127 Hoe om twyfelendes te hanteer. Judas vs. 22 – 23.

In Judas verse 22 tot 23 het ons met ‘n interessante situasie te doen waarop geen klinkklare antwoord moontlik is nie. En wanneer ons dit in die Bybels lees, sien ons nie noodwendig die implikasies van die verskillende vertalings raak nie.

Lees ons die 1933 – Vertaling, kom drie interpretasie moontlikhede onmiddelik na vore:

1.) Moet jy jou eie keuse uitoefen deur aan sommige twyfelendes barmhartigheid te bewys, maar ander uit die vuur te ruk? 2.) Moet jy vrees gebruik om hulle uit die vuur te ruk, of moet jy self vrees, bedoelende versigtig wees? 3.) Moet jy hulle klere haat, of moet die klere figuurlik verstaan word as simbool van hul sondige lewenswandel?

1933/53: “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.”

Let op hoe verskillend ander vertalings hierdie twee verse hanteer:

1983: “Oor die wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.”

Die Bybel, ‘n Direkte Vertaling: 22 – 23: “Ontferm julle oor diegene wat twyfel, maar ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle ontferm, maar wees versigtig: verafsku selfs die onderkleed wat deur die liggaam besoedel is.”

Die Nuwe Lewende Vertaling sê dat jy drie groepe moet onderskei en elkeen uniek moet hanteer:

“Dié wat nog beluitloos is, moet julle met ontferming behandel. Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit.”

In die manuskripte self kom vyftien variasies voor, en elkeen maak sin.

Twee belangrike spekte speel hier ‘n belangrike rol:

Eerstens het woorde meer as een betekenismoontlikheid. So kan die Griekse woord “diakrino” twyfel óf onderskei beteken. Ook die Griekse woord “fobos” kan vrees, versigtig wees, of verskrik soos “bangmaak” beteken. Verder kan “sarks” as vlees verwys na die liggaam self, of figuurlik na die vleeslikheid as “sondigheid”.

Tweedens moet ondersoekend bepaal word watter woord ‘n spesifieke bywoord, deelwoord of byvoeglike naamwoord nader bepaal.

Die probleem is dat verskeie dele van die sin op verskillende plekke in die manuskripte voorkom. Dit verander dan die interpretasie of betekenis van die woord of selfs die van hele sin.

Let op die volgende meer prominente variasies wat voorkom.

Vers 22:

“Julle moet julle ontferm, oor die wat twyfel.”

“Julle moet aan die kaak stel (ontmasker), die wat twyfel.”

“Julle moet julle ontferm, maar onderskeid tref.” (tussen die twyfelendes of oor die metode wat julle gebruik.)

Vers 23a:

“Maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk.”

“Maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk, met versigtigheid.”

“Maar met vrees (verskrikking, bangmaak) red ander, deur hulle uit die vuur te ruk.”

Vers 23b:

“Oor ander moet julle julle met vrees ontferm, terwyl julle hulle onderkleed haat, wat met vleeslikheid (of met sondige luste) besmet is.”

“Oor twyfelendes moet julle julle versigtig ontferm, terwyl julle hulle (fiesiese) vuil onderkleed haat.”

“Oor twyfelendes moet julle julle ontferm, terwyl julle met versigtigheid hulle onderkleed (as beeld van ‘n sondige lewe) haat.”

  1. Eksterne kriteria.

Die eerste kriterium wat ons gebruik is om te bepaal watter weergawe deur die beste en oudste manuskripte tot ons beskikking ondersteun word. Hierin doen die United Bible Societies vir ons onskatbare waarde deur al die manuskripte wat oor die wêreld heen versprei is, in een boek saam te vat. Hulle stel ‘n teks voor, gebaseer op die objektiewe evaluering van al die manuskripte, en plaas dan ‘n samevatting van al die ander variasies in hul tekskritiese apparaat onder aan die bladsy beskikbaar.

Uit bogenoemde variasies moet die vertaler van die Bybel oplettend kies wat binne die konteks die grootste moontlikheid bied om ooreen te stem met die woorde van die oorspronklike outografie.

Afgesien van die groter variasies wat ek hier bo opgesom het, is daar ook verskeie kleiner variasies in die manuskripte. Die manuskripte is egter so gelyk versprei dat die United Bible Societies vir hul voorstel telkens ‘n “C” gradering gee. (…there is a considerable degree of doubt whether the text or the apparatus contains the superior reading…).

Uit die bestudering van die manuskripte waarin die variasies voorkom, kan ons gevolglik geen besliste afleiding maak nie.

  1. Interne kriteria.

Ons kyk vervolgens na hoe die variasies kon ontstaan het. As dit duidelik is dat ‘n variasie van A na B kon ontstaan het, maar nie van B na A nie, is die logiese gevolgtrekking immers dat A die oorspronklike sou wees. In hierdie verse wat ons ondersoek kan enige van die variasies na weerskante toe ontstaan het. Ons kan gevolglik geen direkte afleiding maak nie.

  1. Intrinsieke kriteria.

Nou kyk ons na die konteks en die betekenis van die woorde wat in die variasies voorkom.

Hier is twee sake van belang.

Eerstens is daar die verandering van “eleate” (ontferm) na “elengete” (ontmasker) wat ons as ‘n lees of skryffout kan verwerp.

Verder kom “fobos” (vrees) op drie verskillende posisies in die sin voor. Hiervoor kan daar geen voor die handliggende verklaring gegee word nie.

Die posisie waar “vrees” in die sin voorkom, veroorsaak dat dit op die een plek “uit die vuur ruk” beskryf, en elders “ontferm” beskryf.

Die plasing van “vrees” noodaak dat ons dit verskillend moet vertaal. Kyk na die volgende gevalle: “Met versigtigheid” moet moet julle twyfelendes uit die vuur ruk, of: “Met verskrikking” (bangmaak) moet julle twyfelendes uit die vuur ruk.

Wanneer “vrees” by die derde deel van die sin voorkom, is dit ‘n vermaning tot versigtigheid omdat hulle wat die sondige dade van die twyfelendes verafsku, self in versoeking kan kom.

‘n Laaste keuse wat die vertaler moet uitoefen is die verstaan en vertaal van die onderkleed wat deur die liggaam besoedel kan wees. Dit kan na die fisiese kleed verwys wat deur die dra daarvan deur sweet en ‘n vuil liggaam besoedel kan wees. Maar net sowel kan dit figuurlik verstaan word as die psigiese ingesteldheid wat deur die sondige lewe as “vleeslik” besoedel is. Dit kan ook direk verstaan word as verwysend na ‘n sondige lewenswandel. Hier is die moontlikheid dat die twyfeling self die sonde kan wees wat vemy moet word. Die gevaar is dat in die hantering van die twyfelende persoon, die dissipel self kan begin twyfel.

Al hierdie variasies en interpretasies stem met die Grieks ooreen. Die Bybelvertaler is daarom genoodsaak om sy eie keuse uit te maak van hoe hy dit verstaan, en watter variasie hy kies as die een wat die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike boodskap oor te dra. Ons wil immers die Woord van God hê soos die Heilige Gees dit vir Judas geïnspireer het.

Gevolgtrekking.

In hierdie twee verse kan enige van die variasies die oorspronklike wees. Dit is moontlik die veiligste om die United Bible Societies se voorstel te aanvaar. Maar selfs dan nog moet die Bybelvertaler met versigtigheid besluit hoe die teks vertaal moet word. Moet dit bloot fisies verstaan word of eerder figuurlik? Moet iemand met bangmaak uit die vuur geruk word? Moet ons twyfelendes se klere verafsku, of is dit hulle lewenswandel, of dalk hulle twyfel self? Moet ons hulle versigtig aanspreek, of moet ons versigtig wees om self nie te begin twyfel nie?

Die weg van die minste weerstand is natuurlik om maar net te kies vir dit waaraan ons gewoond is, maar is dit die regte en verantwoordelike weg om te volg?

Met groot respek haal ek my hoed af vir elke Bybelvertaler wat hier gedwing was om sy keuse uit te oefen. Dit gaan om verantwoordelik voor God met sy Woord om te gaan!

Seën

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

4 Responses to 127 Hoe om twyfelendes te hanteer. Judas vs. 22 – 23.

  1. Wanneer die betekenis van ‘n teksvers vir ‘n leser van die bybel onduidelik is, glo ek hy moet probeer vasstel wat daar in die gemoed van die skrywer was toe hy die woorde geskryf het. In die geval dan van Judas verse 22 en 23: Die eerste ding wat my opgeval het, is dat hy in hierdie verse praat van ‘twyfelaars’ of ‘mense wat twyfel’, en dan vra ek myself af: Waaraan sou die ‘twyfelaars’ wat Judas hier in gedagte het, getwyfel het? Judas praat van mense wat sy lesers se geledere binnegedring het en ‘n sekere boodskap verkondig het wat blykbaar die mens se natuurlike drange op een of ander manier wil regverdig en inhou dat God diegene wat uiting gee aan hulle natuurlike drange, ongestraf sal laat. Daarom sê hy: ‘Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus. Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het.’
    Dit blyk dus dat wanneer hy van ‘twyfelaars’ praat, hy twyfel aan die straf van God op sulke dade deur GELOWIGES in gedagte had, m.a.w. dat ‘n mens se geloof in God die gelowige sou vrystel van enige straf, selfs al word die gelowige deur sy eie natuurlike drange voortgesleep.

    Nou oor die ontferming oor- of die bewys van barmhartigheid aan ‘n persoon wat twyfel dat God sulke losbandigheid sal straf: Ek meen dat Judas hier in gedagte het en sy lesers aanmoedig om hulle wat hieraan twyfel nie te verwerp nie, maar om sommiges met liefde en erbarming te wys op wat die Vader by monde van sy Seun geleer het, maar om strawwer op te tree teenoor hulle wat op een of ander wyse sulke dade probeer goedpraat deur hulle bv. te wys dat gelowiges eerbied en respek vir hulle eie liggame en vir God se Wet en gebooie moet hê en om selfs sover te gaan om God se oordeel oor hulle wat sulke dade probeer regverdig, uit te spreek. Judas bewoord hierdie gedagte soos volg: Aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys (bearbei); maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk.

    Vervolgens oor die ‘kleed’ wat deur sonde bevlek is: By die lees van die hele brief is dit duidelik dat Judas hier van mense praat wat ‘deur hulle eie goddelose begeertes beheers word’ en dan praat hy van hulle klere wat ‘deur sonde bevlek is’ of ‘deur hulle sondige luste besmet is’. Persoonlik kan ek nie dink hoekom Judas spesifiek van diesulkes se fisiese kledingstukke sou praat nie, klink dit tog vir my asof hy wél diesulkes se fisiese klere in gedagte gehad het.

    • Dankie Chris vir hierdie interessante bestudering van die verse en die konteks waarbinne dit verstaan moet word. Jy raak ‘n aantal diep en ware punte aan.
      Wat in my studies van belang is, is dat die Bybelvertaler eers die korrekte vertaling aan ons moet bied. Dan kan die interpretasie daarvan gemaak word. Indien ons die vertaling laat beïnvloed deur ons verstaan of toepassing van die boodskap, span ons natuurlik die kar voor die perde. Dit is waarom die intrinsieke kriteria wat die konteks en die gebruik van woorde deur die betrokke skrywer of spreker in die teks so uiters versigtig en delikaat hanteer moet word. Vanuit die teks moet ons na die betekenis en toepassing gaan, maar ons mag nie vanuit ons verstaan of toepassing van die teks ons vertaling daarvan laat beïnvloed nie.

      • Ek hoor en verstaan baie duidelik wat jy sê, Herman, maar DIT is waar wanneer ‘n persoon meer bekommerd is oor die VERTALING van ou manuskripte as oor die GEDAGTE wat die skrywer in sy gemoed gehad het! Ek het jare gelede vir die Vader gevra waarom dit skyn asof die versekering wat Hy in Jesaja 55:10-11 en verder gee, nie bewaarheid word nie: “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”
        Sy antwoord was dat baie gelowiges, hoewel hulle met die bybel te doen het wat veronderstel is om die Woord van God te wees, hulle nie met SY GEDAGTES AGTER die woorde te doen het nie, maar met die gedagtes van mense . . . .
        Soos reeds gesê, verstaan ek behoorlik wat jy sê en hoe jy redeneer en waarna jy soek, maar, soos jy seker al agtergekom het vanuit my kommentare, is DIE GEDAGTES van God vir my belangriker as die woorde wat in die bybel gebruik word, en daarom kyk ons met verskillende ‘brille’ na hierdie dinge!

      • Weereens Chris, om by interpretasie en toepassing van die Woord te kom, moet ons by ‘n suiwer teks kom soos wat God dit gegee het. Iemand se eie interpretasie, aanpassings of veranderinge van wat God laat neerskryf het, moet beperk of uitgeskakel word. En dis waarop my studies en hierdie blog gerig is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s