104. Man en Vrou in die Samelewing. Leiding deur Paulus.

Man en Vrou as Christene in die Samelewing.

Na aanleiding van die plasing oor die vraag of ‘n vrou gered word deur kinders te baar, het ek twee kosbare besprekings oor Paulus se hantering van man en vrou in 1 Timoteus ontvang. Die een van prof. Wim Vergeer van die Gereformeerde Kerk, Krugersdorp, en die ander van prof Francois Malan (emeritus) van Montana, Pretoria. Met hul toestemming plaas ek dit graag hieronder.

Prof. Vergeer skryf as volg:

Omdat ek lank met studie oor 1 Tim 2:15 (en die breër perikoop) besig is, deel ek graag ‘n paar opmerkings.

1.      1 Tim 2:8-15 is voorwaar een van die moeilikste Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament om te verklaar. Die betekenis van omtrent elke woord in hierdie perikoop is “omstrede”, en die studies wat aan hierdie perikoop gewy is en die hoeveelheid literatuur wat daaroor gepubliseer is, is werklik verstommend. Daarby is die debatte oor die betekenis van hierdie perikoop dikwels emosioneel, omdat dit die posisie van die vrou raak. Ek dink dus dat ‘n bepaalde voorlopigheid en beskeidenheid (wat deel moet wees van elke Skrifverklaring) veral ook hier gepas is.

2.      Tog het ek na die jare se besig wees met hierdie Skrifgedeelte vrymoedigheid om my oortuig te stel dat hierdie perikoop nie direk gemoeid is met (soos jy dit stel) “die geslagsrolle tussen man en vrou binne die gemeente” nie. Ek dink dat dit eerder die posisie van die vrou in die samelewing (en dan in die eerste plek die samelewing van Efese [ongeveer 63 nC]) is wat hier in fokus staan. Paulus gee m.i. hier  oorskrifte aan die gelowige vroue van Efese oor hoe hulle hulle moet gedra om in hulle samelewing geloofwaardige en effektiewe getuies vir God kan wees (“God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” [1 Tim 2:3-4]).Ter oorweging hiervan gee ek die volgende redes:
a.      Die woorde “samekoms” en “in die erediens” (soos in die 1983-Afrikaanse Vertaling by 1 Timoteus 2:8 en 11) kom nie in die grondteks voor nie, maar is invoegings wat berus op ‘n interpretasie van die
vertalers. Die 1933/53-Vertaling gee ‘n bronteksgeoriënteerde weergawe: “… op elke plek moet bid …” en “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid”.
b.      Die breër perikoop (1 Tim 2:1-3:16) word omarm deur ‘n inclusio waarin die fokus op die redding van alle mense in die samelewing val (1 Tim 2:1 [gebed om redding vir “alle mense”]; 1 Tim 3:15-16 [“aan heidennasies verkondig” en “in die hele wêreld geglo”]). Die samelewing (en nie die erediens/gemeente nie) is dus in hierdie gedagte-eenheid in fokus.
c.      Die οὖν (dus) waarmee die opdragte in 2:8 ingelei word, dui op ‘n gevolgtrekkende verbintenis met die voorafgaande gedeelte waarin ‘n oproep gedoen word om gebede vir alle mense en gesagsdraers ter wille van “’n rustige en stil lewe” (in die samelewing) (1 Tim 2:1-2). Hierdeur kom dus die lewe in die algemene samelewing, en nie die erediens/gemeente nie, in fokus.
d.      Die grondteks verwys in die voorskrifte aan mans (1 Tim 2:8) bloot na “elke plek” (ἐν παντὶ τόπῳ) en nie na “by elke erediens” nie.
i.      Paulus gebruik die uitdrukking ἐν παντὶ τόπῳ (“in/op elke plek”) slegs op drie ander plekke in die Nuwe Testament. Elke keer het dit ‘n algemene en nie-kultiese (nie-erediens) betekenis: “waar ook al” (1 Kor 1:2), “oral” (2 Kor 2:14) en “oral” (1 Tess 1:8).
ii.     Die blote verwysing na “gebed” in die voorskrif aan mans kan nie sonder meer tot die gevolgtrekking lei dat gemeentesamekomste (eredienste) hier ter sprake is nie. Die Nuwe Testament getuig dat daar op ‘n wye verskeidenheid van plekke gebid is: Onder meer op straathoeke (Matt 6:5), in die berge (Luk 6:12), in ‘n tuin (Mark 14:32), onder ‘n vyeboom (Mark 11:24), in die huis (Hand 9:11), op die dakstoep (Hand 10:9), in die binnekamer (Matt 6:6), in die tronk (Hand 16:25). Dieselfde Paulus wat hier aan die woord is, roep gelowiges ook op om “sonder ophou” (dus voortdurend en oral) “te bid” (προσεύχομαι) (1 Tess 5:17).
iii.    Verder is die voorskrif in 1 Timoteus 2:8 dat mans “sonder toorn en twis” moet bid, ook ‘n aanduiding dat gedrag in die algemene samelewing (waar toorn en twis voorkom) en nie spesifiek die erediens nie – hier in fokus is.
e.      Nie een van die voorskrifte aan vroue in 2:9-13 het op hulle eie ‘n spesifieke kultiese (erediens/gemeentelike) gerigtheid nie.
i.      Wat die voorskrifte vir vroue se kleredrag en “versiering”(1 Tim 2:9) betref – is dit hoogs onwaarskynlik dat hierdie reëls net vir die erediens/gemeente-aktiwiteite sou geld en dat gelowige vroue buite die erediens hulle maar kon klee en versier soos hulle wou.
ii.     Die opdrag tot “goeie werke” (1 Tim 2:10) is ooglopend op die lewe buite (vóór en ná) die erediens gefokus omdat vroue nie net in die erediens/gemeente tot goeie werke opgeroep word nie.
iii.    Alhoewel die opdragte aan vroue om nie te leer (διδάσκειν) (1 Tim 2:11) of onderrig te gee nie (μανθανέτω) (1 Tim 2:12), wel in die Nuwe Testament op gesagvolle geloofsonderrig dui, vind hierdie geloofsonderrig nie net in die erediens plaas nie. Louw & Nida (1989:I:413) definieer die begrippe as: “to provide instruction in a formal or informal setting”. Paulus “leer” (διδάσκων) byvoorbeeld in Rome mense gewoon aan huis (Hand 28:31), terwyl kinders volgens 1 Timoteus 5:4 die opdrag kry om eers (in die algemene lewes) “te leer” (μανθανέτω) hoe om hulle pligte teenoor hulle eie huis na te kom.
iv.     Ook Paulus se verbod op gesagsuitoefening (αὐθεντεῖν) deur vroue (1 Tim 2:12) kan nie direk op die erediens/gemeente betrek word nie. Die begrip αὐθεντεῖν is ‘n hapax legomenon (enigste vermelding) in die Nuwe Testament en word in bronne buite die Bybel vir gesagsuitoefening in ‘n wye verskeidenheid van kontekste gebruik (Baldwin, 2005:39-52).
f.      Die motiverings wat Paulus vir die opdragte gee (1 Tim 2:13-15) en waarop die voorskrifte aan vroue berus, het betrekking op vroue se hele lewe en nie spesifiek hulle rol in die gemeente/eredienste nie.
i.      Die eerste motivering is die skeppings(volg)orde (1 Tim 2:13). Wanneer die skeppings(volg)orde as normatief en bepalend vir vroue se gedrag teenoor mans gereken word, kan die voorskrifte wat daarop berus nie net vir die kultus (erediens) geld nie. Hulle geld dan vir die vrou se totale lewe op aarde, aangesien die vrou nie net met die oog op die erediens (ná Adam) geskape is nie.
ii.     Die tweede motivering is die feit dat juis Eva mislei is en oortree het (1 Tim 2:14). Weereens raak hierdie optrede van Eva nie net die kultus (erediens) nie. As Eva se verleiding en oortreding bepalende implikasies vir vroue se posisie en gedrag teenoor mans het, geld die voorskrifte wat daarop berus vir die vrou se totale lewe op aarde.
iii.    Die derde motivering (“om kinders in die wêreld te bring” [τεκνογονίας] en in geloof, liefde en toewyding te volhard) (1 Tim 2:15) dui ook nie op sake wat spesifiek in die gemeente/erediens plaasvind nie.
g.      Nie een van die verdere vereistes vir ouderlinge of diakens in die breër perikoop (1 Tim 2:1 – 3:16) het ‘n spesifieke kultiese (gemeente/erediens-) fokus nie. Dit gaan in hierdie voorskrifte glad nie oor wat die ouderling of diaken (in die gemeente/erediens) moet kan doen nie, maar eerder oor watter soort persoon hulle (in die samelewing) moet wees. Ook in hierdie opsig is die samelewing dus in die opdragte wat Paulus in die breër perikoop gee, in fokus.

3.      Oor die “redding” van vroue in 1 Tim 2:15 – die volgende paar opmerkings ter oorweging
a.      Alhoewel (soos jy aantoon) die woord vir “red” (sozo) – wel in die Nuwe Testament vir  lgemene/fisiese redding gebruik word, is die onmiddellike konteks waarin dit in 1 Timoteus gebruik word, duidelik redding in geloofskonteks. God openbaar Homself in die gedeelte as “God ons Verlosser” (2:3) wat “wil hê dat alle mense gered word” (2:4) en Jesus Christus as “Middelaar tussen God en die mense” (2:5). Die voorskrifte (imperatiewe) aan mans en vroue word deur die οὖν (dus/gevolglik) in Vers 8
kousaal aan hierdie openbaring (indikatief) verbind.
b.      Foerster & Fohrer (TDNT, 1971:VII:992) wys daarop dat Paulus die gebruik van “sozo” beperk tot die verhouding tussen God en mens, en dat hy vir redding uit ander gevare “hruomai” gebruik.
c.      Die motiverende deel van Paulus se voorskrifte aan vroue (2:13-15) het ook ‘n bepaalde opbou (skepping – sondeval – redding) wat sterk daarop dui dat redding in geloofskonteks hier bedoel word.
d.      Mede om die redes wat jy genoem het (redding kom deur geloof alleen en nie deur kinders in die wêreld te bring nie) reken ek dat oorweging geskenk moet word om “redding” in 2:15 in eskatologiese sin te verstaan (die finale en volledige verlossing uit hierdie wêreld met die terugkoms van Christus, en redding in die oordeelsdag). Paulus verwys op verskillende plekke hierna, waaronder 1 Kor 3:5, 5:5; Rom 13:11; Fil 1:28; 1 Tess 5:8; 2 Tim 3:15.
e.      Die voorskrifte wat Paulus in 1 Tim 2:8-12 gee, is duidelik op gelowige mans en vroue gerig – persone wat reeds (deur geloof) “gered” is, maar wat nog die finale eskatologiese redding verwag.
f.      Omdat die “oortreding” van Eva (en gevolglik die oordeel van God) in 1 Tim 2:14 aan die orde gestel word, is dit nie onwaarskynlik dat die finale eskatologiese redding op die oordeelsdag in 2:15 ter sprake is nie.

4.      ‘n Ander oorweging wat nie algemeen in die verklaring van hierdie gedeelte in berekening gebring word nie, is die genre van 1 Tim 2:13-15 (die motiverende deel vir die voorskrifte aan vroue). Meesal word 1 Timoteus 2:13-15 de facto as prosa geïnterpreteer, terwyl daar aanduidings is dat hierdie verse moontlik ‘n tipologie bevat, wat tipologies verstaan moet word.
a.      Dit is nie vreemd dat Paulus (as opgeleide Rabbi) tipologie gebruik nie. Hy doen dit ook as hy na Adam as tipe van Christus verwys (Rom 5:12-21) en na die vrou as tipe van die kerk (Ef 5:21-33).
b.      Selfs op sigwaarde is dit duidelik dat Paulus Adam en Eva in 1 Timoteus 2:13-15 as tipes vir die gelowige man en vrou gebruik. Dit is ook nie uitgesluit dat ‘n verdere (geheel of gedeeltelike) tipologiese
aanduiding van Christus (Adam) en die kerk (Eva/vrou) in hierdie verse teenwoordig is nie.
c.      In onderskeid van prosa, wat ontologies verklaar word, moet ‘n tipologie tipologies verklaar word. Dit beteken dat met ‘n ontologiese  erklaring die wesenlike werklikheid in fokus is, terwyl in ‘n tipologiese
verklaring ‘n ander (aangeduide of eskatologiese toekomstige) werklikheid in fokus is. Die futurum σωθήσεται (“sal gered word”) in 2:15 vind om begryplike redes nie maklik in ontologiese verklaring van die eksegese ‘n plek nie, terwyl dit wel in ‘n tipologiese verklaring ‘n plek sal hê as aangeduide eskatologiese werklikheid (van die vrou/kerk/Eva wat gered is deur die geboorte [van Jesus Christus]; en finaal gered (sal word) as sy volhard met geloof, liefde en toewyding). Die futurum  word dan hier in
relatiewe sin (tov kindergeboorte) gebruik.

Ek erken dat bogenoemde opmerkings verdere besinning en studie verg en dat meerdere wysheid beslis nodig is. Terselfdertyd pleit ek deurlopend in die verstaan van hierdie Skrifgedeelte vir ‘n konsekwente eksegese en hermeneuse van al die voorskrifte in 1 Tim 2:8-12, en dat daar ewewigtig te werk gegaan
word in die toepassing van elkeen van hierdie  voorskrifte in ons eie leefwêreld vandag.

Seënwense en groete,
Wim Vergeer.

…ooo000OOO===X===OOO000ooo…

Prof. Malan laat die klem weer op iets anders val:

Van Prof. Francois Malan het ek die volgende insiggewende bespreking van die posisie van die vrou in die samelewing en spesifiek in Efese ontvang.

Ek heg dit hier aan vir u kennisname.

Die benaderings tot die verklaring van die verse kan in drie hoofgroepe verdeel word:

(i)      Die tradisionele hiërargiese verklaring wat vroue verbied om mans in die gemeente se samekoms te onderrig op grond van die skeppingsordinansies wat vir die hele kerk vir altydgeld.

(ii)    Die feministiese rekonstruksie van die vroeë kerk wat hierdie tipe tekse nie as maatstaf aanvaar nie, omdat dit die toepassing van die mens se bevryding wat Paulus se evangelie verkondig belemmer, en daarom geskrap moet word.

(iii)   Die derde groep begin by Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van man en vrou, en sien hierdie tekse as ‘n uitsondering wat aan ‘n spesifieke gemeente vir ‘n spesifieke tyd se probleme aanwysings gee. In 1 Timoteus waarsku Paulus juis teen ‘n valse leer wat sy kop uitgesteek het in die gemeente van Efese, waar Timoteus leiding moet gee. (Die derde verklaring word hieronder kortliks verduidelik)

1 Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van gelowiges

In Galasiërs 3:28, moontlik die eerste brief van Paulus wat ons het, geskryf tussen 52-52 n.C., sê hy: Daar is nou nie meer Jood of Griek (term vir alle nie-Jode), nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle is almal één in Christus Jesus  (3:18) – almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus (v26).

In 1 Korintiërs, geskryf teen 54 of 55 n.C., waar spesifieke probleme kop uitgesteek het, wat ook weerklank gevind het in die vroue se drag en optrede in die gemeente, sê Paulus wel dat die man die hoof van die vrou is (11:3; hoewel die Griekse woord wat met hoof vertaal word, kefale, destyds eintlik na ‘n ‘bron’ verwys) en verwys hy eintlik na die algemene mode oor wat gepas is, wat nie sommerso oorboord gegooi moet word nie (11:13-15). Maar aanvaar hy wel dat dames in die samekoms van die gemeente bid en profeteer/preek (11:5).

In hoofstuk 12 oor die verskillende gawes van die Gees vergelyk hy die gemeente met ‘n liggaam: Want soos die liggaam ‘n eenheid is maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. En ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk (12:12-13).

In die brief aan die Kolossense, geskryf tussen 60 en 62 n.C., sê Paulus: By die nuwe mens, wat tot volle kennis en na die beeld van die Skepper vernuwe word, is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar (nie-Grieke) of selfs Skittiër (‘n volk wat destyds die toonbeeld van onbeskaafdheid was), slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal (3:10-11).

2 Vroue in die pauliniese gemeentes

Volgens Handelinge18:26 het Paulus se vriende (vgl. 18:1-3,18), die vrou Priscilla en haar man Akwila, vir die prediker Apollos na hulle huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Volgens Romeine 16:3-5, waar Priska ook eerste genoem word, was daar later ‘n huisgemeente in hulle huis, waar hulle die leiding sou geneem het.

In Handelinge 21:9 word verwys na die evangelis Filippus  in Sesarea se vier ongetroude dogters wat oor die gawe van profesie beskik het (soos ook in 1Kor 11:5 hierbo gemeld is van vroue wat bid en profeteer)

Junia en haar man Andronikus in Romeine 16:7 was medegevangenes van Paulus. Hulle het reeds voor Paulus een met Christus geword, en is hoog aangeskrewe by die apostels.

Febe was ‘n diakones in die gemeente Kenchreë, die hawedorp van Korinte. Sy was waarskynlik die draer van Paulus se brief aan die Romeine (Rom 16:1-2; waarskynlik geskryf in 55-56 n.C.).

Paulus vermaan die twee vroue in die gemeente in Filippi, Euodia en Sintige, wat saam met Paulus vir die saak van die evangelie gestry het,  om in die Here eensgesind te wees (Filippense 4:2-3; moontlik geskryf  tussen 59-61 n.C.).

3 Moontlike spesifieke probleme in die gemeente Efese wat in 1 Tim 2 aangespreek word (waarskynlik in 62-63 n.C. geskryf).

Die ryk vroue in die Romeinse ryk van Paulus se tyd het oorboord gegaan met uitlokkende  kleredrag, juwele en haarkapsels, wat na die seksuele vryhede van die prostitute gelyk het. Vir die meeste mense was die ‘nuwe vroue’ se optrede ‘n skande. Die vroue se gebruik van voorbehoedmiddels en aborsie om ‘n vrye lewe te kan geniet is ook wyd veroordeel. En toe die ‘nuwe vroue-beweging’ ook  in die gemeente van Efese sy kop uitsteek, het Paulus dit in 1 Tim 2:9 aangespreek, sodat die vroue se drag nie ‘n struikelblok vir die verkondiging van die evangelie word nie. Maar dat hulle met ‘paslike kleredrag’ sal tooi –die Griekse woord katastole verwys na kleredrag as ‘n simbool van jou gedrag. Haar uiterlike drag vertoon of sy eerbaar is of seksueel uitlokkend.

Volgens 1 Tim 1:3 was daar ook mense wat vreemde leringe versprei het in die gemeente (vgl. 6:20-21). In 2 Timoteus 2:18-19 word verduidelik dat hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het en dit het tot ongeregtigheid gelei. Hulle is in die strik van die duiwel gevange gehou om sy wil uit te voer (2 Tim 2:26). 1 Tim 4:1-3 sê die afvalliges verhinder mense om te trou en laat hulle sekere kossoorte vermy. In 1 Tim 5:11-15 word dan ook verwys na jong weduwees wat deur die valse leraars veroordeel word as hulle weer wil trou en ander wat weggelok word om met ongelowiges te trou. Die verbod op vroue om in die gemeente onderrig te gee of hulle mans te domineer (2:12) is miskien die gevolg van hulle verkondiging van hierdie vals leer.

Die mense van die valse leringe het gespekuleer oor die eerste hoofstukke van Genesis en dit verdraai (1:4; 4:1-5). Om die valse leer teen te gaan, wat vroue aanmoedig om die verdraaiing te verkondig om hulle optrede te regverdig en ander daartoe oor te haal, haal Paulus in 1 Tim 2:13-14 Genesis 2 en 3 aan. Maar in die lig van die rol van vroue in die pauliniese gemeentes is dit nie bedoel as ‘n algemene beginsel wat vir altyd geld nie, maar as argument in dié spesifieke situasie.

Die stelling in 1 Tim 2:15 is moontlik ‘n reaksie op die ‘nuwe vroue’ se afkeer om kinders te hê, en die  dwaalleraars wat vroue verbied om te trou (4:1-3). Met Genesis 3:16 se kindergeboorte in gedagte dring Paulus by Christelike vroue aan om ten volle voort te gaan in haar rol as ‘n moeder wat haar kinders baar, en nie tot aborsie van hulle oorgaan soos die ‘nuwe vroue’ en volgens die valse lering oor die huwelik nie, wat hulle ook sal laat wegdwaal van die pad van Jesus se verlossing af.

Die gedeelte oor die vroue word in 1 Tim 2:9-15 aan die begin en einde omsluit met die woordsoofrosune in verse 9 en 15 (die 1983-vertaling vertaal dit met ingetoë en beskeie; 2014-vertaling altwee keer met sober). Die woord beteken om ‘n situasie te verstaan en verstandig op te tree, fyngevoelig vir wat die beste is en met selfbeheersing. Dit vat die hele bespreking oor versiering , spraak, houding teenoor die huwelik, huishouding en kindergeboorte saam. Dit gaan oor die  indruk wat gelowige vroue se gedrag op die samelewing maak.

4 Toepassing van die gelykheidsuitsprake

Paulus werk met ‘reeds…nog nie.’ In Filippense 3:12 sê hy bv. van sy verlossing in Christus:  nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het.

Verlossing is ‘n proses wat progressief in elkeen se lewe moet deurwerk. In 2 Kor 3:18 skryf Paulus: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël (of: om dit te weerspieël), word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ So behaal ons oorwinning oor sonde en ou gewoontes en gebruike, en groei ons om al meer soos Jesus te word. Maar die finale oorwinning oor sonde vind eers met die opstanding plaas. So gaan dit ook in die kerk en samelewing.

In Filemon gee Paulus bv. aanwysings oor slawerny, dat die bekeerde slaaf Onesimus teurggaan as Filemon se geliefde broer (v16), maar hy veg nie vir die afskaffing van slawerny in sy tyd nie (vgl. bv. 1 Kor 7:20-14; Efesiërs 6:5-9; Kolossense 3:22-4:1). Die uitwerking van Galasiërs 3:28 se eenheid in Christus tussen slaaf en vryman op die gebruik van slawerny geskied eers in 1833met die vrystelling van die slawe  in die Britse Gemenebes en veroorsaak ‘n burgeroorlog in Amerika.

Die gelykheid van vroue en mans in die kerk moes ook eers wag vir die verandering van hulle rolle in die samelewing. In 1 Tim 2 trek Paulus terug van sy algemene reël toe ‘n nuwe sede aan die ontwikkel was in Efese terwille van die kerk se reputasie en sending in hulle samelewing waar die valse leer ‘n verswarende faktor was wat die proses vertraag het. Vandag sal dit onwys vir die Christendom wees om in die tradisionele Oosterse of Moslem konteks te vinnig met die toepassing van Galasiërs 3 te wees, omdat dit die boodskap van Christus en die geloofwaardigheid van die kerk in gevaar kan stel. Maar in die Weste kan te min en te stadig weer die getuienis van die kerk neutraliseer.

Francois Malan.

Mag beide besprekings vir u van waarde wees.

Seën,

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Konteks. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s