Lesers Vrae.

Op hierdie blad bespreek ons lesersvrae.

Ek is bly om my boek oor die agtergrond vir die ontstaan van die Nuwe Testamnet en die redes vir die verskille bekend te maak. Ek hanteer ook meer as 100 verskille tussen die 1933/53 – Vertaling, en moderne vertalings. Soos altyd is my beleid dat die werklike feite ons kan help om ‘n ingeligte opinie te vorm, en nie uitgelewer te wees aan die propaganda of verdagmakery ter ophemeling van die een of die ander vertaling nie.
Die boek is tans nog net by myself beskikbaar. Kontak my gerus by 072 5670559, of per e – pos by bibledifferences@gmail.com

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

Herman, 1.) Is die spreek in tale ‘n bewys van die vervulling met die Heilige Gees?

2.) Is die spreek in tale volgens die Bybel verstaanbare of onverstaanbare “brabbel” tale?

Beste Gerhard,

In die Nuwe Testament is daar slegs drie skrywers wat na glossolalia of die spreek in tale verwys.

Eerstens verwys Paulus na glossolalia in 1 Korintiërs 12 – 14. Daar hanteer hy dit as antwoord op die probleem wat hierdie verskynsel in die gemeente in Korinthe veroorsaak het. Hier is feitlik verseker die onverstaanbare brabbel – vorm van glossolalia ter sprake.

1Kor.12:10: Hier word die spreek in tale asook die uitleg van tale vermeld. Indien dit ‘n bekende taal was, sou die uitleg nie nodig wees nie.

Vers 28 vermeld allerhande tale en vers 30 “spreek almal in tale, en kan almal dit uitlê?”

1Kor.13:1 meld: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek …” Hier verwys die tale van engele sekerlik na die onverstaanbare glossolalia. Volgens vers 8 sal tale ophou. Dit kan na enige van die twee of na beide verwys.

In 1Kor.14:2 praat Paulus direk van die onverstaanbare vorm van glossolalia. “Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.” Vers 4 meld ook dat hy wat in ‘n taal spreek, “stig homself”. Dis duidelik nie ‘n verstaanbare taal nie, anders sou hy die hoorder daarvan gestig het.

Paulus verwys ook na die nutteloosheid van onverstaanbare tale in verse 9 – 11: “… as die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ‘n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ‘n vreemdeling wees.” 13 – 14: “Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in ‘n taal bid, bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.”

So hanteer Paulus die gebruik van onverstaanbare brabbeltaal in die gemeente tot by vers 28.

Op nie een plek verwys Paulus direk na verstaanbare tale nie, maar kan al die gevalle verstaan word as die onverstaanbare glossolalia.

Vervolgens hanteer Lukas glossolalia in Handelinge 2 as die spreek in bekende tale (Zenoglossia) direk ná die uitstorting van die Heilige Gees. Dan verder in Handelinge 10:46 waar die spreek in tale in Cornelius se huis in Cesaréa vergelyk word met die gebeurtenis op Pinkster, “dat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het.  Weereens bekende tale. Dan ook in Handelinge 19:6 waar dit nie nader beskryf word nie en bekende tale kan wees, maar selfs die onverstaanbare brabbel – vorm kan wees.

Lukas meld aan die begin van sy evangelie (Lukas 1:3) dat hy alles deeglik ondersoek het. Dit geld uiter aard ook Handelinge. Aangesien Handelinge etlike jare ná die brief aan die Korinthiërs geskrywe is, is dit selfs moontlik dat Lukas soveel aandag aan die spreek van bekende tale met die uitstorting van die Heilig Gees gee omdat hy indirek ‘n korreksie op Paulus wil bring.

Die derde skrywer wat na glossolalia verwys, is die skrywer van Markus 16:9 – 19. Die skrywer self is aan ons onbekend. Hierdie hoofstuk vertoon die tekens van ‘n latere toevoeging tot die evangelie van Markus. Dit is hoofsaaklik ‘n opsomming van wat in Handelinge beskryf is. Vers 17 meld net glossolalia as ‘n teken vir die wat glo: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: In my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek …” Chronologies is hierdie deel laaste geskryf en dra nie by tot die verstaan van die begrip nie.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Lukas die doel en benutting van die gawe van tale direk in verband bring met die verkondiging van die evangelie en die uitbreiding van die Christelike geloof.

Verder is dit ‘n bewys dat nie net enkelinge nie, maar inderdaad alle gelowiges, óók hulle uit die heidenwêreld, die Heilige Gees ontvang.

Paulus weer sien die spreek van tale as ‘n gawe om aan die een kant die persoonlike verhouding met God te bou, en aan die ander kant as teken om die geloof te bou.

Hieruit volg die vraag of die spreek van tale noodwendig volg op die uitstorting van die Heilige Gees en daarom as vereiste bewys vir die vervulling met die Heilige Gees gesien kan word.

Johannes wat chronologies heel laaste geskrywe het, ná Korintiërs en ná Handelinge,  maak hierdie saak duidelik wanneer hy in Joh.20:22 – 23 skryf: “Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: ‘Ontvang die Heilige Gees. As julle vir die mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie’ “By Johannes, wat beslis ook die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag beleef het, is dit duidelik dat hý nie die spreek in tale as vereiste óf as bewys sien of beleef het nie. Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag was hy reeds lankal gevul met die Gees! Vir Johannes is die bemagtiging met die Heilige Gees direk in verband met die uitdra van die evangelie wat tot die vergifnis van sondes lei.

Ek vertrou dat bogenoemde vir jou van waarde sal wees.

Seën,

Herman.

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

#6 Openbaring 22:18-19:

Herman, Is die waarskuwing van Openbaring 22:18 – 19 op die hele Bybel van toepassing, of net op die Nuwe Testament, of is dit net vir Openbaring gegee?

Op.22:18-19: ”Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.”

In Vrede, Manie.

Manie,

Mens moet in gedagte hou dat elke boek in die Bybel ‘n boek op sy eie is. Openbaring is die boek wat die laaste ontstaan het, sowat 90 – 96 n.C. Die verskillende boeke van die Bybel is eers later in versamelings saamgegroepeer, soos die evangelies, die briewe van Paulus, met Hebreërs gewoonlik daarby gevoeg, en die algemene briewe. Openbaring het vir etlike eeue as onafhanklike geskrif bestaan en is eers in die derde eeu saam met die ander NT geskrifte gevoeg, en dan ook net in sommige bundels soos die Sinaïtikus.

Hierdie spesifieke waarskuwing is ‘n integrale deel van Openbaring self. Let ook op die woorde “…hierdie profetiese boek…”

Wanneer ons dit op die res van die NT of ook die OT van toepassing maak, haal ons eintlik die vers buite konteks aan.

Seën,

Herman.

 

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

#5 Vergelyking van brontekste:

Herman, gee my asb ‘n kort vergelyking tussen die hoof brontekste vir die Nuwe Testament.

Textus Receptus teenoor UBS.

Vriend,

Kortliks kom die keuse tussen die TR en die UBS – tekste as bronteks op die volgende neer:

TR: Ek is Desiderius Erasmus ‘n sakeman, maar ‘n toegewyde Roomse Katoliek en ‘n kenner van Latyn, maar ek weet genoeg van Grieks om jou te help. Ek het vir jou ‘n Griekse bronteks saamgestel uit twee manuskripte elk vir die evangelies, twee vir die ander briewe en een vir Openbaring, waarvan die laaste bladsy kortgekom het, maar moenie bekommerd wees nie, ek het dit sommer uit ons geliefde Vulgaat, die amptelike Roomse Bybel terug vertaal, en sommer vir die Grieke ‘n nuwe woord geskep.

Ek het opgemerk dat Lukas so ‘n bietjie onvolledig in hoofstuk nege gerapporteer het oor Paulus se bekering en het dit toe maar verbeter met die inligting uit hoofstukke 22 en 26. Op ‘n hele paar ander plekke het ek ook die Bybelskrywers reggehelp. Ek het belowe om 1 Joh.5:6-7 in ooreenstemming met ons geliefde Vulgaat te bring sodra ek ‘n Griekse teks vind met daardie woorde in. Hoewel die ink nog nat was, en ek oortuig was die spesifieke manuskrip is spesiaal so vir my voorberei, het ek dit ingesit. Moenie hierdie woorde in die 6,000 Griekse manuskripte soek nie, hulle is almal onvolledig behalwe vir een wat dateer uit ±1350 n.C. Jy hoef jou nie oor die manuskripte en hulle verskille te bekommer nie, ek het dit alles reeds vir jou uitgesorteer.

UBS : Ons is ‘n kommissie van agt permanente lede van verskillende denominasies, sodat nie een se kerklike agtergrond die keuse kan oorheers nie. Ons is almal eksperts op Bybelse Grieks en ook eksperts op die kultuur en gebruike nie net van die Christelike Godsdiens nie, maar ook van die ander godsdienste uit daardie tyd sodat ons enige moontlike vervalsing of ander invloede kan identifiseer. Ons werk word gereeld deur enige kenner vanuit enige denominasie beoordeel en ons word geadviseer deur mense vanuit alle Christelike denominasies. Ons het ‘n teks saamgestel uit die meer as 5,000 Griekse manuskripte, 18,000 manuskripte van antieke vertalings en ons het meer as 200 ou Kerkvaders se aanhalings en verwysings in ag geneem. Ons besoek steeds alle ou kloosters en biblioteke wêreldwyd op soek na verdere manuskripte wat nog nie aan die Christelike wêreld bekend is nie. Ons evalueer die sekerheid van ons voorstel met ‘n A-E gradering waar A ons absolute sekerheid voorstel, tot E waar ons van opinie is dat ‘n variasie net soveel moontlikheid het om die oorspronklike outografie te verteenwoordig as ons eie voorstel. Om jou as vertaler te help om ‘n keuse te maak tussen die variasies het ons al die variasies met al die manuskripte en die datums waarin hulle geskryf is, onder aan elke bladsy geplaas. Sodoende kan jy ‘n verantwoordelike besluit, gegrond op die werklike feite neem. Ons bied die inligting, jy as vertaler kies onder leiding van die Heilige Gees die variasie wat jy in jou vertaling publiseer.

Watter een van die twee benaderings sou jy verkies?

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

#4 Keuse van ‘n Bybel Vertaling:

Herman, as jy tussen al die Bybels wat in omloop is een moet kies wat die naaste aan die Waarheid is, watter een sal dit wees?

As dit nie een sal wees nie, waarom laat jy en diegene wat die Waarheid liefhet en koester dan nie die regte Bybel druk met die hulp van almal wat erns maak met die Woord van God nie?

Groete in Christus

Piet.

Antwoord:

Beste Piet,

Vir algemene gebruik is die moderne vertalings soos die 1983- Nuwe Afrikaanse Vertaling en die New International Version die beste. Vir intense Bybelstudie, is dit beter om meer as een vertaling te gebruik. Om die direkte bewoording na te gaan, gebruik die ouer vertalings.

As jy die drie hoofredes vir die verskille in ag neem, sal jy onmiddelik die verskille verstaan en kan beoordeel.

1)       Taalontwikkeling. Ouer vertalings gebruik soms woorde wat gladnie meer in die algemene taal gebruik word nie, of waarvan die betekenis verander het. In Afrikaans beteken “gif” vandag net iets om dood te maak. Maar en die 1983-Vertaling staan daar: ”Elke goeie gif … daal van bo af neer.“? Nog voorbeelde by: 53. Taalontwikkeling.

2)       Woord-vir-woord vertaling teenoor Dinamies ekwivalente vertaling (begripsvertaling). Het jy al ooit gehoor van iemand wat vandag “maansiek” is? Wat sou so iemand makeer? Maar ‘n “lunatic” word algemeen in Engels vir ‘n onverantwoordelike persoon gebruik wat homself moet regruk. Beslis nie iets waarvoor ‘n pa voor Jesus sou neerval en om genesing smeek nie! Nog voorbeelde by: Soorte vertalings

3)       ‘n Beter bronteks, veral op die NT. Enige gedeeltes wat in die nuwer vertalings uitgelaat is, of totaal anders vertaal is, kan met groot sekerheid aanvaar word as die korrekte weergawe van die oorspronklike. Die meeste verskille wat ek op my blog hanteer, is voorbeelde van hierdie verskille. ‘n Afbeelding van ‘n bladsy uit die UBS-Teks is te sien by: Beoordeling van Variasies

Oor die druk van ‘n “korrekte” Vertaling: As jy ooit vertaalwerk gedoen het, sal jy weet dat dit ‘n delikate proses is wat altyd ‘n mate van onsekerheid behels, veral met die keuse tussen sinonieme, of die kies van ‘n woord wanneer die woord in die bronteks ‘n dubbel betekenis het.

Ek sien baie uit na “Die Bybel, ‘n Direkte Vertaling” waaraan die Bybelgenootskap tans werk.

Dan het daar die afgelope tyd twee kosbare onafhanklike vertalings op die rakke verskyn. Die NLV op die hele Bybel en die Afrikaanse Standaard Vertaling.

Baie seën

Herman

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

#3  Die Wegraping: Vertaling van Lukas 21:36

Vraag:

Herman,

Ek stuur vir jou ‘n aanhaling oor die vervalste 1983-Vertaling.

“Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. … Indien hulle egter aan die Here getrou bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug:

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”   Luk. 21:36

Die woord ontvlug Grieks ekfeugo beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James vertaling is volkome korrek as dit hierdie aksie van ontvlug as escape vertaal. Ons sal nie hier wees nie.

As gevolg van die omstredenheid van die begrip ontvlug is dit raadsaam om ook hier die uitspraak van ‘n hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek aan te haal, naamlik A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich. Hierin word die grondbetekenis van ekfeugo ontvlug met die vermelding van verskeie voorbeelde van die gebruik daarvan aangedui. Die woord ekfeugo kan vertaal word as:

*   na veiligheid ontsnap,

*   ontvlug, en

*   vermy of ontwyk.

Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as ‘escape tribulations’ ontvlugting uit die verdrukking  aangedui.

In die Nuwe Afrikaanse Bybel 1983 vertaling is daar ‘n doelbewuste poging deur die vertalers aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. In Lukas 21:36 het hulle die grondteks verdraai sodat die kerk nou deur die verdrukking moet gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking as dat hierdie teks op ‘n berekende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is nie.”

Sover die aanhaling. Ek hoor graag jou kommentaar.

Paul.

Antwoord:

Paul, jy haal ‘n belangrike saak en vers aan.

Hier het ons met ‘n fyn onderskeid te doen wat ons juis die betekenis van die teks kan laat verloor.

Die vraag is hoe “te ontvlug”, (tweede aoristus aktief infinitief van ekfeugo) verstaan moet word.

Daar is ‘n geweldige verskil tussen “…om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug…“ Hier moet jy dit self doen.

En: “…om van al hierdie dinge wat kom, weggeraap te word…”! Hier word dit vir jou gedoen.

Die skrywer wat jy aanhaal, interpreteer die infinitief “te ontvlug” as ‘n passiewe handeling. Hy sien dit as iets wat met iemand “gebeur”. Hy verstaan dit as “om weggeraap te word” (passief). Maar in werklikheid is dit ‘n aktiewe handeling, iets wat mens self “moet doen“.

Die Nuwe Afrikaanse vertaling vertaal nie bloot elke woord nie, maar eerder elke begrip. Dit word die Dinamies Ekwivalente Vertaalbeginsel genoem. Dit maak die kern-betekenis van hierdie perikoop duidelik nl. om tydens die verdrukking staande te bly. Daarom die vertaling: “Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Let op die groter konteks van Lukas 21:20-36:

In Lukas 21:20-24 gee Jesus raad aan sy volgelinge oor wanneer die groot verdrukking kom, nl. “vlug na die berge …vlug uit die stad … moenie in die stad ingaan nie! Wee die swanger vroue en dié met baba’s!” Daar gaan bloed vloei! 

In vs. 25-33 sê Jesus dat wanneer die verskrikking en vervolging op sy ergste is, moet die gelowiges nie moed verloor nie, want Jesus hul redder kom op die wolke. Die Koninkryk is naby wanneer hierdie dinge gebeur!

In vs. 34 rig Jesus ‘n baie ernstige waarskuwing. Sy volgelinge moet nie so besig wees met die alledaagse lewe dat hulle onverhoeds oorval word nie. Anders vergeet hulle om te doen wat Hy hulle aangeraai het in vs. 20-24.

In vs. 35 waarsku Jesus dat hierdie dag soos ‘n strik “oor almal wat op die hele aarde woon” sal kom. Sý volgelinge is nie uitgesluit nie!

Daarom die finale raad in vs. 36 dat Jesus se volgelinge moet waak en bid sodat hulle “waardig geag mag word” om die dinge te ontvlug.

Hier is die kern van die saak. Jy moet nie waardig geag word om uit die verdrukking “ontvlug te word” (passief) nie, maar jy moet waardig wees om die dinge “te ontvlug” (aktief). Dis nie iets wat met jou gebeur nie, maar iets wat jý moet dòèn! Die dinge wat ontvlug moet word is nie die verdrukking nie, (anders jok Jesus mos in vs.35!) Die dinge wat ontvlug moet word is dit wat in vs. 34 genoem word, en uit die hele gedeelte vanaf vs. 20 duidelik gemaak word, nl. Jy moet nie tydens die verdrukking moed verloor en onder gaan nie. Dan sal jy nie vs. 27 beleef nie.

Ek weier om te glo dat Jesus al hierdie waarskuwings en raad sal gee oor wat sy volgelinge moet doen gedurende die verdrukking, indien Hy van plan was om hulle “uit al hierdie dinge uit weg te raap”! Dit is duidelik ‘n verkeerde interpretasie van die Skrif. Jesus gee geen aanduiding dat ons die verdrukking sal vryspring nie, maar dat ons juis daar deur moet gaan! Hy gee raad oor hoe om tydens sulke verdrukkings staande te bly en sodoende waardig geag te word!

Let op dat die Nuwe Lewende Vertaling dit ook met daardie betekenis vertaal: “Wees wakker en bid altyddeur vir krag, om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

Hierdie vers word ook so vertaal in die Bybel vir Almal, Bible in Basic English, Goodnews Bible asook the Message.

Die skrywer wat jy aanhaal manipuleer die verstaan van die Grieks om sy interpretasie te bevoordeel. Sy siening bots direk met die inhoud van die perikoop en is in direkte teenstelling met die raad wat Jesus gee.

Lees weer die hele deel in die 1933/53- vertaling, en jy sal self sien dat jou skrywer se interpretasie met die konteks bots!

Wees geseënd!

Herman.

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

2. Egbreuk of Owerspel?

“Egbreuk” Exodus 20- Afrikaans- Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Dit moet wees “owerspel”:  In die oorspronklike teks en ook die Engelse vertaling is dit “owerspel”, “adultery”

Egbreuk het ‘n wyer betekenis- Daar is gewoonlik ‘n onskuldige party; die slagoffer van owerspel, maar albei ly onder die  wolk van egskeiding.

By owerspel het een party owerspel gepleeg, en is die ander party sonder stigma.

Soms wil mense nie as “geskeide vrou/man” bekend wees nie.

Antwoord:

Hein,

Ek wil die volgende vrae aan jou stel:

1) Wat sien jy as die verskil in betekenis tussen die twee woorde?

2) Vra gerus so tien mense uit verskillende agtergronde wat hulle as die verskil verstaan, sonder om hulle te beïnvloed of hul antwoord te bespreek. As jy dit vir jouself uitgemaak het, lees verder:

Danksy jou navraag het ek toe ook my vrou gevra hou sy die twee woorde verstaan. Dankie, dit was vir my lekker om haar opinie te hoor!

My vrou sê: Owerspel verwys na ‘n seksuele verhouding (fisies of fantasie of aanleiding tot) tussen twee mense wat nie getroud is nie, “Jy oorspeel jou regte en voorregte” van vriendskap met iemand met wie jy nie getroud is nie. (Daar word met geen huwelik ingemeng nie.) Dit kan met een of met ‘n rits persone wees. Maar dis nie egbreuk nie omdat geen huwelik betrek of bedreig word nie – almal betrokke is ongetroud. Bejaardes in aftreeoorde regverdig hulleself met die volgende redinasie: Hulle pleeg nie owerspel of egbreuk nie want hulle is nie tans getroud nie, m.a.w hulle bedreig niemand se huwelik nie of betree nie iemand se “heiligdom” nie. Hulle is net goed vir mekaar. Maar dis steeds owerspel.

Egbreuk is iets wat spesifiek met die huwelik, as “eg-verbintenis” te doen het. As ‘n getroude persoon met iemand anders koketteer, is dit reeds die begin van egbreuk want dit beskadig die verhouding in die huwelik en stel die huweliksmaat in verleentheid. Dit vind sy finale breukpunt in die seksdaad. Egbreuk kan volgens haar ook binne die huwelik plaasvind, bv. wanneer hulle nie hul huweliksbeloftes nakom nie. Dis ook egbreuk, want dit breek die delikate verhouding, die “eg-verbintenis” in die huwelik. Egbreuk kan ook insluit om omgang vir mekaar te weier en so die ander te frustreer of “straf”. Dit kom ook neer op egbreuk want die “eg-verbintenis” word weereens gebreek, al is ‘n buite persoon nie betrokke nie! Dis waaroor Paulus so ernstig daarteen in 1Kor.7  waarsku.

By haar opinie voeg ek die volgende by:

Oor Owerspel: Koketteer en vry of selfs warm vry tussen verliefdes en verloofdes is nie verkeerd nie, maar met die seksdaad word dit owerspel. Alle seks met persone wat nie met mekaar getroud is nie, is owerspel, ook voorhuwelikse seks tussen verliefdes of verloofdes.

Oor Egbreuk: Dit is ook as ‘n vorm van egbreuk wanneer die man sy vrou grof behandel en as’t ware verkrag, al is hulle getroud. Ook wanneer hy op maniere van seks aandring of op haar afdwing waarvan sy nie hou nie, bv. orale of anale seks.

Na die gesprek met my vrou het die gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” vir my ‘n baie wyer en dieper betekenis.

Seën

Herman.

…ooo000OOOIIIOOO000ooo…

1. In verband met 2Pet2:18 en jou bespreking daarvan, die volgende:

Herman, sou ons nou met die Bybel vertalers van die Jahowa Getuies praat, sou ons ook sinvolle argumente van hulle kry. Foute sluip toevallig in waarvan vertalers van deesdae self nie bewus was nie of, is dit omdat hulle nie die werklike boodskap in die teks verstaan nie? Omdat die mense moontlik in die ou tyd foute gemaak het, is dit sekerlik so dat vertalers van vandag ook gaan foute maak. Die saak van “keuse” is moontlik juis die oorsaak van dogmatiese vertalings.

In 2 Pet. 2 v 18, sou waarlik die beste keuse gewees het en omdat daar ‘n komma uitgelaat is voor die woord “die”, in die O V, is daar blykbaar verwarring. “Waarlik” is in die sin van “rein” (clean). Ek sou gesê het, “die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Ek moes nou ‘n ou engelse vertaling raadpleeg om te probeer verstaan wat daar gesê en bedoel word. Die woord keuse “sopas” maak ook sin en tog verskil dit hemelsbreed met die engelse teks se O V.

MY vraag is wel, verlok hulle net die wat sopas van die dwaling bekeer het of ander ook? Ek sou sê ander ook wat moontlik lankal bekeer het.

Antwoord:

Baie dankie vir die belangrike saak wat jy op die tafel sit i.v.m. “keuse” van ‘n variasie in die manuskripte. Dit is juis die uiters intense saak waarmee ons as volgelinge van Jesus te doen het. Ons wil graag die Woord van God hê voordat mense daarmee gepeuter het en ons begin dwing het in die maak van “keuses”.
Ek stem saam met jou toepassing van 2Pet.2:18. Albei die groepe, dié wat pas tot bekering gekom het, èn die wat al lankal Jesus volg (en dalk nou op hulle louere rus), kan verlei word! Maar dit is juis die punt. Indien ons weet wat God oorspronklik laat neerskryf het, kan ons van daar af die Woord interpreteer en toepas. Dis mos die kern van die werk van die predikant! Maar as ons nie weet wat oorspronklik is en wat reeds iemand anders se interpretasie of “toepassing” is nie, kan ons net verder borduur op andere se borduursels.

Wanneer ons genoodsaak is om ander vertalings te raadpleeg, sit ons weer met die vraag: Is daardie vertaling ‘n vertaling van wat God oorspronklik laat neerskryf het, of is daardie vertaling ‘n vertaling van iemand se interpretasie, of iemand se verkeerdlees van Griekse letters wat verwar kan word?
Op die ou end moet die Woord self, en ons bestudering daarvan ons nader aan God bring sodat ons die influistering van die Heilige Gees beter kan onderskei. Die kern is tog om ‘n lewende verhouding met ons Vader te hê!

Vriend, ek waardeer jou saamdink en saamworstel en saambid om by die kern van God se Woord uit te kom! Baie dankie!

Dit gaan om die eer van God!

Herman.

8 Responses to Lesers Vrae.

  1. yfveldhuizen says:

    Goeiedag Herman,
    Ek voel gemaklik met die verstaan van die Griekse “ekfeugo” as om “te ontvlug.” Om te ontvlug dra geen spesifieke tydsbetekenis nie. Om “te ontvlug” impliseer meestal ‘n aktiewe handeling, maar ‘n mens sou ook “kon ontvlug het” indien jy uit ‘n situasie weggeneem word. Ek weet ongelukkig nie wat die Koine Grieks vir “weggeneem” sou wees nie. (Is dit baie naby aan “ekfeugo” sodat daar dalk in die epigrafie “wegneem” kon gestaan het en in latere manuskripte met “ekfeugo” vervang kon gewees het?) Weereens impliseer “weggeneem” nie ‘n spesifieke tydsbetekenis nie. Daarteenoor het “wegraap” en veral die “-raap” deel ‘n spesifieke tydsbetekenis – ‘n skielike aksie, deur iemand anders (in die geval Chrustus) uitgevoer. ‘n Mens raap tog iets op – jy kan jouself nie op- (weg) raap nie. In v.36 is daar nêrens ‘n aanduiding van iemand (Christus) wat ‘n aksie op ‘n mens uitvoer nie.

    In Vrede

  2. Dankie Yf vir jou opmerking
    Daar is geen manuskripbewys dat “ekfeugo” ooit deur ‘n ander sinoniem voorafgegaan het nie.
    Jou interpretasie van vs.36 is in die kol.
    seën
    Herman.

  3. yfveldhuizen says:

    Goeiedag Herman,
    Ek voel gemaklik met die verstaan van die Griekse “ekfeugo” as om “te ontvlug.” Om te ontvlug dra geen spesifieke tydsbetekenis nie. Om “te ontvlug” impliseer meestal ‘n aktiewe handeling, maar ‘n mens sou ook “kon ontvlug het” indien jy uit ‘n situasie weggeneem word. Ek weet ongelukkig nie wat die Koine Grieks vir “weggeneem” sou wees nie. (Is dit baie naby aan “ekfeugo” sodat daar dalk in die epigrafie “wegneem” kon gestaan het en in latere manuskripte met “ekfeugo” vervang kon gewees het?) Weereens impliseer “weggeneem” nie ‘n spesifieke tydsbetekenis nie. Daarteenoor het “wegraap” en veral die “-raap” deel ‘n spesifieke tydsbetekenis – ‘n skielike aksie, deur iemand anders (in die geval Chrustus) uitgevoer. ‘n Mens raap tog iets op – jy kan jouself nie op- (weg) raap nie. In v.36 is daar nêrens ‘n aanduiding van iemand (Christus) wat ‘n aksie op ‘n mens uitvoer nie.

    In Vrede

  4. Annemarie says:

    Herman dagse,
    Jammer ek vra nou op die blad maar wat is die proses wat ek moet volg om n vraag te vra asb? Ek merk dat Kittel blykbaar nie suiwer was nie en Erasmus die leuen wou uitskakel maar volgens wat ek nou al kon ontdek is dat Erasmus baie foute gemaak het op sy teks en dit ook nie suiwer was nie. Het Nesltle-Anand en Erasmus asook Kittel enige bron dokumente in gemeen?

    • Annemarie,
      Baie dankie vir jou navraag. Jammer dat ek nou eers antwoord. Het probleme met internet gehad.
      “Kittel” verwys algemeen na die Hebreeuse Ou Testament (Biblia Hebraica) wat deur Rudolf Kittel in 1937 uitgegee is. Dit was die standaard gedrukte teks van die OT gebaseer op die beste manuskripte van die Masoretiese teks, en is voorsien van tekskritiese apparaat wat variasies in verskillende manuskripte aandui.
      Tans word die Biblia Hebraica Stuttgartensia meer algemeen gebruik. Dit is op ‘n beter bronteks gebaseer en neem ook enkele van die Qumran Geskrifte (wat eers in 1947 en later ontdek is) in die tekskritiese apparaat in ag.

      Erasmus het die eerste gedrukte Griekse teks op die Nuwe Testament in 1516 uitgegee. Dit was gebaseer op net ‘n paar laat manuskripte, en bevat geen tekskritiese apparaat nie. Dit het talle unieke foute en invoegings, wysigings en selfs ‘n nuwe Griese woord wat Erasmus self geskep het! Sy teks het later bekend gestaan as die Textus Receptus. Vanweë sy beskikbaarheid en ongeweegde gebruik, het dit as bronteks vir talle ouer Vertalings van die NT, soos die King James Version en die 1933/53 Ou Afrikaanse Bybel gedien. Sien meer op my plasing hieroor by: https://bybelverskille.wordpress.com/2011/05/27/22-die-eerste-gedrukte-griekse-nt/

      “Nestle – Aland” verwys na die eerste Griekse teks van die Nuwe Testament wat van ‘n uitgebreide wetenskaplik nagevorste tekskritiese apparaat voorsien is. Dit is reeds in 1898 uitgegee, maar nuwer uitgawes is telkens aangepas. Dit word steeds hoog aangeskyf.
      Tans word die teks van die United Bible Societies algemeen deur vertalers van die Nuwe Testament gebruik. Dit bevat uitstekende tekskritiese apparaat en neem alle belangrike variasies in ag wat in meer as 5894 Griekse manuskripte voorkom. Verder gee die ook die variasies wat in antieke Vertalings asook in aanhalings van die ou Kerkvaders voorkom. Lees meer oor die UBS – teks op my plasing daaroor by:

      26. Die Beoordeling van Variasies.

      Dit is voor die handliggend dat ‘n bronteks wat die totale spektrum van tekste en variasies in ag neem, die grootste moontlikheid bied om by die oorspronklike Teks uit te kom.

      Baie Seën,
      Herman.

  5. Annemarie says:

    Goeie middag Herman,

    1 Kor.15:5-8
    Verwys Paulus dat Jesus aan verskeie mense verskyn het, asook vers 8 laaste verskyn het aan hom (Paulus).
    My vraag is : Jesus het nog voor Sy hemelvaart verskyn aan die voor Paulus en eers n geruime tyd later nadat Hy reeds opgevaar het aan Paulus. Dit beteken dan dat Jesus aan die voor Paulus verskyn het met n vleeslike liggaam omrede Hy ook vir hul gese het hul kan aan Hom vat en Hy het ook saam met hul geeet. Paulus moes Jesus in n geestelike manifistasie gesien het want dit was reeds mos na die hemelvaart – hoekom dan word dieselfde woord in ons taal as VERSKYN gebruik? – dit laat nou net die vraag by my; of dit moontlik is dat dit wel n geestelike manifistasie aan die ander voor Paulus ook kon wees? Kan dit ander betekenisse ook he in die oorspronklike bron tekse?

    Baie dankiie Herman en mag jy geseend wees met nog meer wysheid en kennis.

    Groete in Jesus
    Annemarie

  6. henry says:

    Dagse Herman. Veels geluk met jou deeglike blog. Doen asb. vir my eksegese oor Efesiers 5, 30

    • Ek doen nie eksegese per se nie. Ek bepaal my hoofsaaklik by ‘n ondersoek van die oorsake vir die verskille tussen die ouer vertalings van die Bybel soos die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling en die King James Version, teenoor die moderne vertalings soos die 1983 Nuwe Afrikaanse Bybel en die New International Version. (Engels by http://www.bibledifferences.net ) Soms kom ‘n bietjie eksegese in my hantering van die intrinsieke kriteria vir die evaluering van verskille na vore, maar dis nie waarop ek my begewe nie.

      Toevallig het ek Ef.5:30 onlangs ondersoek.

      Baie seën
      Herman.

Leave a comment