74. Verkeerd hoor Op.1:5

Verkeerd hoor, Op 1;5

250px-Papyrus_18_POxy1079Het jy al verkeerd gehoor?
Gestel jy moet vertaal en een kopie sê: “Jan was vir die ou digter ‘n ware seën.” en die ander: “Jan was vir die die ou digter ‘n ware seun.” Hoe sou jy besluit? Albei maak sin, maar albei kan tog nie reg wees nie! Kan jy glo dat in ‘n enkele vers in Openbaring, nie minder as drie variasies voorkom wat waarskynlik ontstaan het as gevolg van verkeerd hoor? En al drie maak sin!

Papirus Nr.18 (±220 n.C.) met “verlos” in vs.5. Fotokrediet, Wikipedia.
Wanneer ‘n groot aantal kopieë bestel is, is so ‘n opdrag in ‘n skriptorium of kopieersentrum uitgevoer. Konstantyn die Grote het ongeveer 331 n.C. ‘n bestelling by Eusebius van Sisarea geplaas vir “vyftig perkament kodekse van hoë gehalte” vir sy nuutgestigte gemeentes. In ‘n skriptorium het die voorleser gelees terwyl ‘n hele aantal kopieerders dit neergeskryf het. Woorde wat dieselfde klink, kon maklik verwar word en so kon ‘n variasie ontstaan wat soms moeilik uitkenbaar is, veral wanneer albei sin maak.
Dit is die logiese verklaring vir die drie variasies wat in Openbaring 1:5 in manuskripte voorkom.

1) Die Griekse woorde “luō” (losmaak of verlos) en “louō” (was, reinig) klink baie dieselfde. In hierdie vers het ons die variasie “lusanti” (Hy het verlos) of “lousanti” (Hy het gewas).

2) Die tweede verwarring wat voorkom is tussen “hēmas” (vir ons) en “humas” (vir julle). Dit kom net in een Griekse manuskrip en in ‘n Etiopiese vertaling voor. Die variasie veroorsaak dat vers sê: “Aan Hom wat ons liefgehad het en julle (in plaas van ons) verlos het van die sonde deur Sy bloed…”

3) Die derde variasie in hierdie vers is waar die kopieerder die vorige woord “kai” as deel van “lusanti” gehoor het en dit verstaan het as “kalesanti” (uitgeroep). Dit maak ook sin en beteken dan: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons uitgeroep het uit ons sonde…” Drie variasies as gevolg van verkeerd hoor in ‘n enkele vers!
Slegs die eerste variasie het werklik ons aandag nodig – ek meld die ander twee net vir interessantheid.

1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling: “…en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed…”
1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “…en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos…”

Hoe kan ons bepaal wat in die oorspronklike outografie gestaan het en watter weergawe waarskynlik deur verkeerd hoor veroorsaak is? Kom ons let eers op die manuskripbewyse:

Op.1:5

Moontlikhede: Verlos: Gewas:
Getuies: Grieks: Vertalings: Kerkvaders: Grieks: Vertalings: Kerkvaders:
101-200
201-300 p18
301-400 Sin. Tyconius Vulgaat, Bohairies
401-500 A, C 1 Oud Latyn, Armeniaans Etiopies
501-600 Primasius, Cassiodorus Siries
601-700 Siries, 1 Oud Latyn,
Etiopies
Andreas Andreas
701-800
801-900 Por. 1 Oud Latyn </span
901-1000 046 1 Oud Latyn </span Arethas
1001-1600 6 Minuskels 12 Minuskels 6 Oud Latyn </span

Eksterne bewyse.

Verlos” word aangetref in 4 Griekse manuskripte van voor 500 n.C. en 6 minuskul manuskripte van ná 1000 n.C. Van groot belang is dat die oudste manuskrip bewys, ‘n fragment uit die jaar ±220 n.C. wat net Op.1:4-7 bevat, “verlos” lees. Hoe merkwaardig dat God vir ons hierdie klein stukkie papirus bewaar het waarop juis hierdie versie voorkom!

Tot die jaar 700 n.C. word “verlos” ook ondersteun deur 5 Antieke Vertalings. Twee Oud Latynse vertalings (Europa), Armeniaans (Rusland), Etiopies (Afrika), en Siries (Oos van Israel). Antieke vertalings bewys dat Griekse tekste met die spesifieke variasie, in daardie gebiede voorgekom het.

Vier Kerkvaders haal die vers as “verlos” aan. Andreas (†614 n.C.) wat ‘n kommentaar op Openbaring nagelaat het, gee voorkeur aan “verlos”, maar haal ook “gewas” aan.

“Gewas” kom die eerste keer voor in ‘n Griekse manuskrip van ná 800 n.C. met ondersteuning van net nog een unsiale manuskrip van 100 jaar later, asook 12 minuskuls van ná 1000 n.C.

In die antieke vertalings het “gewas” ook redelike steun, nl. die Vulgaat (Rome) en 8 Oud Latynse vertalings (Europa) asook Bohairies (Egipte) en Etiopies (Afrika) asook ‘n Siriese vertaling (Oos van Israel).

Net twee Kerkvaders verwys na “gewas” nl. Andreas (†614 n.C.) wat albei variasies ken asook Arethas (†914 n.C.).

By die oorweging van die manuskripbewyse moet twee sake in gedagte gehou word:

1) Die oudste manuskripte ondersteun “verlos”.

2) Eers toe die gemeentes meer geword het, sou bestellings vir baie kopieë geplaas kon wees. ‘n Variasie as gevolg van verkeerd hoor, sou uiteraard in ‘n skiptorium ontstaan het. Daarom maak die weergawe wat in ouer manuskripte voorkom ‘n verdere appèl om eerder die oorspronklike te verteenwoordig.

Volgens die eksterne kriteria het “verlos” groter steun om die oorspronklike woord te wees.

Interne bewyse.

Interne bewyse hanteer die moontlike verklaring vir die ontstaan van die variasie. Hierdie variasie is na alle waarskynlikheid veroorsaak deur “verkeerd hoor” van wat voorgelees is. Wat ookal die oorspronklike was, dieselfde “gehoorfout” kon ontstaan. Hieruit kan ons dus nie enige beslissende afleiding maak van wat eerder die oorspronklike woord sou kon wees nie.

Intrinsieke kriteria.

Intrinsieke ondersoek kyk na verskeie aspekte van die inhoud self soos o.a. die gebruik van spesifieke woorde, asook die konteks.

In die Griekse NT word nie minder nie as vyf woorde gebruik wat as “was” vertaal is. niptō Mat.6:17, (Was van deel van liggaam, hier die gesig.) baptizō Mark.7:4, (Eintlik “doop”, hier van bekers, kanne en ketels [en hierdie woord word ook vir die lêbankies by die eettafel gebruik!] wat op die seremoniële wassing wys.) brechō Luk.7:38, (Eintlik “natmaak” met haar trane en afdroog met haar hare, waardeur die vrou hier inderdaad die seremoniële voetewassing voor ete doen.) apolouō Hand.22:16 (wegwas, om die onmoontlikheid om dit terug te bring, te beklemtoon.) en plunō Op. 22:14. (spesifiek “klere was.” In Op. 7:14 word verwys na die mense wat “…uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas (plunō) en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” Hier word “plunō” gebruik, net soos in Op.22:14 [in die NA en UBS-Tekste. Sien my ondersoek van hierdie vers in plasing 56.] Dit is die enigste plekke in Openbaring waar “was” [van klere] en die “bloed van die Lam” in verband met ons redding saam hanteer word.)

Die woord louō (was) kom in die Bisantynse tekste en die TR alleenlik in hierdie vers in Openbaring voor.

Die verband tussen sonde, redding en die bloed word nie elders in Openbaring hanteer dat ons ‘n duideliker afleiding kan maak oor die gebruik van die woorde nie. In Op.5:9 word wel van Jesus gesê “…want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop…” Hier word egter ‘n direkte handelsterm vir “gekoop” gebruik.

Deur die hele Nuwe Testament word “verlos” saam met “die bloed van die Lam” gebruik. Nêrens elders word “was” (van die mens van sy sonde) saam met “die bloed van die Lam” gebruik nie.

Intrinsiek is dit duidelik dat “verlos” en nie “gewas” die Bybelse term is wat saam met “die bloed van die Lam” gebruik word.

Gevolgtrekking:

Die Bybel praat nêrens daarvan dat ons deur die bloed van die Lam van ons sondes “gewas” word nie. Ons word wel daarvan “verlos” deur die bloed van die Lam.

Die “was van ons klere” is iets anders as dat “ons van ons sondes gewas is” in die bloed van die Lam. Openbaring lê groot nadruk op die bruilof van die Lam waar gelowiges die regte “bloedgewaste” kleed sal dra as teken van hul redding. Die bloed van die Lam “verlos ons van ons sonde” (Op.1:5) en “was ons kleed spierwit skoon.” (Op.7:14 en 22:14)

Dit lyk dus of ons met redelike sekerheid kan sê: “Iemand het ‘verlos’ verkeerd gehoor en ‘gewas’ neergeskryf.”

Ons is van ons sondes verlos, en dit is ‘n ware “seën” deur die bloed van die “Seun”!

Seën,

Herman.

Kommentaar onder aan hierdie bladsy is baie welkom.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Antieke Vertalings, Hantering van Verskille, Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Oorspronklike Outografie, Textus Receptus, United Bible Societies Teks, Verskille: Gehoor. Bookmark the permalink.

One Response to 74. Verkeerd hoor Op.1:5

  1. Pingback: 77 loot | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s