Handelinge 8:37

Handelinge 8:37 Die Etiopiër en die voorwaardes om gedoop te word.

In die meeste moderne vertalings word vs.37 nie meer gedruk nie. Die vraag is waarom nie? Ons het hierin so duidelik die voorwaardes om gedoop te word! Word die doop net maar oopgegooi deur moderne vertalings om sonder enige voorwaardes bedien te word?

Eksterne kriteria.
Ons kyk na die manuskripte tot ons beskikking. (Onthou dat sommige Griekse manuskripte met ‘n letter of ‘n syfer aangedui word; 049 = manuskrip No. 049)

Hand.8:37

Variasie: Uitgelaat: Ingevoeg:
Getuies: Grieks: Vertalings: Kerkvaders: Grieks: Vertalings: Kerkvaders:
101-200
201-300 Papirus 45 Sahidies Tertullianus, Irenaeus?, Ciprianus?,
301-400 Sinaïtikus, Vatikanus Bohairies Ambrosius, Ambrosiaster, Pacian
401-500 Aleksandrinus, Efraemi Siries, Etiopies Chrysostomos* 1 Oud Latyn, Armeniaans, Georgies Augustinus
501-600 Wolfenbüttel Siries Laudianus
601-700 Papirus74. 4 Oud Latyn
701-800 Atous-Laurae Siries*
801-900 049 Minuskul 33
901-1000 056 0142
1001-1600 15 Minuskuls Bisantynse Leesbundels Huidige Vulgaat Theophylact 6 Minuskuls Bisantynse Leesbundel 3 Oud Latyn, Vulgaat Theophylact?

Uit bostaande table is dit duidelik dat vers 37 feitlik totaal in Griekse manuskripte ontbreek. Waar vs. 37 wel voorkom, vind ons ook dat die weergawes verskil. Dit kom in die volgende weergawes voor:
1. “En Filippus het gesê, as jy glo met die hele hart, is dit toelaatbaar. En hy het geantwoord en gesê: Ek glo Jesus Christus is die Seun van God.” (AOV)
2. “En hy het gesê, as jy glo met die hele hart, is dit toelaatbaar. En die eunik (ontmande) het geantwoord …”
3. “En hy het vir hom gesê, as jy glo met jou hele hart …”
4. “…as jy met jou hele hart glo, is dit toelaatbaar. Daarop antwoord hy en sê, ek glo in die Christus, die Seun van God.”
5. “En Filippus het gesê, indien jy sou glo uit ‘n volle hart. En die eunik het hom geantwoord, ek glo die Seun van God is Jesus Christus.”
Afgesien van die 5 weergawes, kom talle kleiner variasies voor. Dit is kenmerkend van sinne of sinsnedes wat mondelings oorgedra is sonder ‘n skriftelike basis. Elkeen onthou die idee, maar nie noodwendig die presiese woorde nie.

Interne Kriteria.
Daar bestaan twee weergawes in die manuskripte. Die grootste meerderheid ouer manuskripte het nie vers 37 in nie. Indien ons dan wil aanvoer dat hierdie woorde nie deel van die oorspronklike manuskrip was nie, hoe kon so iets ontstaan het en in die teks gevoeg word?
Ons sien dat ses kerkvaders hierna in hulle geskrifte verwys. So ‘n verwysing of bespreking is nie noodwendig ‘n aanhaling uit ‘n manuskrip nie.
Dit is moontlik dat hierdie woorde as ‘n verduidelikende aantekening in die kantlyn van ‘n kerkvader se persoonlike manuskrip ingeskryf was. Vandaar kon dit in manuskripte beland het. Dit kon ook vanuit ‘n oud Latynse vertaling, in Grieks terugvertaal gewees het om die Griekse teks “volledig” te maak. Dit is ‘n moontlike verklaring vir die talle variasies.
Toe Erasmus sy teks vir die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament voorberei het, hoe moes hy weet of die vers in moet wees of nie? Die Bybelgenootskap van SA. Meld as volg: “Toe Erasmus die gedrukte teks van die Nuwe Testament voorberei het in 1515-16, het hy slegs enkele laat Middeleeuse manuskripte tot sy beskikking gehad. In die een manuskrip van Handelinge het vers 37 ontbreek, terwyl dit in die ander duidelik eers later as ’n invoeging net in die kantlyn ingeskryf is. Tog het Erasmus dit in sy teks opgeneem omdat hy gemeen het dat deur die agtelosigheid van ’n vorige afskrywer moes uitgeval het.” (www.bybel.co.za)
Volgens die manuskripte is daar duidelike aanduidings dat hierdie vers nie oorspronklik deel van Handelinge was nie, maar eers later ontstaan het.

Intrinsieke kriteria.
Dit is ‘n delikate maar belangrike ondersoek om uit die konteks en woordgebruik te probeer vasstel of hierdie vers inderdaad deur Lukas oorspronklik ingeskryf was in Handelinge agt, of moontlik ‘n latere byvoeging is.
Op Universiteit het ek eenkeer saam met ‘n mede student ‘n mondelinge eksamen afgelê, waar ons albei gebrekkige kennis van dieselfde afdeling van die werk gehad het. Die professor het my baie gou uitgevang en ek moes terugkom vir ‘n hereksamen. Maar my klasmaat was ‘n meester in mondelinge eksamens. Met sy antwoord het hy by die prof se vraag begin, ‘n wilde Kaapse draai gemaak tot by dié afdeling wat hy geken het, en daaruit ‘n puik antwoord gegee oor iets heeltemal anders as wat die oorspronklike vraag was. Plaas daarvan om die bobbejaan agter die bult te gaan haal, het hy met ‘n aap teruggekom, en is ape deeglik ontleed. Hy het die eksamen “gekum”!
Iets hiervan gebeur met die invoeging van Vers 37.
Wat was die vraag wat die Etiopiër vra? Nie: “Wat moet ek doen om gedoop te word” nie, maar: ”wat verhinder my?” Al vyf variasies van vers 37 beantwoord die eerste vraag, maar nie een beantwoord die vraag wat die Etiopiër eintlik gestel het nie!
En daar is inderdaad dinge wat hom moontlik kon verhinder!

1. Hierdie Etiopiër was tien teen een nie besny nie. Op daardie stadium was die kwessie rondom die vereiste vir besnydenis al dan nie, nog nie deur die Kerk en die apostels hanteer nie. Die besef dat die doop inderdaad die besnydenis vervang het, het heelwat later tot die Christelike kerk deurgedring.
2. Hierdie Etiopiër was ontman. Deuteronomium 23:1 sê: “Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.” Dit kon hom verhinder om in die Christelike gemeenskap opgeneem te word en die verlossing deur Jesus verhinder te word. Hy kon met reg wonder of die belofte in Jesaja ook van krag is binne die Christelike geloof?
Jesaja 56:3 – 5: “…’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou: wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.
3. Dit is moontlik dat die Etiopiër deel kon wees van die nageslag van Gam, (Genesis 10:6) ‘n Kussiet. In sommige kringe was die oortuiging dat die nageslag van Gam nie in die Joodse gemeenskap opgeneem kon word nie.  Jeremia 13:23: ”Kan ‘n Kussiet sy vel verander, of ‘n luiperd sy vlekke?” Hy kon ook moontlik deel van die nageslag van Edom of Moab gewees het. Deuteronomium 23:3 sê: “Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die Here kom nie…”

4. Daar is ‘n derde moontlike hindernis. In daardie tyd was die algemene opvatting dat gode gebiedsdebonde of volksgebonde was. Dis waarom Naáman ná sy genesing van melaatsheid, vir Elisa twee muilvragte grond vra om saam te neem. (2Kon.5:17) Jesus deurbreek egter hierdie opvatting met sy opdrag aan die dissipels in Matteus 28:19 – 20: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou…

Terwyl die Etiopiër dan nou oppad is, weg van Jerusalem en Judea en weg van die Jode af, kon dit in sy begrip ‘n besliste hindernis wees.
Wat verhinder my om gedoop te word?” Ten minste drie moontlikhede!

Volgens bogenoemde kon iets wat hy aan homself laat doen het, of die afkoms waaroor hy geen sê gehad het nie, of die plek waar hy woon hom moontlik verhinder het om gedoop te word en so verhinder word om in die Christelike gemeenskap opgeneem te word. Maar Filippus beantwoord nie eens die vraag nie! Hy weet dat daar niks is wat iemand kan verhinder om gedoop te word nie. Daarom word onmiddelik oorgegaan tot die doop van hierdie Etiopiër.

Groter Konteks:
Kyk ons na die groter konteks in die opbou van Handelinge vind ons met die verhaal van die bekering van die Etiopiër ‘n belangrike moment. Jesus het gesê: “… julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8) Lukas het in die voorafgaande hoofstukke uitstorting van die beloofde Heilige Gees hanteer; dan die die vestiging van die Christelike kerk in Jerusalem teenoor die Joodse geloof. Daarna die uitbreiding van die Evangelie na die res van Judea, en Samaria, en met die bekering van die Etiopiër die begin van die “uithoeke van die wêreld”. Aangesien die grootste deel van die res van die boek Handelinge aan die werk van Paulus as belangrikste apostel vir die heidene gewy word, is dit ook uiters noodsaaklik dat lesers sal besef dat die uitbreiding van die evangelie na nie – Jode, nie maar net ‘n Paulus – voorliefde was nie, maar inderdaad die vervulling van Jesus se opdrag. Paulus se bekering vind eers ná die bekering en doop van die Etiopiër plaas.

Intrinsiek is dit duidelik dat die invoeging van die voorwaardes om gedoop te word die klem van die vraag verskuif na ‘n totaal ander fokus. Dit gaan in hierdie gebeure nie oor die doop nie, nog minder oor die voorwaardes om gedoop te word nie. Dit gaan oor die vraag of alle mense welkom is in die Christelike geloof. Hierdie perikoop gaan oor die verduideliking van die geloof en die insluiting van selfs moontlik totaal verwerpte mense, asook die vervulling van Jesus se opdrag. Die doop self is nie in die fokus nie, dit is net die bevestiging van die uitbreiding van die Evangelie na moontlik voorheen uitgeskakelde mense.

Sodra die teks herstel word tot wat God aanvanklik laat neerskryf het, kom die geweldige genade skopus van God se liefde in Christus na vore. Nou gaan dit nie maar net om ‘n geloofs aksie nie, maar inderdaad oor die oorweldigende genade. Niks uit jou voorgeslagte of afkoms sluit jou meer uit van die genade in Christus nie. Net so is geen dwase daad wat op jou toegepas is of wat jy jouself moontlik laat aandoen het, meer ‘n onoorkomelike hindernis nie. Dit wil ook uitroep die evangelie selfs vir ons “aan die uithoeke van wêreld” toeganklik is.
Hierdie gebeurtenis wil nie uitroep: “hierdie is die voorwaardes vir doop“ nie. Hierdie gebeurtenis roep uit: “Wat ookal jou afkoms of die sonde van jou verlede, of van watter stam volk of nasie jy ookal is; niks kan jou skei van die liefde wat daar in Jesus ons Verlosser is nie!”
Soos God die woord laat neerskryf het is dit die beste!

Kommentaar onder aan die bladsy of per e-pos aan bibledifferences@gmail.com is baie welkom.

Seën,

Herman

12 Responses to Handelinge 8:37

  1. yfveldhuizen says:

    Goeiedag Herman,
    Ek het ‘n vraag oor Bybel genres. meer spesifiek oor die genres van die manuskripte self eerder asn oor die verskille tussen hulle of die verskillende vertalings. (Ek hoop dit val binne die bestek van jou blog). Die korrekte verstaan van die genre van die manuskrip is tog noodsaaklik vir die korrekte uitleg van die Skrifdeel. Verder nog is daar tog sekerlik sekere kriteria wat aangewend wrod wanneer die manuskrip beskou word. Ek weet jy herhaal oor en oor: Eksterne, interne en intrensieke gegewens en dis natuurlik heeltemal in orde. Maar, die skrywers en veral die eerste lesers het sekerlik hulle eie kriteria aangewend om ‘n manuskrip te beoordeel? Die Duitse “hoëre kritiek” is absoluut vernietigend en m.i. uiters onregverdig want die skrywers en eerste lesers het niks daarvan geweet nie. Dis tog sekerlik meer regverdig om die manuskripte te evalueer in terme van kriteria wat ten tye van die skrywe daarvan gegeld het. Maar wat was hierdie literêre kriteria?

    Ek het iewers gelees dat Markus as’t ware ‘n nuwe genre geskep het met sy evangeliese beskrywing. Ek sou graag jou opinie wou weet, asseblief.

    • Herman says:

      Beste Yf
      Die kreteria waarna ek verwys (ekstern, intern en intrinsiek) het net te doen met die evaluering van twee of meer variasies in manuskripte met die uitsluitlike doel om die oorspronklike bewoording vas te stel. Die genre waarin die geskrif geskryf is, het gevolglik geen invloed nie.
      Genres speel wel ‘n belangrike rol in die verstaan van die geskrifte van die Bybel.
      Wanneer die Evangelies as heilsgeskiedenis van Jesus se omwandeling op aarde meld dat Hy twaalf dissipels gehad het, gaan dit om die getal self. Wanneer Openbaring, (‘n apokalips) egter meld dat die vrou “op haar hoof ‘n kroon met twaalf sterre” gehad het, (Op. 12:1) het dit simboliese betekenis. So ook die baie ander getalle wat in Openbaring genoem word.
      “n gedig, soos in die psalms, en ‘n wysheidspreuk soos in Spreuke en Prediker word ander beoordeel as bv. die geskiedenisboeke.

      Seën
      Herman.

  2. Hennie Mouton says:

    Middag Herman
    Waar jy die verskillende weergawes van vers 37 aanhaal, is sommige sinne half. Ek stel voor dat dit uitgebrei word, dalk deur verse 36, 37 en 38 te gee sodat mens kan sien wat die hele boodskap telkens was.

  3. Hennie Mouton says:

    Jammer Herman, ek moes hierdie by my vorige versoek gevoeg het. Dit sal ook goed wees om te sien presies wat in verse 36 en 38 staan van die manuskripte wat vers 37 uitgelaat het.

  4. Hennie, baie dankie vir hierdie navraag.
    Vergelyk gerus die verskillende vertalings van hierdie deel van die Skrif met mekaar. Jy sal opmerk dat die hele deel, en ook die direk voorafgaande en opvolgende verse, in die verskillende vertalings nie verskil nie. Dit is net vers 37 wat in die 1933/53 – Bybel bygevoeg is.
    Wat die “halwe sinne” in die variasies betref, het ek dit ingevoeg sodat ons kan besef dat daar beslis geen standaard of vaste teks in Grieks voorkom nie. Soos ek verduidelik het, moes hierdie vers feitlik verseker vanuit die geheue ingeskryf gewees het. Die ander moontlikheid is dat kopieerders hul eie vertaling terug in Grieks gemaak het vanuit ‘n Latynse voorbeeld. Daarom is daar soveel verskille, maar dis klein verskilletjies wat net verdere variasies op hierdie ingevoegde vers bevestig. In wese maak hulle nie verskil nie. Maar die groot aantal verskilletjies bevestig juis dat daar beslis nie ‘n bestaande Griekse manuskrip was met hierdie woorde in nie. Die oudste Griekse manuskrip wat hierdie vers wel in het, is Kodeks Laudianus uit 550 n.C. Dan kom dit eers weer ‘n verdere 500 jaar later voor. Dit alles dui daarop dat hierdie vers beslis nie deel was van wat God deur die Heilige Gees aan Lukas geïnspireer het om neer te skryf nie.
    Lees gerus my verduideliking aandagtig deur en let op die drie objektiewe kriteria wat ek so getrou moontlik aanwend om hiRoomseerdie invoeging te beoordeel.
    Uit die Bybelgenootskap se verduideliking is dit ook duidelik dat Erasmus eerder ‘n vers wat in die kantlyn van een van sy manuskripte voorgekom het, ingesluit het, terwyl sy tweede manuskrip dit gladnie ingehad het nie. As Rooms Katoliek het hy dit ingevoeg sodat sy Griekse teks met die Latynse Vulgaat van die Roomse Kerk sou ooreenstem. Ons het beslis nie Katolieke byvoegings in ons Bybels nodig nie!
    Seën,
    Herman.

  5. Hendrik D Mouton says:

    Herman, ek kan nie fout vind met jou bewyse en jou beredenering nie. Behalwe dat hierdie nie ‘n invoeging sou wees wat onder andere die Katolieke siening van suiglingdoop bevoordeel nie.

    • Hennie, dankie vir jou kommentaar.
      Indien jy die Verbondsdooop (Nie suigelingdoop!) nie verstaan nie, lees asseblief wat Johannes Calvyn daaroor skryf in sy Institusie Boek 4, Hoofstuk 16, Punte 8 – 11.
      Die Verbondsdoop is van die begin af deur die Apostels en ander Christene gesien en geïnterpreteer as die Christelike ekwivalent van die Abrahamitiese Verbond wat deur besnydenis van die seuntjies van gelowige ouers bevestig is, lank voordat hulle hulleself aan die Here verbind het.
      Lidia het die Here aangeneem en sy “en haar huisgesin” is gedoop. So ook die tronkbewaarder “en al sy mense.” (Dit sluit sy slawe, slavinne en hul kinders in!)
      Al die oorspronklike kerke, soos die Oosters Ortodokse Kerk, die Grieks Ortodokse Kerk, die Koptiese Kerk en die Armeense (Rusland) Kerk aanvaar almal die Verbondsdoop. Dit is baie ouer as die Rooms Katolieke Kerk wat eers in 1054 as afsonderlike kerk afgesplit het!
      Die verwerping van die Verbondsdooop en die herdoop van reeds gedooptes het eers werklike grond gevind by die Anabaptiste, ongeveer 1535!
      Seën
      Herman.

    • Charl says:

      Hendrik, ek stem saam, handelinge 8:37 bring gelowiges saam. Dit is nie wat satan wil he nie, hy wil verdeling in die Kerk veroorsaak en om Handelinge 8:37 uit te laat veroorsaak verdeling.
      Prys die Here Jesus Christus ons Koning en Verlosser!

      • Charl,
        Ek dink jy mis die punt. Handelinge 8:37 word nie uitgelaat nie! Dit word herstel tot wat die Here in die eerste plek laat neerskryf het. Ons het nie een of ander monnik se wysiging op die Woord van God nodig nie! Dan mis ons juis die punt om te soek en te ondersoek wat inderdaad iemand kan VERHINDER om gedoop te word! Dis nie maar net woordjies uit Handelinge 16 aanhaal nie! Dis ‘n intense in diepte soeke na die waarheid!

  6. Charl says:

    In Handelinge 2:37 word n soortgelyke vraag gevra as die persoon in Handelinge 8:36…..dieselfde atwoord was gegee in die volgende vers……

    • Charl, dankie vir jou opmerking en oplettendheid oor die Woord van God.
      Die vraag in Handelinge 2:37 asook in Handelinge 16:30 is dieselfde: “Wat moet ek/ons doen?”
      Die vraag van die Etiopier is egter heeltemal iets anders en het ook ‘n heeltemal ander woord in die Grieks: Dit vra na wat hom kan verhinder! Wat kan in sy pad staan! Wat kan hom diskwalifiseer! As die Woord dan aandui dat Filippus onmiddelik oorgegaan het om hom te doop, gee dit vir ons die versekering dat NIKS hom kon verhinder nie!
      Moontlik kan jy uit ons moderne lewe ook hierdie vraag beantwoord. Byvoorbeeld: Kan die feit dat ek in ‘n gay verhouding was, my verhinder om gedoop te word? Of dat ek in die okkulte was, of aan ‘n satanskerk behoort het, of glasie-glasie gespeel het, of ‘n sangoma geraadpleeg het, of my pa of oupa Vrymesselaars was, of Jehova Getuies, of wat ookal! Om net die woorde uit ‘n ander deel hier aan te haal laat ons juis die punt mis!

      • Charl says:

        Hi Herman, ek verstaan wat jy probeer se oor “verhinder”, dat daar niks is wat mens kan verhinder om gedoop te kan word nie, maar se die Woord nie dat jy eers bekeer moet wees nie?(Handelinge Kan dit sekere mense “verhinder” om gedoop te raak as hulle nie wil bekeer nie? Wat beteken die “doop” as jy iemand doop wat nog nie uit hul eie wil Jesus Christus as hul Verlosser aanvaar het nie(nog nie bekeer het nie)?(Handelinge 2:37)
        Is n persoon gered as hy gedoop is voordat hy bekeer het?
        Miskien kan jy vir my jou opinies gee, dankie….

Leave a comment