128 Bronteks

128 Bronteks.

Hieronder volg ‘n uittreksel van my boek oor die redes vir die verskille tussen ouer vertalings van die Bybel soos die “King James Version” en die 1933/53 “Die Bybel”, teenoor moderne vertalings soos die 1983 “Die Bybel, Nuwe Vertaling” asook “Die Bybel, ‘n Direkte Vertaling” en talle ander moderne onafhanklike vertalings.

Ek haal aan:

Aanvanklik is afskrifte van die oorspronklike outografieë van die verskillende briewe en die ander boeke van die Nuwe Testament deur individuë of professionele kopieerders gemaak. Hierdie afskrifte is soms op papirus of op perkament gemaak. Ons noem alle handgeskrewe afskrifte manuskripte om hulle te onderskei van gedrukte weergawes wat natuurlik eeue later eers ontstaan het.

Oor die wêreld versprei, in kloosters, biblioteke en museums, en selfs in privaat besit is daar meer as 5800 manuskripte van die Nuwe Testament. Sommige van hulle is net ‘n fragment van ‘n enkele bladsy wat letterlik net ‘n deeltjie van ‘n vers uit die Bybel bevat. Ander is meer volledig en bevat soms ‘n bybelboek of twee, of die vier evangelies, of die briewe van Paulus, en so meer. Ander bevat die hele Nuwe Testament, met of sonder sommige apokriewe boeke, en dan is daar manuskripte wat die volledige Ou en Nuwe Tesatamente, ook met of sonder sekere apokriewe boeke bevat.

Soos met alle werk wat deur die mens gedoen word, het foute, regstellings  en veranderings deur die kopieerders ook in hul afskrifte ontstaan. Daarom is daar nie twee manuskripte wat presies met mekaar ooreenstem nie. Mense het ook nog altyd nota’s in die kantlyne van hul Bybels geskryf. Dikwels is hierdie nota’s gesien as iets wat uit die afskrif uitgelaat was, en daarom bygevoeg moes word. Dit is ook logies dat enige verandering, hetsy doelbewus of ongemerk, wat in ‘n kopie ontstaan het, in opvolgende kopieë herhaal sou word. Daarom is dit te verstane dat latere kopieë in die meeste gevalle langer en meer uitgebreid is as die oudste manuskripte. Maar hoe bepaal ons watter bewoording aanvanklik deur die Bybelskrywers onder inspirasie van die Heilige Gees neergeskryf was? Dit sou werklik onverantwoordelik wees om een spesifieke manuskrip te verklaar as dié afskrif van die oorspronklike outografieë wat sonder fout 100% die oorspronklike weergee.

Seker die belangrikste keuse in die vertaling van die Nuwe Testament, is daarom die keuse van die bronteks wat vertaal sal word. Op grond waarvan bepaal die Bybelvertaler watter woorde die grootste moontlikheid het om die oorspronklike woorde wat deur die Heilige Gees aan Bybelskrywers self geïnspireer is, te wees?

Die Keuse van ‘n Bronteks vir die Nuwe Testament.

Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf. In ons Bybels staan daar geskrywe: “Vertaal uit die oorspronklike Griekse Tekste” of iets soortgelyks. Om ‘n vertaling te maak moet daar gevolglik ‘n Griekse teks gekies word vir hierdie vertaling. Hiervoor word hoofsaaklik tussen drie brontekste van die Nuwe Testament gekies. In die verlede is meestal van die Textus Receptus gebruik gemaak, maar sedert 1898 word eerder die Nestle – Aland en sedert 1966 die United Bible Societies se teks gebruik. Die Griekse Ortodokse Kerk gebruik hulle eie bronteks vir hul amptelike Bybels.

Wat is ‘n bronteks?

As Christene wil ons ‘n vertaling van die Nuwe Testament hê soos wat die oorspronklike outeurs dit onder die leiding van die Heilige Gees neergeskryf het. Maar ons besit nie meer die oorspronklike outografië nie; slegs afskrifte.

Die oudste volledige Nuwe Testament wat behoue gebly het, is die Kodeks Sinaïtikus wat ±350 n.C. gekopieer is. Dan is daar die Kodeks Vatikanus uit dieselfde tyd, maar sy teks kort verskeie bladsye. Openbaring was moontlik van die begin af nie in die Vatikanus ingesluit nie, en die huidige kopie van Openbaring is ‘n laat invoeging. Dan is daar ook die ±380 Washingtoniënsis en ±450 Aleksandrinus. Maar al hierdie manuskripte verskil van mekaar op verskeie plekke. So verskil alle manuskripte op verskeie plekke van mekaar. Ons kan tog nie een manuskrip van watter tyd ookal kies en verklaar dat dit die oorspronklike bewoording bevat nie.

Daarom is dit noodsaaklik dat ons uit al die beskikbare tekste dié bewoording probeer vasstel wat die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike te verteenwoordig. Daar is meer as 6800 Griekse manuskripte beskikbaar. Party daarvan is ‘n fragment wat letterlik net ‘n deel van ‘n versie of twee bevat, ander weer bevat ‘n evangelie of ‘n bundel met al Paulus se briewe. En hierdie manuskripte is oor die wêreld heen versprei, in kloosters, biblioteke en museums. Gelukkig het ons vandag toegang tot alle beskikbare manuskripte en kan ons almal met mekaar vergelyk. Nou kan kenners van die Griekse taal hierdie manuskripte vergelyk en dié bewoording kies wat die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike outografie te verteenwoordig. Daar is ook meer as 18,000 manuskripte beskikbaar van vertalings van die Nuwe Testament in antieke tale. ‘n Vertaling gee aan ons die versekering dat daar ‘n Griekse manuskrip in daardie tyd en plek was waar daardie vertaling gemaak is, wat daardie betrokke bewoording bevat het. Dit help ook om die woorde te evalueer. Maar ‘n derde bron wat ons help om die oorspronklike woorde te bepaal, is die aanhalings van die kerkvaders gedurende die eerste eeue. As iemand uit die eerste eeue in ‘n geskrif sou sê “Paulus het aan die Romeine  geskryf dat hulle … moet doen…”, is dit mos ‘n aanduiding van wat in sy Bybel gekrywe was.

Deur al hierdie bronne te vergelyk, word dan ‘n teks saamgestel en aangebied om as ‘n moontlike bronteks vir die vertaling van die Nuwe Testament te dien.

Watter brontekste is beskikbaar?

Daar is vier tekste beskikbaar wat as brontekste aangebied kan word.

  1. Die Amptelike Teks van die Grieks Ortodokse Kerk. Hierdie teks is in 1904 deur die Ekumeniese Patriargaat van Konstaninopel gepubliseer. Dit is hoofsaaklik gebaseer op minuskul manuskrip 1495 (±1350 n.C.) wat die evangelies, die algemene briewe en 1 Korintiërs bevat. Dit is verder aangevul en aangepas uit verskeie ander laat middeleeuse manuskripte. Dit word as finale afgehandelde teks aangebied en gee nie redes vir hul keuse of enige aanduiding van variasies nie. Hierdie teks word wel binne die betrokke Kerk gebruik maar nie daarbuite nie.
  2. Die Textus Receptus. Hierdie teks is aanvanklik deur Desiderius Erasmus in 1516 saamgestel uit twee manuskripte elk op die evangelies, die Pauliniese briewe; die algemene briewe en een onvolledige manuskrip op Openbaring. Al vyf hierdie manuskripte dateer uit die laat middeleeue, en bevat daarom talle variasies en invoegings wat deur die herhaalde oorskryf van die Nuwe Testament ontstaan het. Om met die Roomse Vulgaat ooreen te stem, het Erasmus ook verskeie aanpassings gemaak en verse ingevoeg en uitgebrei soos hy nodig geag het. Hy het ook sy eie unieke aanpassings gemaak wat in geen Griekse manuskripte voorkom nie. Dit verskil met meer as 2000 plekke van die standaard Griekse teks. Met die publikasie daarvan het dit egter in ‘n groot behoefte voldoen en is wyd versprei. Hoewel baie leemtes en foute van die begin af daarin uitgewys is, is sommige nooit reggestel nie. Daar word geen motivering vir die keuse van ‘n bepaalde variasie gegee nie en ook geen aanduiding van watter variasies in manuskripte voorkom nie. Dit word aangebied as ‘n afgehandelde finale produk van die persoonlike keuse van Erasmus, soos verder verander en aangepas deur verskeie later drukkers van hierdie teks. Vanweë die beskikbaarheid van hierdie teks, is dit letterlik vir eeue as standaard bronteks onbevraagtekend vir vertalings gebruik. Die King James Version en die 1933/53 Afrikaanse vertaling is van die bekende vertalings wat hierdie teks as bronteks gebruik.
  3. Nestle – Aland teks. Eberhard Nestle het in 1898 ‘n teks saamgestel waarin hy die oudste en mees betroubare Griekse manuskripte bestudeer en benut het. Hy het ‘n lys onder aan elke bladsy gepubliseer van die variasies wat in die verskillende manuskripte voorkom. Sy werk is later aangevul en uitgebrei deur Kurt Aland. Die tekskritiese apparaat wat die variasies aandui wat in manuskripte oor die wêreld versprei is, is meer volledig uitgebrei. Nou het die Bybelvertaler nie net ‘n afgehandelde keuse van een persoon nie, maar kan hy self ‘n oorsig kry van watter manuskripte die keuse van die teks ondersteun en watter manuskripte ‘n ander woord, sin of selfs paragraaf bevat. Die Bybelvertaler kan nou self besluit of hy die keuse van Nestle en Aland aanvaar, en of hy ‘n ander variasie verkies. Ook stel dit hom instaat om te kan evalueer watter variasie die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike manuskrip te verteenwoordig. Hy is nie uitgelewer aan die keuse van ‘n enkeling nie. Ongelukkig is die tekskritiese apparaat moeilik ontsyferbaar omdat daar van ingewikkelde simbole en merkers gebruik gemaak word.
  4. United Bible Societies Text. Gedurende 1955 het die Vereniging vir Bybelgenootskappe begin om ‘n nuwe teks saam te stel wat in 1966 gepubliseer is. Vir hierdie teks is alle beskikbare Griekse manuskripte (6800+) asook die manuskripte van antieke vertalings (18000+) asook die aanhalings van meer as 200 kerkvaders in ag geneem en die variasies in die tekskritiese apparaat geplaas. Hulle bied ook ‘n evaluasie van hul keuse in ‘n gradering van A tot E by elke variasie, waar A absolute sekerheid voorstel, tot E waar die variasie net soveel moontlikheid het om die oorspronklike outografie te verteenwoordig as die gekose teks. Hierdie gradering is op die manuskripbewyse gebaseer. Met ‘n internasionale en interdenominasionale komitee is die kans gering dat die keuse van teks ideologies of denominasioneel of dogmaties beïnvloed kan word. Die tekskritiese aparaat is maklik verstaanbaar en baie volledig. Weereens word aan die Bybelvertaler ‘n saamgestelde teks gebied, maar met al die variasies in die beskikbare manuskripte op geordende wyse onder aan die bladsy aangebied. Hierdeur het die Bybelvertaler alle tersaaklike materiaal beskikbaar sodat hy ‘n ingeligte besluit kan neem.

Uit bogenoemde gegewens is dit duidelik dat die Amptelike Teks van die Grieks Ortodokse Kerk, deur hul dogma beïnvloed kan wees, en in wese eintlik net ‘n vertaling van ‘n enkele laat middeleeuse manuskrip is. Onbevraagteken bevat dit talle veranderinge of byvoegings wat deur die eeue van kopieer van kopieë ontstaan het. Die vertaler word gekonfronteer met ‘n teks wat deur ‘n komitee gekies en afgesluit is sonder enige beweegruimte.

Die Textus Receptus is ook ‘n afgeslote teks op grond van die persoonlike keuse van Desiderius Erasmus. Hy het aan Pous Leo X geskryf dat hy sy eie aanpassings gemaak het om die Griekse teks te “verbeter”, en om dit met die Roomse Vulgaat te laat ooreenstem. Die manuskripte wat hy gebruik het was ook almal laat middeleeuse manuskripte wat dieselfde gevaar het om veranderinge en byvoegings te bevat wat nie ondersoek en geëvalueer is nie.

Die Nestle Aland – teks bied ‘n teks waar die motivering vir ‘n bepaalde keuse gekontroleer kan word. Verder het die vertaler ‘n oorsig oor al die manuskripte wat oor die wêreld versprei is, sodat hy self sy eie keuse kan uitoefen.

Die United Bible Societies – teks bied ook die keuse aan die vertaler, maar het ‘n nog groter oorsig oor al die beskikbare manuskripte, nie net in Grieks en die antieke vertalings nie, maar selfs die aanhalings van 200+ kerkvaders.

Keuse van ‘n Bronteks.

Wanneer ‘n Bybelgenootskap of enige ander vertaler die Nuwe Testament wil vertaal en aanbied as “vertaal uit die oorspronklike Grieks” is die keuse van watter bronteks gebruik word, ‘n uiters verantwoordelike saak. Dat baie Christene gewoond is aan die 1933/53 – Bybel, en lief is daarvoor kan nie betwyfel word nie. So voel sommige mense oor die 1983 – Bybel. Dat enige afwyking daarvan onsekerheid en selfs ontsteltenis kan veroorsaak, is te verstane. Elke Christen moet homself afvra: “Wil ek ‘n Bybel hê wat deur ‘n enkele persoon na sy eie keuse aangepas en gemanipuleer is, of wil ek ‘n Bybel hê wat die grootste moontlikheid bied om die Woord van God aan my te gee, soos aanvanklik deur die Heilige Gees geïnspireer is?

Oplossing

Omdat ons nie almal Grieks magtig is nie, of toegang tot die beskikbare tekste en variasies het nie, bied ek in my boek die inligting wat beskikbaar is. Daarmee wil ek my lesers bemagtig om self die feite te bestudeer en ‘n ingeligte besluit te neem oor watter vertaling van die Nuwe Testament die betroubaarste sou wees.

My boek “Bybelverskille, die oorsake” wat meer as 100 verskille tussen die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling en moderne vertalings hanteer, is tans net by myself beskikbaar. Kontak my gerus via my e-pos by bibledifferences@gmail.com of per SMS by 27725670559

Seën,

Herman.

 

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Antieke Vertalings, Desiderius Erasmus, Kerkvaders, Oorspronklike Outografie, Textus Receptus, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

2 Responses to 128 Bronteks

  1. Dankie vir die artikel. Dit sê wat bel;angrik is op n eenvoudige manier. Veral die aanhaling is goed geskryf en kan berusting bring:

    “Dat baie Christene gewoond is aan die 1933/53 – Bybel, en lief is daarvoor kan nie betwyfel word nie. So voel sommige mense oor die 1983 – Bybel. Dat enige afwyking daarvan onsekerheid en selfs ontsteltenis kan veroorsaak, is te verstane. Elke Christen moet homself afvra: “Wil ek ‘n Bybel hê wat deur ‘n enkele persoon na sy eie keuse aangepas en gemanipuleer is, of wil ek ‘n Bybel hê wat die grootste moontlikheid bied om die Woord van God aan my te gee, soos aanvanklik deur die Heilige Gees geïnspireer is?”

    Ek gebruik tans graag “Die Bybel vir Almal” op Kindle.

    • Dankie vir jou besoek aan my blog en jou kommentaar.
      “Die Bybel vir Almal”, wat aanvanklik spesifiek vir die dowe gemeenskap vertaal en beskikbaar gestel is, is ‘n uitstekende Bybel. Soms neig dit na ‘n parafrase (meer beskrywend en nie direk nie) maar so duidelik en suiwer. Beslis een van ons beste Bybels in Afrikaans!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s