80 Genade uit Lukas uitvertaal?

Genade uit Lukas uitvertaal?

In Lukas 9:53-56 vind ons ‘n insident waar dit lyk of die moderne vertalings die genade uit die Bybel uitvertaal het. Wanneer hierdie weergawe egter so algemeen in moderne vertalings voorkom, noodsaak dit ons om deeglik ondersoek in te stel na die redes daarvoor.

Die gedeeltes in donker gedruk kom nie in moderne vertalings voor nie.

1933/53 Ou Afirikaanse Vertaling: “En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het? Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na ‘n ander dorp vertrek.”

1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling: “Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was. Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. Daarna het hulle die reis voortgesit na ‘n ander dorp toe.”
Ons let op die manuskripte tot ons beskikking:

Luk. 9:55-56

Moontlikhede: Ontbreek: Ingevoeg:
Getuies: Grieks: Vertalings: Kerkvaders: Grieks: Vertalings: Kerkvaders:
101-200 p75         Marcion, Diatessaron
201-300 p45 Sahidies        
301-400 Sinaïtikus, Vatikanus, Washington Siries, Bohairies Basilius, Cyrel-Jerusalem   1 Oud Latyn Vulgaat, Siries, Goties Ambrosius
401-500 Aleksandrinus, Efraemi Etiopies Hieronimus   2 Oud Latyn, Siries, Armeniaans Epifanius
501-600            
601-700 Zacynthius 2 Oud Latyn, Siries     2 Oud Latyn Antiogus
701-800 Regius, At.Laurae          
801-900 Monacensus, Sangallensis, Minuskel 33     Cyprius, Petropolitanus, Koridethi 1 Oud Latyn  
901-1000       7 Voorleesbundels    
1001-1600 Minuskel 28, 6 Minuskels     13 Minuskuls, f1, f13 1 Oud Latyn  

Kodeks Bezae (±450) het net die deel van vers 55 en nie vers 56 in nie.
Waar die volle uitbreiding wel voorkom, is daar verskeie variasies.

Eksterne gegewens:

DIE manuskripbewyse vir die uitbreiding in vers 54. (…soos Elía ook gedoen het?) stem redelik ooreen met die bewyse vir die uitbreiding in verse 55 en 56. Daarom hanteer ek dit nie afsonderlik nie.
Buiten vir Kodeks Bezae (±450 n.C.) wat die uitbreiding slegs gedeeltelik het, is die Griekse manuskripte tot die jaar 800 n.C. oorweldigend (10:1) daarsonder. Dit is egter opvallend dat beide Marcion (†160 n.C.) en Tatianus (±170 n.C.) die perikoop met die uitbreidings aanhaal.
Marcion het ±144 n.C. ‘n dualistiese teologie ontwikkel waarin Jesus as Seun van die N.T. Hemelse Vader direk teenoor die veroordelende O.T. God gestel word. Marcion het ook sy eie kànon vir sy gemeentes saamgestel, bestaande uit slegs sy aangepaste evangelie van Lukas en tien van Paulus se briewe.
Volgens Walter Grundmann, (Das Evangelium nach Lukas, Berlin 1974, p.201) het die uitbreidings op verse 54-56 ‘n interpreterende karakter en het moontlik ontstaan by Marcion se redaksie van die Lukas evangelie.
Vir my lyk dit na die tipiese “aanpassing” wat Marcion in Jesus se mond sou lê om die totale breuk te bevestig met die O.T. waar “straf” ‘n groot rol speel, teenoor die liefdevolle benadering van die N.T.
Tatianus het ‘n aaneenlopende verhaal uit die vier evangelies saamgestel, die Diatessaron genoem. Daarin het hy inevoeg en aangepas soos hy goedgedink het. Dit kan wees dat hy hierdie bewoording van Marcion ontvang het en so ingevoeg het. Nietemin het sy geskrif ‘n groot invloed op baie van die latere manuskripte uitgeoefen. Dit kan moontlik verklaar waarom feitlik net soveel antieke vertalings met en sonder hierdie uitbreiding bestaan.
Die manuskripgetuienis dui daarop dat hierdie sinsnedes nie oorspronklik deel van die evangelie was nie.

Interne gegewens

Hier kyk ons na die tipiese werk van die kopieerders as moontlike verklaring vir die ontstaan van die variasie. Wat hier van belang is, is dat ‘n kopieerder feitlik nooit ‘n woord of sinsnede sou uitlaat nie, maar eerder iets sou invoeg om te verseker dat niks van die Woord wat God gegee het, verlore sou gaan nie. Daar moet dus aanvaar word dat die manuskripte waar hierdie sinsnedes ontbreek, van ‘n bron gekopieer is wat dit ook nie bevat het nie.
Intern lyk dit ook of hierdie sinsnedes nie oorspronklik deel van die evangelie was nie.

Intrinsieke gegewens

Hier kyk ons watter variasie die grootste moontlikheid het om die direkte woorde wat die spreker, Jesus in hierdie geval, te verteenwoordig.
Ek is nie bewus van enige plek waar Jesus die gees wat in sy dissipels werksaam is, bevraagteken, om vergelyk te word met die eerste stelling nie. (Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie…)
Die tweede gedeelte (…want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red) herinner wel aan Lukas 19:10: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.”
Hoewel hierdie tweede deel moontlik outentiek kon wees, is dit opvallend dat Jesus daarna niks doen om die redding van die Samaritane te bewerk nie, maar doodeenvoudig na ‘n ander dorp vertrek.
Sonder hierdie uitbreiding kom die optrede van Jesus eerder ooreen met Sy opdrag in Lukas 9:5 “En almal wat julle nie ontvang nie–as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot ‘n getuienis teen hulle.”
Intrinsiek lyk dit eerder asof hierdie perikoop aanvanklik sonder hierdie uitbreidings was.

Gevolgtreking

Al drie die kriteria tot ons beskikking dui daarop dat hierdie uitbreidings eerder latere toevoegings tot die oorspronklike teks kan wees. Jesus het groot klem daarop gelê dat Hy na die verlore stamme van Israel gestuur is, maar nà Sy opstanding gee Hy die opdrag aan Sy dissipels om die wêreld in te gaan en van al die volke dissipels te maak. Dít was Sy opdrag en werkwyse.

Seën.
Herman.

Kommentaar onder aan hierdie bladsy is baie welkom.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Betroubaarheid van Teks, Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Kerkvaders. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s