157 Het Jesus aan die Gevange Geeste Gepreek of Aangekondig? 1 Petrus 3:19

In 1 Petrus 3:19 vind ons ‘n belangrike verskil met verreikende gevolge tussen sommige Afrikaanse vertalings.

In die 1933/53 Bybel, ook die Afrikaanse Standaard Vertaling vind ons die volgende vertaling. Let op die woord “gepreek” wat in donker gedruk is:
“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is …” (1 Petrus 3:18 – 20)

Die 1983 Bybel, ook Die Bybel, ‘n Direkte Vertaling en die Nuwe Lewende Vertaling vertaal dit as volg:
“En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.”

Die Griekse woord “kyrusso̅” wat hier gebruik word, beteken eintlik aankondig of bekendmaak. Daaruit word dit gevolglik ook gebruik vir “om te preek.” Grammatikaal is albei vertalings korrek.

Maar daar is ‘n geweldige verskil in die toepassing van die twee moontlikhede. Daar word vir mense gepreek om die boodskap van verlossing in Jesus Christus aan hulle bekend te maak. Die doel is dat hulle hulle sal bekeer en Jesus as Verlosser sal aanneem. Die “geeste” aan wie Jesus sy oorwinning aangekondig het, of vir wie Hy sou gepreek het, word in vers 20 aangedui as die mense wat in die tyd van Noag vanweë hul sondes in die vloed gesterf het. Die 1933/53 Bybel sê dat Jesus vir hierdie mense gepreek het. “Preek” beteken om die verlossing deur Jesus bekend te maak sodat die aanhoorders Jesus as Verlosser kan aanneem en so gered word. Indien Jesus dan vir die mense gepreek het, sou sommige inderdaad Jesus as Verlosser kon aanneem, en ‘n tweede kans kry om hulle te bekeer en gered te word. Dít is immers die doel van prediking!
Ek verneem dat die Ou – en die Nuwe Apostels hierdie vers so interpreteer! Daarom glo hulle dat hulle vir ‘n familielid wat ooglopend as verlorene gesterf het, kan bid en selfs kan preek! Hulle verkondig dus ‘n tweede kans nadat die dood ingetree het.

Maar dit is tog onmoontlik!

Die korrekte vertaling van hierdie woord is “Aankondig”. Dít is wat Jesus in die gevangenis gaan doen het.
Die hele mensdom, uitgesluit Noag, sy vrou, hulle drie seuns en dié se vrouens is deur God uitgewis. Dit was vanweë die hardnekkige sonde en afgodery van hierdie mense wat nou in die gevangenis is. Daarom moes hulle aanhoor en verseker word dat Jesus die volle prys betaal het vir elkeen wat Jesus as Verlosser aanneem. Sy oorwinning moes aangekondig word aan die mense wat vir die vloed verantwoordelik was.

Dit is eers wanneer ons die werklike implikasies van ‘n vertaling bestudeer, dat ons besef watter verkeerde vertaling van ‘n woord kan veroorsaak.

Seën,
Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria in the seventies. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Dinamies Ekwivalente Vertaling, Direkte Vertaling, Intrinsieke kriteria, Verstaanbaarheid van Vertalings. Bookmark the permalink.

Leave a comment