137 Die dag waarneem of nie, Romeine 14:6.

Sommige manuskripte bevat addisionele bewoording in Romeine 14:6 aangaande die waarneem van die Sabbat en ander heilige dae wat ons nie in die meeste moderne vertalings vind nie. Die 1933/53 Bybel bevat hierdie woorde wat ek in donker gedruk het:

1933/53: “Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.”

Die meeste moderne vertalings stem ooreen met die weergawe wat ons kry in Die Bybel, ‘n Direkte Vertaling: “Die een wat ‘n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor.”

Om te bepaal watter variasie met die oorspronklike outografie sou ooreenstem gebruik ons drie objektiewe kriteria.
Heel eerste kyk ons na die manuskripte wat hierdie vers bevat. Dit bied aan ons ‘n oorsig van hoe oud die verskillende variasies is en hoe wyd versprei elke variasie voorgekom het.

1. Eksterne kriteria.
Die variasie wat ooreenstem met die 1933/53 – Bybel kom voor in Kodekse Angilicus, Porphyrianus, Psi, en unsiaal 049 (almal ±850 n.C.), asook minuskule 33, 1243, 1874, Verder ook die meeste ander minuskules en die meerderheid Bisantynse manuskripte, almal na 850 n.C. Dit kom ook voor in die Siriese en Armeense antieke vertalings. Basilius (†329), Chrysostomos (†407) en Theodoret (†466) haal ook hierdie weergawe aan.

Die weergawe wat met moderne vertalings ooreenstem, word verteenwoordig in Papirus 46 (±200), en kodekse Sinaïtikus, Vatikanus (albei ±350), Claromontanus (±550) Augiensis en Boernerianus (albei ±850). Ook unsiaal 048 (±450), en minuskules 630, 1739, 1881, en enkele ander minuskules asook die antieke oud Latynse vertalings.

Hiervolgens het die korter weergawe ouer manuskripte. Hoewel almal vanuit Egipte kom, word hulle baie wyd deur tekskritici wêreldwyd as die mees betroubare verteenwoordigers van die oorspronklike outografieë beskou.

Aan die ander kant word albei weergawes in verskeie teks tipes aangetref. Manuskripte soos minuskules 33 en 1874 wat gewoonlik ooreenstem met Sinaïtikus en Vatikanus kom hier ooreen met die Bisantynse manuskripte.

Volgens die manuskripte is die korter weergawe eerder in ooreenstemming met die oorspronklike outografie, maar die verspreiding van die weergawes oor verskeie tekstipes heen, veroorsaak ‘n mate van onsekerheid.

2. Interne kriteria.
Vervolgens probeer ons vasstel hoe hierdie variasie moontlik kon ontstaan het, en watter lesing die variasie kan verklaar. Indien daar ‘n voor die hand liggende verklaring sou wees vir die ontstaan van ‘n variasie, kan dit ‘n aanduiding gee van watter variasie ‘n afwyking van die oorspronklike sou wees.
Wat onmiddellik opval is die herhaling van drie woorde van die sin, beide in die eerste deel aangaande die dag waarneem, en ook in die tweede deel aangaande die eet van kos. Die drie woorde is: “phronei kai o”; Dit is: “… waarneem en hy…”
“Hy wat die dag waarneem, [dis] tot eer van die Here dat hy dit waarneem en hy wat die dag nie waarneem nie, [dis] tot eer van die Here dat hy dit nie waarneem en hy wat eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en hy wat nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.”
Die oog kon baie maklik van die woorde in die eerste sin “waarneem en hy” spring na die tweede deel met dieselfde woorde: “waarneem en hy” So kon die gedeelte daartussen uitlaat word. Dit word haplografie genoem. Dit kon baie maklik gebeur het sonder om opgemerk te word.
Dit maak die langer variasie die logiese een om ooreen te stem met die oorspronklike en die korter weergawe die een wat deur haplografie ontstaan het.

Sou die korter variasie wel die oorspronklike weergawe wees, moes die variasie op dieselfde wyse ontstaan het deurdat die sin herhaal is, dittografie genoem. Maar dan het ons ‘n probleem om te verklaar waarom die sin dan in die teenoorgestelde (die negatiewe) gestel word en nie net bloot herhaal is nie.

Metzger wys iewers daarop dat die korter variasie ‘n ongebalanseerde vers veroorsaak. Volgens die tekskritiese beginsel van lectio brevoir (die korter weergawe is die verkieslike), stel hy voor dat die langer deel bygevoeg is om die vers te balanseer.
Maar deur die tweede deel van die sin uit te laat as gevolg van haplografie is die meer logiese verklaring vir hierdie variasie.

Volgens die bostaande redenasies vir die ontstaan van die variasie, maak die langer weergawe sterk aanspraak om eerder die oorspronklike outografie weer te gee.

3. Intrinsieke kriteria
Ons derde kriterium is om na die konteks te kyk waarbinne hierdie variasies gevind word.
In hierdie paragraaf hanteer Paulus twee sake waaroor daar onsekerheid by die jong Christene kon wees. Die eerste is die talle wette rondom voedsel en wat geëet mag word en wat nie. Die ander is hou van die sabbatte en spesiale dae. Binne die konteks van die nuwe vryheid in Christus was baie van die wette wat vir die ou Joodse Godsdiens gegeld het, nie meer van toepassing nie. Nogtans kon iemand tot eer van die Here hom daaraan hou!
Hier in vers ses beklemtoon Paulus dan dat elkeen in sy hart oortuig moet wees, en dat dit om die eer van die Here moet gaan. Hier is dit juis van belang dat die twee moontlikhede op dieselfde wyse hanteer sou word. Dit is ook onlogies dat die tweede voorbeeld (die kos) terugbepalend sou wees vir die eerste bepaling (die dag).
Iemand anders kon voorstel dat Paulus “woord-ekonomies” die een bepaling van die ander afhanklik wou maak. Maar dan sou hy die eerste volledig maak en die tweede daarvan afhanklik maak. Weereens is die korter weergawe onlogies en onverdedigbaar.
Uit die konteks is die langer weergawe waar albei sake op gelyke basis hanteer word, duidelik eerder ‘n aanduiding van wat Paulus oorspronklik neergeskryf het.

4. Gevolgtrekking
Dat die oudste manuskripte die korter weergawe bevat, kan nie uitsluitlik bepalend wees nie, aangesien ‘n fout soos haplografie enige tyd kon gebeur, selfs met die heel eerste afskrif wat gemaak is. Ook om die beginsel van lectio brevoir (die korter weergawe is die verkieslike) streng toe te pas, maak nie sin nie.
Die werk wat deur Nestle en Aland, asook die komitee van die United Bible Societies gedoen is, bied aan die Bybelvertaler ‘n uitstekende nagevorste Griekse teks. Maar hul fokus is feitlik uitsluitlik op die manuskripte self waar die Aleksandrynse tekstipe voorrang geniet. Nogtans moet ander tekskritiese instrumente soos die interne en intrinsieke kriteria, met gebed gelyke krag dra. Die Nestle Aland- en die UBS Tekste is nie veronderstel om ‘n vaste onbuigbare reël te wees nie, maar ‘n hulpmiddel wat met omsigtigheid oorweeg moet word.

In die vers wat ons ondersoek het, maak die interne asook die intrinsieke kriteria soos hierbo bespreek, ‘n baie sterk appèl om die langer weergawe as eerder in ooreenstemming met die oorspronklike outografie te aanvaar.
Bruce Metzger, ‘n ekspert in tekskritiek wys daarop dat die oorspronklike bewoording soms juis in die Bisantynse manuskripte bewaar kon word.
Ek is oortuig dat hierdie variasie duidelik so ‘n geval is.

Seën,

Herman.

Kommentaar onder aan hierdie bladsy of per e-pos aan bibledifferences@gmail.com is baie welkom.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Aleksandrynse Tekstipe, Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Hantering van Verskille, Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Konteks, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s