf is. Paleografiese studies bied onweerlegbare bewyse dat hierdie woorde eers in hierdie dokumente aangebring is nadat Erasmus se derde uitgawe (1522) met hierdie uitbreiding in, beskikbaar geword het.

1Joh.5:7-8

Variasies: Verse 7-8 soos in die Bybel ‘n Direkte Vertaling: Verse 7-8 soos in die 1933-Vertaling:
Bronne: Grieks: Vertalings: Kerkvaders: Grieks: Vertalings: Kerkvaders:
101-200
201-300 Sahidies Ireneus, Clementus,
Tertullianus, Hippolitus, Origenus, Cyprianus, Dionisius
301-400 Sinaïtikus, Vatikanus Bohairies Hilarius, Lucifer, Athanasius, Basilius, Faustinus, Gregorius-Nazianzus, Ambrosius, Didimus Varimadum,
Priscillian
401-500 Aleksandrinus, 1 Unsiale manuskrip Siries, Armeniaans, Etiopies Epifanius, Chrysostomos,
Hieronimus, Augustinus, Cyrel-Aleksandrië
Cassian
501-600 Pseudo-Athanasius Fulgensius
601-700 Siries Oud Latyn
701-800 Athous Laurae Ansbertus
801-900 Siprius, Porphyrianus Unsiale manuskrip Minuskul 33 1 Oud Latyn, Slawies
901-1000 2 ander unsiale manuskripte, 1 Minuskule
1001-1100 7 Minuskuls, Bisantynse Leesbundels
1101-1200 5 Minuskuls, Ms.88 1 Oud Latyn
1201-1300 2 Minuskuls Arabies 3 Oud Latyn
1301-1400 4 Minuskuls Ms.No629,
1401-1500
1501-1600 Ms61 en Ms918 Vulgaat
Na 1601 Huidige Vulgaat

Kom ons som die feite aangaande die Manuskripbewyse op:
1. Al tien die unsiale manuskripte (gedateer voor 800 n.C.) tot ons beskikking het die weergawe soos in die 1983-Bybel; geen unsiale manuskrip soos in die 1933/53-Bybel nie.
2. Meer as 300 Griekse manuskripte bevat 1Johannes. Hiervan is daar net een (Ms.629, ±1350 n.C.) wat ouer is as Erasmus se gedrukte teks (1516) en wel hierdie uitbreiding in het. Eers met Erasmus se teks het die dispuut oor die verse ontstaan.
3. Nege verskillende antieke vertalings, (vyf voor 500 n.C.) stem ooreen met die 1983-Bybel. Net vyf, almal in oud Latyn, (Die oudste ±650 n.C.) stem met die Ou Afrkaanse Bybel ooreen.
4. Twintig Kerkvaders haal die vers aan soos in die 1983-Bybel. Twee van hierdie (Origenus en Chrysostomus) het ‘n vers vir vers kommentaar vir ons nagelaat. Hieronimus wat in opdrag van Pous Damasus ‘n nuwe Latynse vertaling van die NT voorberei het, die Vulgaat, het dit ook nie geken nie. Athanasius, ‘n ortodokse teoloog wat aan die voorpunt was van die stryd teen die Arianisme wat Jesus se Godheid ontken het, ken ook nie hierdie uitbreiding nie. Hy sou verseker daarvan gebruik gemaak het! Selfs Basilius die Grote, (†379 n.C.) biskop van Sisarea in Kappadosië het dit ook nie geken nie. Hy was dit teoloog wat die Drie-Eenheid geformuleer het as een Wese, maar Drie Persone!
Slegs ses Kerkvaders, almal Latyn, haal die uitgebreide vorm in verskeie variasies aan. Dit lyk in sommige gevalle of dit eerder hul eie kommentaar was, en nie ‘n aanhaling uit een of ander Latynse manuskrip nie!
5. Twee manuskripte wat in die tyd wat die eerste gedrukte NT verskyn het, (1516) het die uitbreiding in die teks self. (Ms.61, ±1520 en Ms.918, ±1550)
Nadat die derde gedrukte weergawe met die uitbreiding in, in 1522 verskyn het, is hierdie woorde in die kantlyn van vier ouer manuskripte ingeskryf. (Ms.221 ±950, Ms.88 ±1150, Ms.429 ±1350 en Ms.636 ±1450 n.C.)
6. In Ms.2318 (±1750) is die uitbreiding in Latyn in die kantlyn bygeskryf. Dis duidelik gekopieer uit ‘n Klementynse weergawe van die Vulgaat.
‘n Opsomming van al die bewyse vir die Johannese Komma kan gevind word by: http://www.revneal.org/media/biblestudy/rm/comma1.pdf

'n Korreksie in Ms.69. www.wisereaction.org/ebooks/codex_leicester_mcfall.pdfDr. Leslie McFall dui hierdie vanselfsprekende korreksie in die kantlyn van Ms.69 aan. Dis gedurende die negentiende eeu aangebring toe mataal penpunte in gebruik gekom het, in plaas van ‘n riet-punt of ‘n skryfveer. Buiten vir die verskille deur die punt veroorsaak is die skryfstyl en lettervorms ook duidelike bewyse van ‘n veel later invoeging. Die afbeelding is geneem uit: http://www.wisereaction.org/ebooks/codex_leicester_mcfall.pdf

Paleografiese studies kan baie akkuraat die tyd van invoegings of veranderinge vasstel.

Die oorsprong van hierdie uitbreiding.
Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Indien hierdie uitbreiding die oorspronklike was, hoe is dit moontlik dat alle Griekse manuskripte wat die “oorspronklike” bewoording in sou hê, verdwyn het! En hoe is dit moontlik dat nie ‘n enkele Griekse Kerkvader dit geken het nie, slegs Latynse Kerkvaders?
Dit is verstommend dat, buiten vir die Latyn, geen antieke vertaling dit in het nie! Al die vertalings vanuit Egipte en Etiopië, deur Arabië, Sirië en Bulgarye tot in Rusland stem met die 1983-Bybel ooreen!
Mens kan nie anders as om te vra wat die oorsprong van hierdie woorde kon wees. Vir 1500 jaar was dit onbekend aan almal buite die Rooms Katolieke Kerk wat Latyn gebruik het. Niemand maak eens melding van die afwesigheid van hierdie vers in die Griekse manuskripte nie!
Randall D. Hughes maak die voorstel: “The reading seems to have arisen in a 4th century Latin homily in which the text was allegorized to refer to members of the Trinity.”

Konteks.
Let op die konteks van 1 Joh.5:1-12:
1-5: Gelowiges oorwin die wêreld deur in liefde God se gebooie uit te voer deur geloof in Jesus as die Seun van God.
6-8: Die Gees, die water en die bloed getuig van die waarheid van verlossing deur Jesus Christus.
9-11: God self getuig oor sy Seun en die verlossing wat kom deur in Jesus te glo.
12: Die gevolg: Alleenlik geloof in Jesus gee die lewe.
Gevolgtrekking:
1Joh.5:1-12 gaan volledig oor die geloof in Jesus Christus as die Seun van God. Die Drie-Eenheid is nie die onderwerp van hierdie Skrifdeel nie.

Die effek van die uitbreiding.
1. Die insluiting van die uitbreiding veroorsaak ‘n breuk in die onderwerp wat in die perikoop as ‘n geheel hanteer word.
2. Die uitbreiding verwyder verse 7-8 uit die redinasie oor geloof in Jesus Christus, en maak dit ‘n losstaande stelling aangaande die natuur van God.
3. Die uitbreiding maak van vers 8 ‘n bevestiging van die Drie-Eenheid, en nie van die lewe deur geloof in Jesus Christus nie.
4. Die uitbreiding veroorsaak dat hierdie twee verse feitlik altyd op hul eie aangehaal word as ‘n stelling oor die Drie-Eenheid. Dit verwyder die verse feitlik volledig uit die konteks waarbinne dit as integrale deel ingebed is.

Het God ons nodig om Hom beter te definieer? Of moet ons in ons soeke na die ware Wese van God, onsself beter ontdek in verhouding tot God.

Persoonlike opinie.
Ek wil graag hierdie uitbreiding in my Bybel hê! Dit gee my iets om enigeen wat dit waag om die leer oor die Drie-Eenheid te bevraagteken of vrae daaroor het, in sy spore te stop. Punt!
Ek wil hierdie uitbreiding gladnie in my Bybel hê nie! Dit keer dat iemand wat oor die leer van die Drie-Eenheid twyfel, verder navorsing sal doen oor die Onbegryplike, Onverstaanbare, Volledig Heilige God. Iemand in die vierde eeu het mos die finale woord oor God gesê. Punt!

Beteken dit dat die Leer van die Drie-Eenheid verwerp word indien hierdie uitbreiding ‘n laat byvoeging is, nie meer in nuwe Bybels voorkom nie?
Hoegenaamd nie! Die leer van die Drie-Eenheid staan of val nie by hierdie versie nie! Die leer is gebaseer op die goue draad wat van Genesis 1 regdeur die Ou en die Nuwe Testamente strek, tot by Openbaring. So het God Homself openbaar.
God het nie nodig dat ons Hom beter moet definieer nie. Dis òns wat in ons soeke na die ware Wese van God, onsself beter moet ontdek in ons verhouding tot God!

Seën!

Herman.

Lewer gerus kommentaar onder aan die bladsy.

Kyk ook na:

Ek het die volgende kommentaar van Iris op my Engelse blog ontvang. Ek vertaal dit vry en plaas dit hier. Moontlik kan dit vir andere tot waarde wees.

Iris skryf:

“Beste Herman

Laat ek jou net reghelp. Daar is doelbewuste byvoegings in die Bybel om die Triniteitsleer te ondersteun. 1Johannes 6:7-8 lui in die King James Version: “There are three in heaven that bear witness, the Father, the Word, and the Holy Spirit, and these three are one…” 1 John 5:7 (Die 1933/53 Vertaling lui: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;  en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.”)

Jy is reg, Herman. Die King James Vertaling is baie onakkuraat. In die 15e eeu het King James die vertalers opdrag gegee om dit so te vertaal sodat dit sy sou inpas by wat hy geglo het.  Dit is ‘n algemene probleem met vertalings, mense vertaal dikwels vanuit hul eie eensydige voorkeure. […]”

Hierop het ek as volg geantwoord:

Beste Iris,

Ek waardeer korreksie wanneer ek verkeerd is. Ek verstaan egter jou opmerking nie, of waatoe jy my wil korrigeer nie.

Ja, ek stem nie saam met die insluiting van die uitbreiding wat ons in ouer vertalings soos die KJV (ook die 1933/53 Afrikaanse Vertaling) vind nie. Maar dit is vergesog om die insluiting van hierdie uitbreiding bloot toe te skryf aan ‘n opdrag van King James, of aan Kerklike leiers van daardie tyd! Het jy enige grond vir so ‘n bewering?

Die feit is dat die KJV (soos ook die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling) as beronteks vir die Nuwe Testament, die gedrukte Griekse teks gebruik het wat in daardie tyd algemeen in gebruik was. Dit is bekend as die Textus Receptus. Dit bevat hierdie uitbreiding op 1 Johannes 5:7-8.

Soos ek in my plasing op hierdie teks duidelik gemaak het, was die leer oor die Drie-Eenheid nie op hierdie uitbreiding geformuleer nie, ook is dit nie hierop gebaseer nie. Hierdie leer is deur Basilius die Grote (†379 n.C.) geformuleer. Hy was ‘n Griekse biskop van Sisarea van Kappadosië, en het gladnie hierdie uitbreiding geken nie, omdat dit nog nie bestaan het nie. Basilius se formulering van die Drie-Eenheid as “Drie Persone, maar een Substansie” was gebaseer op ‘n bestudering van die hele Bybel. Dit is eerder moontlik dat juis Basilius se formulering van die Drie Eenheid deur ‘n Latynse Kerklike in sy persoonlike kopie as kommentaar op 1 Johannes in die kantlyn geskryf is. Die oudste manuskrip waarin dit voorkom dateer 200 jaar nà Basilius!

Hierdie kantnota is moontlik later in enkele Oud Latynse manuskripte ingevoeg omdat die kopieerder van oordeel was dat die skrywer van sy bronkopie dit per abuis uitgelaat het. Dit verklaar waarom hierdie uitbreiding oorspronklik net in Oud Latynse manuskripte voorkom en net deur Latynse Kerkvaders aangehaal word. Eers nadat dit in Erasmus se derde uitgawe in 1522 gedruk is, het hierdie uitbreiding aan die Kerkpubliek bekend geword en is dit in verskeie ouer manuskripte ingeskryf. Ongelukkig is Erasmus se teks deur verskeie ander drukkers onveranderd uitgegee en is dit vaweë sy beskikbaarheid algemeen in gebruik geneem. Ook deur vertalers van vroeër Vertalings soos die KJV en die 1933/53-Vertalings.

Seën,

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Desiderius Erasmus, Eerste Gedrukte Griekse NT, Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Textus Receptus, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

17 Responses to 51. Drie-Eenheids teks. 1Johannes 5:7-8

  1. Wikus Faul, Jubilado 14, Bloubergstraat 32, Noordheuwel, Krugersdorp,1739 says:

    Ek vind jou artikels oor Bybelverskille baie insiggewend. Ek kan ook nie begryp hoe die Bybelvertalers met al die manuskripte, e.d.m.s. nie die oorspronklike bedoeling van die teks kan
    verstaan nie. As ‘n eenvoudige leek op die gebied van die oorspronklike tale, was dit nog nooit nodig vir my om verder as die woordeboek vir die bekenis van ‘n woord of uitdrukking te gaan soek nie. Ek het 20 jaar gelede opgemerk hoe drasties Joh.20:17 verander is om ‘n niksseggende betekenis daaraan te gee en sodoende ‘n streep deur die eerste 10 hoofstukke van Die Brief aan die Herbreërs getrek het. Die sinnelose verklaring wat in Die Bybel in Praktyk daarvoor gegee word, is lagwekkend. Dit is tog ooglopend dat Christus in die klere van ‘n hoëpriester geklee was – Heilige klere wat aangeraak moes gewees het nie, en dat Hy daardie
    aand nadat Hy die Emmaüsgangers daarvan oortuig het opgevaa rhet na Sy Vader met sy eie bloed om versoening vir ons sondes teweeg te bring. Die Bybel verskaf al die bewyse wat nodig is om dit te staaf.

    Wikus Faul

    • Wikus,

      Baie dankie vir jou opmerkings en ook jou vraag aangaande die vertaling van Joh.20:17.
      Ek wys op drie stappe in ons geloofshantering van God se Woord:
      1. Vertaling.
      Die doel daarvan is om in Afrikaans te kan lees wat in Grieks of Hebreeus of Aramees geskryf staan.
      Dit behels drie prosesse:
      i) Daar is verskille in die manuskripte tot ons beskikking. Sommige is doodgewone foute deur ‘n kopieerder. Ander is doelbewuste veranderinge of regstellings deur ‘n goedbedoelende geestelike leier. Die vertaler is genoodsaak om ‘n keuse te maak. Hy moet alles in sy vermoë doen om die woorde wat God oorspronklik gegee het, vas te stel en dit dan vertaal. Dis waarmee hierdie blog hom hoofsaaklik besighou.
      ii) Die kies van die regte woord in Afrikaans sodat ons dieselfde sal verstaan as wat die oorspronklik leser sou verstaan het. In Grieks gebruik hulle die woord “engel” vir ‘n engel, maar ook vir ‘n aankondiger of ‘n voorganger. Die vertaler moet ‘n keuse maak op grond van wat in die teks bedoel word, en nie noodwendig altyd met “engel” vertaal nie. Grieks het vier woorde vir liefhê, ons net een. Die vertaler moet probeer dat ons dieselfde sal verstaan, al moet hy meeer as een woord gebruik.
      iii) Taalkundige oorwegings. Elke taal het uniekhede. Grieks het baie meer werkwoordtye en maniere om iets uit te druk as Afrikaans. Woorde behoort tot ‘n bepaalde geslag, ens. Die vertaler moet dit in ag neem sodat ons dieselfde verstaan as die oorspronklike leser. Selfs hoofletters en kleinletters of punktuasie wat feitlik totaal in Grieks ontbreek, speel ‘n groot rol.
      2. Eksegese.
      Dit behels die verklaring oor wat die woorde of die sinsnede beteken, en hoe dit interpreteer moet word. Wanneer 1 Joh.5:7-8 sê: “Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed,” het elkeen van hierdie woorde ‘n spesifieke, diepe betekenisinhoud. Dit gaan nie maar net om enige gees of enige water of enige bloed nie – dit behels die hele kruisigingsgebeurtenis, en die versoening, maar ook terugskouend die hele versoeningsgebeure rondom die groot Versoendag in die tyd van Israel.
      3. Homiletiek.
      Wanneer ons die Woord verstaan, moet die skrif vir ons in ons situasie en omstandighede geïnterpreteer word. Die Bybel sê niks oor dwelmmisbruik nie, maar dit beteken nie dat die Bybel niks daaroor te sê het nie!

      In Joh.20:17 gebruik Jesus die woord hapto om te sê dat Maria Hom nie moet aanraak nie. (Maar “hapto” kan ook “aanheg” of “vashou” beteken). Gestel sekere manuskripte het die woord psylafao gebruik, (Heb 12:18: “Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie…”) of tigys (Heb.11:28: “…sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.”). Dan moes die Bybelvertaler eers bepaal watter een van die drie die grootste moontlikheid het om oorspronklik te wees.
      Die woord is egter hapto. Nou kom die uitdaging om die regte Afrikaanse woord te kies. Dit kan “aanraak” wees, die gewone gebruik van die woord. As jou vermoede reg was dat Jesus ‘n hoëpriesterlike kleed aangehad het, sou dit die logiese keuse wees met ‘n verklaring vanuit die reinigingswette daarby. Maar daar is geen aanduiding van so ‘n kleed in die gedeelte nie. Die woord kan ook “aanheg” beteken, wat sou beteken dat Jesus nie wil hê Maria moet haarself aan Jesus as mens verbind nie, want dan kom die tweede skok wanneer Hy opvaar na die Vader. Dit kan ook “vashou” wees wat sou beteken dat Maria nie vir Jesus moet verhinder om na die Vader toe op te vaar nie.
      “Moenie aan My raak nie” is die eenvoudigste en die logiese keuse.

      Jou interpretasie dat Jesus ‘n Hoëpriesterlike kleed aangehad het, het nie ‘n skriftelike grond nie, tensy jy dit figuurlik bedoel. Maar die vertaler mag nie vertaal om ‘n bepaalde figuurlike betekenis af te dwing nie. Met eksegese moet vasgestel word of dit inderdaad so figuurlik verstaan moet word.

      Seën,

      Herman.

  2. Pingback: 22 Die Eerste Gedrukte Griekse NT. | Bybelverskille

  3. Jan Hendrik Mostert says:

    Ek het jou uiteesetting baie interessant gevind. Ek wil graag weet van die uitbreiding, maar steun die ’83 vertaling. Stuur maar gerus jou eposse aan my ook. Dit pla nie. Jan Mostert

    • Beste Jan,
      Die insluiting of weglating van hierdie uitbreiding veroorsaak natuurlik hewige reaksie. Die feit is dat die Woord, soos God dit gegee het, voldoende is. Die 1983-Bybel herstel die oorspronklike teks. Met die oorgaan tot die Dinamies Ekwivalente Vertalings beginsel, ontstaan daar soms weer nuwe uitdagings. Ek het groot waardering vir die moeilike taak van die Bybelvertalers. Hulle het ons voortdurende voorbidding nodig.
      Seën,
      Herman.

  4. Yf veldhuizen says:

    Dag Herman,
    ‘n Mens kan seker net spekuleer oor die motivering vir die invoeging van die omstrede worode. Maar sou dit in ‘n tyd gewees het toe die RKK (die “amptelike” kerk van die Ryk) ‘n hewige gevoer het teen, wat hulle as afvalliges of ketters beskou het? Dan kan ‘n mens hulle motivering verstaan om so iets in te voeg ten einde hulle weergawe van die NT meer “betroubaar” en “gesaghebbend” te maak. Ek verbeel my daar was een of ander skeuring in die 5de eeu, maar ek kan nie meer onthou waaroor dit gegaan het nie.

    Op grond van watter Skrifverwysings het Basilius sy formulering van die Drie Eenheid gebaseer? Sou hierdie omstrede woorde nie dalk beter by een van daardie teksgedeeltes gepas het nie, bv. Joh. 14 of 16?

    in Vrede

    • Beste Yf,
      Ek is oortuig dat hierdie tipe uitbreiding van ‘n teksvers sy ontstaan het in ‘n opregte stukkie kommentaar wat iemand in die kantlyn van sy eie afskrif van ‘n Latynse vertaling geskrywe het. ‘n Latere kopieerder het dit as iets aangesien wat as korreksie in die kantlyn geskryf is omdat die vorige kopieerder dit “per toeval” uitgelaat het. So beland dit binne in ‘n manuskrip, in hierdie geval ‘n Latynse vertaling. Natuurlik sal dit na elke afskrif verderaan oorgedra word.
      Hoewel geen Christelike beginselsaak deur enige verandering, byvoeging of weglating in gedrang gebring word nie, is nie een saak ook daarvan afhanklik nie.
      Die formulering van die Drie Eenheid is juis nie op ‘n enkele teksvers gebaseer nie, maar op die Skrif in geheel, letterlik van Genesis 1 tot Openbaring 22!
      Ek wys ook op die invloed wat “veranderinge” aan die oorspronklike kan hê.
      Seën,
      Herman.

  5. Pingback: 55 Oop of Geslote Kànon. | Bybelverskille

  6. Annemarie Steenberg says:

    Dagse Herman, DIt wat ek nou gelees het is vir my baie insiggewend. Ek was altyd n voorstander vir die 1953 vertaling.. maar eweskielik besef ek dat ek verkeerd geleer was. Daar was vir my gese dat 1 Joh 5:6-8 die “blou druk” van die Bybel is. Ek het begin agter kom dat n Statevertaling is en wou verder soek. Tot my skok besef ek dat die Nuwe Vertaling tog korrek mag wees en terug gegaan het na die oorspronklike brontekse wat blykbaar Grieks is en geen Hoofletters was gebruik nie en dit wat oor Jesus in die NT sou verw in kantlyn en voetnotas aangebring was en later is dit uitgehaal gewees en Hoofletters gebruik en sodoende weer terug gekeer na die oorspronklike klein letters maar die Ou Vertaling het behoue gebly met die Hoofletters.

    Dit wat jy se maak maak vir my soveel sin dat ons die geheel beeld moet begin raaksien en toe te laat dat die Heilige Gees ons moet lei na n dieper soeke na die Here en Sy Gees.

    Ek begin te besef om nie mense te “glo” wat hul se nie en eerder self studie te doen.
    Baie dankie vir jou insette dit word opreg waardeer.

    Annemarie

    • Beste Annemarie
      Baie dankie vir jou opmerking en navraag.
      Die probleem waarmee Erasmus gekonfronteer was, was enersyds dat hy nie toegang tot al die manuskripte oor die wereld versprei, gehad het nie. Dis eers in ons moderne tyd moontlik, en Nestle/Aland en die United Bible Societies tekste bied al hierdie verskille in een publikasie aan. Die ander probleem van Erasmus was tyd. Hy wou sy Griekse publikasie op die rakke kry voordat Ximines se publikasie dit haal. Ximines het gewag vir die goedkeuri ng van die pous.
      Op hierdie blog probeer ek objektief al die beskikbare inligting aanbied.

      Seen,
      Herman.

  7. Pingback: 56 Klere was of Gebooie doen? | Bybelverskille

  8. Pingback: 63. Is Matteus 17:21 later ingevoeg? | Bybelverskille

  9. Pingback: 77 loot | Bybelverskille

  10. Jaco says:

    Dankie vir hierdie uitstekende artikel, Herman. Eers met sy derde uitgawe het Erasmus die comma johanneum in sy Textus Receptus ingewerk. Geen verantwoordelike teoloog/bybelkenner dink meer dat hierdie teks in die Hoofteks hoort nie.

  11. Dankie Jaco, ek stem saam.
    Was herdie teks deel van die oorspronklike outografie, sou die hele worsteling rondom die formulering van die Triniteit nooit plaasgevind het nie.

  12. Pingback: Wat van verdagte vertalers? | antwoord

  13. Pingback: 133 Komma | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s