133 Komma Johanneum in die King James Version.

Binne ‘n paar dae sal dit 500 jaar wees sedert Erasmus die eerste Griekse Nuwe Testament op 1 Maart 1516 gepubliseer het. Voor daardie tyd moes elke kopie van die Nuwe Testament met die hand gekopieer word. Erasmus se teks het later bekend gestaan as die Textus Receptus (Die Teks wat Ontvang is). Hierdie teks is onbevraagteken algemeen gebruik vir die vertaling van die Nuwe Testament, soos onder andere die King James Version en die 1933/53 Afrikaanse Bybel.

Wat hier volg is my vrye vertaling van ‘n blog-publikasie van ‘beliefspeak2’;

The King James and The Comma Johanneum

Alex van beliefspeak2 skryf as volg:

In ‘n ander publikasie het ek genoem hoedat die vyfhonderdjarige herdenking van Erasmus se Griekse Nuwe Testament vinnig naderkom (1 Maart, 2016). Sowat ‘n jaar en ‘n half later (31 Oktober 1517) het Martin Luther sy 95 stellinge teen die deur van die kerk in Wittenberg Kasteel gespyker. In baie opsigte het Erasmus se werk ‘n bepaalde rol gespeel, ten spyte daarvan dat dit beslis nie aan aanvaarbare standaarde voldoen het nie. Een vers wat betwis is, is die byvoeg van die deel tussen 1 Johannes 5:7 en die volgende vers. Let op die bewoording in die 1983 – Vertaling:

1Joh.5:6 – 8: “Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed. En die drie se getuienis stem ooreen.”

Hoewel Erasmus ‘n bekwame taalkundige was, het sy etiese beginsels veel te wense gelaat. Vandag nog dring die voorstanders van die King James Version (Soos ook dié van die 1933/53 Vertaling) daarop aan dat hierdie uitbreiding as ‘n besliste getuienis van die Drie-Eenheid in die Bybel hoort. Die Drie-Eenheid staan egter op vaste grond en word verteenwoordig deur die Bybel heen en het nie betwyfelde bewyse nodig nie.

Voor die woorde: “τὸ πνεῦμα καὶ τὸ ὕδωρ καὶ τὸ αἷμα” (die Gees en die water en die bloed), lui die Textus Receptus(TR) “ἐν τῷ οὐρανῷ, ὁ πατήρ, ὁ λόγος, καὶ τὸ ἅγιον πνεῦμα, καὶ οὗτοι οἱ τρεῖς ἕν εἰσι. 5:8 καὶ τρεῖς εἰσιν οἱ μαρτυροῦντες ἐν τῇ γῇ” (in hemel die Vader, die Woord en die Heilige Gees en hierdie drie is een 5:8 en daar is drie wat getuig op aarde”). Hierdie weergawe, bekend as die Komma Johanneum, is lank reeds deur die King James vertaling aan die Engelse lesers bekend. Maar die feite, beide ekstern en intern, is beslis teen die oorspronklikheid hiervan. Vir ‘n deeglike bespreking sien TCGNT 647–49. In hierdie bespreking let ek slegs op die eksterne bewyse. Hierdie langer weergawe word net in nege laat manuskripte aangetref, vier as ‘n nota in die kantlyn. Die meeste van hierdie manuskripte (221, 2318 [18e eeu] {2473 [gedateer 1634]} en [met geringe variasies] 61, 88, 429, 629, 636, 918) het in die 16e eeu ontstaan; die oudste manuskrip, kodeks 221 (10e eeu) sluit die bewoording in as ‘n kantaantekening, wat ‘n tyd nà die ontstaan van die oorspronklike dokument, ingeskryf is. Die oudste manuskrip met die Komma in die teks self, kom uit die 14e eeu (629) maar die bewoording daar verskil op verskeie plekke van al die ander manuskripte. Die volgende manuskripte met die Komma, 88 (12e eeu), 429 (14e), 636 (15e), het dit almal as ‘n kantaantekening. Die ander manuskripte dateer van die 16e tot die 18e eeue. Gevolglik is daar geen aanduiding van enige Griekse manuskrip tot die 14e eeu (629) wat wel hierdie uitbreiding bevat nie. Manuskrip 629 se bewoording verskil ook op verskeie plekke van die ander. Die ander wat wel hierdie uitbreiding bevat se bewoording stem ooreen met Erasmus se 1522 uitgawe waar dit die eerste keer gepubliseer is. In werklikheid kom die “Komma” in geen Griekse getuie ouer as 1215 voor nie. (Nie in ‘n manuskrip, óf ‘n aanhaling van ‘n kerkvader, of selfs ‘n Griekse vertaling vanuit ‘n ander vertaling nie). Uit die jaar 1215 bestaan ‘n Griekse vertaling van die “Handelinge van die Lateraanse Konsilie” wat in Latyn geskryf was. Dis soveel te meer merkwaardig aangesien baie Griekse kerkvaders so ‘n lesing sou waardeer, omdat dit die leer oor die Triniteit so duidelik bevestig. Dit wil voorkom of hierdie uitbreiding sy ontstaan het in ‘n vierde eeuse Latynse preek waarin 1 Johannes 5: 7-8 as allegorie aangewend is om na die persone van die Drie-Eenheid te verwys. Van daar het dit in kopieë beland van die Latynse Vulgaat, die teks wat deur die Rooms Katolieke Kerk gebruik is. Die Trinitariese Formule (in 1 Johannes bekend as die Johannese Komma) is opgeneem in Erasmus se derde uitgawe van die Griekse Nuwe Testament (1522) as gevolg van druk vanaf die Katolieke Kerk.

Nadat sy eerste uitgawe verskyn het, was daar so ‘n ontsteltenis oor die afwesigheid van die Johannese Komma, dat Erasmus homself moes verdedig. Hy het gesê dat hy dit nie ingesit het nie omdat hy dit in geen Griekse manuskrip kon vind nie. Toe een vervaardig is (kodeks 61, geskryf ongeveer 1520), het Erasmus verplig gevoel om dit in te voeg. Hy het van hierdie manuskrip bewus geword tussen Mei 1520 en September 1521. In die voorwoord in die derde uitgawe meld hy nie waarom hy nou wel die “Komma” in sy teks insluit nie. Ook nie dat hy oortuig was dat die manuskrip spesiaal vir hom so voorberei was nie, maar hy verdedig homself van die beskuldiging van nalatigheid, en meld dat hy seker gemaak het dat hy wel ‘n manuskrip kon vind voordat hy dit sou insluit in sy teks. As finale afleiding moet ons aanvaar dat Erasmus die aanvanklike teks aangepas het weens politiese-teologiese-ekonomiese redes; Hy wou nie sy reputasie laat skade ly nie, ook nie die verkope van sy nuwe publikasie benadeel nie.

Huidige voorstanders van die TR en KJV motiveer gewoonlik die insluiting van die Komma Johanneum met die bewering dat dit uit al die ander manuskripte uitgelaat was op grond van ketterse kopieerders wat dit uitgelaat het. Maar hierdie selfde kopieerders het elders absoluut ortodokse lesings ingesluit, selfs in plekke waar dit in die TR en Bisantynse manuskripte ontbreek. Verder redeneer hierdie voorstanders op teologiese gronde dat hierdie vers Goddelik bewaar was: Aangesien dit in die TR voorkom, moet dit oorspronklik wees. (Dit is natuurlik ‘n sirkelredenasie met die voorveronderstelling, dat die TR die oorspronklike sou wees.) In werklikheid is die aangeleentheid ‘n historiese feit, en nie kettery nie. Hoe kan enigiemand redeneer dat die Komma Johanneum teruggaan na die oorspronklike, terwyl dit die eerste keer in die 14e eeu in enige Griekse manuskrip voorkom, en dan verskil daardie variasie merkbaar van die weergawe van die TR. Die bewoording van die TR kom die eerste keer in die 16e eeu in ‘n manuskrip voor. So ‘n benadering doen nie reg aan die evangelie nie: Geloof moet in die geskiedenis veranker wees. Dit is opmerklik dat die Duitse vertaling van Martin Luther wat uit die tweede uitgawe van 1519 vertaal was, ook nie die Komma bevat nie. Maar die vertalers van die KJV het hulle werk gebaseer op Theodore Beza se 10de uitgawe van die Griekse NT (1598) wat in beginsel gebaseer was op Erasmus se derde en latere uitgawes, en op Stefanus se uitgawes. Hierdeur is die Komma algemeen bekendgestel aan die Engels sprekende wêreld. Daarom is die Komma Johanneum in die Engels-sprekende wêreld ‘n groter stryd as vir Christene elders.”

Baie dankie Alex.

Ek vertrou dat hierdie plasing vir my lesers soveel waarde sal hê as wat dit vir myself gehad het. Lees gerus my eie studie oor die Komma Johanneum.

Seën,

Herman.

Enige kommentaar is welkom onder aan hierdie bladsy, of per e-pos aan my by bibledifferences@gmail.com

 

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Eerste Gedrukte Griekse NT, Oorspronklike Outografie, Textus Receptus, Verskille: Leerstellige oorwegings. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s