57. Einde van Markus

57. Hoe het Markus sy Evangelie geëindig? (Mk.16:9-20)

Sepia foto, Wikepedia

‘n Kennis van ons het jare gelede ‘n baie ou fotografiese besigheid oorgeneem en daarmee saam ‘n hele versameling ou sepia negatiewe, nog op glas bekom. Een van hierdie negatiewe het hom besonder interesseer. Nie alleen was die komposisie van die mense en die agtergrond anders as al die ander negatiewe nie, maar daar was ‘n vreemde, effe uit fokus streep van regs bo tot links onder. In ou nota’s lees ons kennis toe dat ‘n fotograaf uit Europa hierdie ou besigheid besoek het, en dat sy kamera se lens gekraak was. Hy kon gladnie vasstel wie hierdie fotograaf was nie, en of hy moontlik vir die bepaalde fotosessie moes instaan nie. Dit was egter duidelik dat hierdie negatief feitlik van die begin af saam met die outentieke versameling hanteer is. Hoewel hierdie foto beslis nie die werk van die oorspronklike fotograaf was nie, het ons kennis besluit om dit as deel van die versameling te behou. Dit het my laat dink aan die einde van Markus.

Ons is gewoond aan Markus 16:9-20 soos ons dit in al ons Bybels aantref. Maar die laaste twaalf verse is feitlik verseker nie die werk van Markus self nie. Hoe hy wel sy evangelie afgesluit het, weet ons nie. In die manuskripte word vier stelle slotwoorde (met variasies) aangetref.
1) Kort einde. Eindig na vs.8.
2) Inermediêre einde met verskeie variasies: “Maar die vroue het alles wat vir hulle gesê is, kortliks vir Petrus en diè by hom vertel. Daarna het Jesus self deur hulle die heilige en onverganklike evangelie van die ewige redding van die ooste tot in die weste laat verkondig. Amen”
3) Lang einde, ook met verskeie variasies: Vs.9-20 soos dit in ons Bybels vertaal is. In ten minste sewe manuskripte asook familie een, (met meer as vyf manuskripte) kom die lang slot wel voor, maar met aanduidings of nota’s dat die egtheid bevraagteken word. Baie Kerkvaders wat bewus was van hierdie langer einde, meld ook dat hulle dit betwyfel dat Markus hierdie deel geskryf het.
4) Die lang einde met ‘n uitbreiding na v.14.

Die tabel hieronder dui die eerste drie eindes van Markus aan.

Markus 16:9-20

Variasies: Eindig na Vs. 8: Kort einde: Vs.9-20:
Getuies: Grieks: Vertalings: Kerkvaders: Grieks: Vertalings: Grieks: Vertalings: Kerkvaders:
101-200 Diatessaron, Justinus
201-300 Sahidies Clementus, Origenus, Ammonius Sahidies* Sahidies Ireneus, Tertullianus
301-400 Sinaïtikus,
Vatikanus
Siries Eusebius Bohairies* Washington* Vulgaat, Siries, Bohairies, Fayumies, Goties Apostoliese Konstitusie, Afraätes, Didimus
401-500 Armeniaans Hieronimus, Victor-Antiochus 1 Oud Latyn Etiopies* Aleksandrinus, Efraemi, Bezae 3 Oud Latyn, 2 Siries, Armeniaans, Etiopies
501-600 0112
601-700 1 Unsiale manuskrip Siries* 4 Oud Latyn, Siries
701-800 Regius, Atous Laurae
801-900 Georgiaans Siprius, Monacensus, Sangallensis, Koridethi, Petropolitanus
901-1000 Bisantynse voorleesbundel Georgiaans Georgiaans
1001-1600 1 Minuskul, 6 Bisantynse voorleesbundels Euthymius 1 Minuskul, 1 Bisantynse voorleesbundel Familie13, 20 Minuskuls Oud Latyn

Ons bekyk die feite van nader:

1.) Eindig na Vers 8:
Volgens twee van die belangrikste manuskripte, die Sinaïtikus en die Vatikanus, ondersteun deur ‘n Sahidiese, (Egipte) ‘n Siriese, en ‘n Armeniaanse vertaling (Rusland) asook ses kerkvaders eindig Markus se Evangelie hier, almal voor die jaar 500 n.C. Daar is ook verskeie later manuskripte. Beslis baie sterk gronde. Dit is na alle waarskynlikheid waar Markus self sy evangelie afgesluit het.

2.) Inermediêre einde:
Een Oud Latynse manuskrip uit ±400 n.C. het slegs die kort einde. Vier unsiale Griekse manuskripte (±500-800 n.C.) asook ‘n latere minuskel en ‘n Bisantynse voorleesbundel het wel die kort einde, maar dit word dan met die lang einde gevolg. In vyf vertalings (±200-700 n.C.) is die kort einde op ‘n later stadium in die kantlyn bygeskryf. Hierdie bewyse is nie sterk genoeg dat ons hierdie einde as outentiek kan aanvaar nie.

3.) Die lang einde, verse 9-20.
Met nege unsiale Griekse manuskripte (±350-900 n.C.), die meeste minuskel manuskripte (±900-1550 n.C.) asook ten minste 19 vertalings maak hierdie einde ‘n sterk aanspraak op ‘n baie vroeë ontstaan asook ‘n wye insluiting. In baie van hierdie manuskripte gee die kopieerder egter self ‘n aanduiding dat die egtheid van hierdie deel betwyfel word.
Tatianus wat ongeveer 170 n.C. ‘n aaneenlopende verhaal uit die vier Evangelies saamgestel het, die Diatessaron, het hierdie lang einde ingesluit. Ook Justinus wat in 165 n.C. die marteldood t.w.v. Christus gesterf het, het die lang einde geken.
Maar:
Hier kom ‘n paar vreemde intrinsieke sake na vore. i) In hierdie 12 versies tref ons 17 woorde aan wat nie elders in Markus gebruik word nie, of wat hier op ‘n ander manier gebruik word. ii) Vs.8 sê dat al die vroue (insluitend Maria Magdalena) van die graf weggevlug het, terwyl vs.9 sê dat Jesus aan haar verskyn het. iii) Hoewel Maria Magdalena reeds in vs.1 genoem is, word hier in vs.9 ‘n uitgebreide bekendstelling van haar gemaak asof sy nog nie genoem was nie. Hierdie deel is duidelik nie die werk van Markus self nie! Maar wat doen mens met iets wat feitlik van die begin af in die meeste manuskripte voorkom, maar tog nie deel van die oorspronklike outeur se werk was nie?
4) Lang einde met ‘n uitbreiding na vs.14.
Kodeks Washington (W*) uit ± 350 n.C. is ‘n manuskrip wat duidelik uit verskeie brokkies van verskillende bronmanuskripte saamgestel is. Dit is ons oudste Griekse getuie van hierdie lang einde. Direk nadat Jesus die dissipels oor hul ongeloof in vs.14 verwyt het, kry ons die volgende byvoeging: “En hulle het hulself verskoon en gesê: ‘Hierdie eeu van wetteloosheid en ongeloof is onder Satan, wat nie toelaat dat die waarheid en krag van God heers oor die onrein dinge van die geeste nie. Daarom, openbaar U geregtigheid nou’ – dit het hulle aan Christus gesê. En Christus het hulle geantwoord, ‘Die tydperk van die jare van Satan se krag is vervul, maar ander verskriklike dinge kom nader. En vir hulle wat gesondig het, was Ek oorgelewer aan die dood, sodat hulle kan terugkeer tot die waarheid en nie meer sondig nie; sodat hulle mag beërwe die geestelike en onbederflike glorie van geregtigheid wat in die Hemel is.’ ” Hierdie einde met die byvoeging kom wel in enkele vertalings voor en enkele kerkvaders verwys ook daarna, maar dit kan nie as outentieke einde van Markus anvaar word nie.

Beoordeling:
Wat ons as kànon aanvaar en wat nie, is weereens met hierdie gedeelte sterk op die voorgrond.
God het nêrens aangekondig dat sekere geskrifte kànon (bepalend vir die geestelike lewe) sal wees en ander nie! Die naaste aan ‘n direkte opdrag van God kry ons in Openbaring waar Johannes beveel is om die openbaring neer te skryf, met ‘n waarskuwing oor die gevolge indien iemand daaraan sou verander!
Die gelowiges is in die eerste eeue met ‘n magdom geskrifte met geestelike inhoud gekonfronteer, sommige valslik onder die naam van ‘n apostel geskryf. Gevolglik was die gelowiges genoodsaak om nà gebed en deeglike bestudering van die geskrifte te bepaal wat hulle as kànon aanvaar en wat nie. Vir hulle was een van die hoof kriteria dat dit beslis deur ‘n apostel of Paulus geskrywe moes wees. By die sinode van Hippo in 393 n.C. is die eerste amptelike besluit oor die vasstel van die kànon geneem. Of die lang einde deel was van die dokumentasie, kan niemand vandag bepaal nie.
In wese voeg hierdie langer einde niks tot ons kennis, begrip of geloof by nie. Dit is eerder ‘n opsomming van wat reeds in ander evangelies staan, of is selfs uit Handelinge geneem.
Dit is duidelik dat die lang einde van Markus deur baie manuskripte uitgelaat of bevraagteken is. Ander weer het dit bygevoeg. Volgens taal, styl en woordeskat is dit beslis nie die werk van Markus die evangelis nie. Moet ons dit maar soos die sepia-negatief in die versameling hou, met ‘n verduidelikende nota daarby? Of moet ons dit uitlaat?

Gee gerus u opinie en neem deel aan die opwindende proses om die Woord van God onveranderd en onvervals aan ons kinders deur te gee!
Dit is my uitnodiging en uitdaging aan u. Ek sal kommentaar graag deurgee aan die Bybelgenootskap.

Seën.
Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Interne Kriteria, Kanon, Ontstaan van NT, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

One Response to 57. Einde van Markus

  1. Pingback: 82 Komme | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s