‘n Deeglike studie van die drie sinoptiese evangelies toon duidelik dat Matteus en Lukas van Markus gebruik gemaak het in die skryf van hulle evangelies. Daarom stem die drie evangelies feitlik woord vir woord ooreen in ‘n groot gedeelte van hul materiaal. Matteus en Lukas het verder ook ‘n bron genoem “Q” (Quelle, Duits vir put of fontein) gebruik wat uitgeken kan word deur materiaal wat in beide voorkom, maar nie in Markus nie. Laastens het Matteus en Lukas elk ook hul eie unieke studies gedoen waar daar materiaal voorkom wat uniek is aan daardie spesifieke evangelie.
In Markus 6:11 vind ons ‘n variasie waar die gedeelte in donker gedruk, nie in moderne vertalings soos die 1983 Bybel, of in “die Bybel, ‘n Direkte Vertaling”, die NLV en die ASV voorkom nie: “En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot ‘n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.”
Indien ons die verhouding van die drie evangelies tot mekaar in oënskou neem, is daar twee moontlike verklarings vir hierdie variasie.
1) Indien hierdie sinsnede deel was van die oorspronklike outografie van Markus, moet ons ‘n rede aandui waarom Lukas dit nie in sy evangelie ingesluit het nie. Dit is ondenkbaar dat Lukas hierdie geweldige waarskuwing net sou weglaat. Lukas beskryf hierdie insident in Lukas 9 feitlik woordeliks dieselfde as Markus. Maar in nie ‘n enkele manuskrip kom hierdie waarskuwing voor nie. Dit maak ‘n baie sterk appèl dat dit nie deel was van Markus toe Lukas Markus gebruik het in die samestel van sy evangelie nie.
2) Kyk ons egter na Matteus, dan vind ons ‘n baie gevarieerde weergawe met heelwat byvoegings en unieke bewoording wat gladnie ooreenstem met die weergawes van Markus en Lukas nie. Dit dui sterk daarop dat Matteus sy eie navorsing oor hierdie insident bygevoeg en in die Markus-weergawe ingevoeg het. Dit is ook hier waar ons die verwysing na Sodom en Gemorra aantref. Die moontlikheid is baie groot dat die oorspronklike outografie van Markus sonder hierdie waarskuwing was, maar dat dit op ‘n latere stadium vanuit Matteus in Markus ingeskryf is.
Eksterne kriteria.
Die vraag is egter of daar enige aanduiding vanuit die manuskripte tot ons beskikking is, wat ‘n oordrag vanuit Matteus 10:15 na Markus toe kan bevestig. Al die manuskripte wat ons het van voor 750 n.C. bevat die weergawe sonder hierdie waarskuwing in Markus. Die eerste manuskrip waaroor ons beskik wat wel hierdie waarskuwing bevat, is Kodeks Basiliensis (±750 n.C.). Van daar af bevat die meeste latere manuskripte wel hierdie waarskuwing.
Die logiese afleiding is gevolglik dat iemand hierdie waarskuwing vanuit Matteus in Markus ingedra het, en dat die oorspronklike outografie dus sonder hierdie waarskuwing was. Hierdie waarskuwing is gevolglik deel van Matteus se eie navorsing wat hy in sy evangelie ingevoeg het en was gladnie deel van Markus nie. Verwyder ons dit uit Markus, herstel ons Markus soos hy dit oorspronklik onder leiding van die Heilige Gees geskryf het.
Seën,
Herman.
Enige kommentaar is welkom onder aan hierdie bladsy of per e-pos aan my by bibledifferences@gmail.com