125 Om ‘n Eed af te lê of nie. 1 Timotheus 2:7

125 “In Christus” uitgelaat uit 1 Timotheus 2:7.

In 1 Timotheus 2:5 – 7 het ons met ‘n uiters belangrike saak te doen.

Om die woorde “in Christus” by ‘n stelling te voeg, of weg te laat, is nie ‘n ligte saak nie. Die byroep van Christus het die direkte betekenis van om te sweer in Christus! Om ‘n eed af te lê was ‘n uiters belangrike saak. Jakobus sê dat ons liewer gladnie moet sweer nie. (Jak. 5:12) Ook Hebreërs hanteer die saak met groot erns. (Heb. 6:13 – 16) Hoewel Matteus nog nie geskryf was toe Paulus hierdie brief aan Timotheus geskryf het nie, sou die saak van om te sweer by Paulus as voormalige wetgeleerde van groot erns wees. In Matteus 5:33 – 36 en ook 23:16 – 22 hanteer Jesus die geweldige saak van om te sweer al dan nie. Paulus sou bewus gewees het van Jesus se standpunt oor hierdie saak. Daarom is hierdie woorde van soveel belang. Het Paulus gesê: “…ek praat die waarheid, ek lieg nie, ek is aangestel as ‘n prediker en apostel van die heidene…” of het Paulus by Christus gesweer dat hy so aangestel was? Dít is nie ‘n ligte saak nie!

Ons gebruik drie kriteria om ‘n objektiewe antwoord te probeer vind.

  1. Eksterne kriteria.

Heel eerste ondersoek ons die manuskripte wat hierdie vers bevat, soos dit in die Afrikaanse Vertalings opgeteken is.

1933/53: 1 Timotheus 2:5 – 7: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as ‘n prediker en apostel – ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie – ‘n leraar van die heidene in geloof en waarheid.”

Hierdie weergawe word ondersteun deur die Sinaïtikus (350), Coislinianus (550), Moskuensis (900), 12 minuskuls, (later as 900 n.C.) en ‘n Bisantynse leesbundel (1050). Ook die volgende Antieke Vertalings: 1 Oud Latynse vertaling (850), Goties (350) en Armeens. (450) 2 Kerkvaders haal die vers ook so aan.

Daar is selfs ‘n weergawe wat sê: “…waartoe ek aangestel is as prediker en apostel – ek praat die waarheid, so sê Christus, ek lieg nie…”

Moderne vertalings soos die Bybel, ‘n Direkte Vertaling is egter sonder “in Christus”.

BDV: “Hiervoor is ek aangestel as prediker en apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.”

Hierdie weergawe word ondersteun deur Alexandrinus (450), Bezae (500), Atous Laurae (800), Boernerianus (850), Porphyrianus (850), en 8 minuskuls (later as 900 n.C.).

Die volgende vertalings het ook hierdie weergawe: Sahidies (250), Bohairies (350), 10 Oud Latynse vertalings (450 – 1100), die Vulgaat (450), 2 Siries (450 en 650) en Etiopies (550). 4 Kerkvaders haal die vers ook so aan.

Volgens die manuskripte tot ons beskikking, wys die baie wye geografiese verspreiding van die antieke vertalings met die weergawe sonder “in Christus”, daarop dat hierdie weergawe baie algemeen in gebruik was. Objektief beskou is daar ‘n groter moontlikheid dat die weergawe sonder “in Christus” ooreenstem met die oorspronklike autografie.

  1. Interne kriteria.

Vervolgens probeer ons konstrueer hoe die variasie kon ontstaan het. Dit kan ‘n aanduiding gee van watter weergawe die oorspronklike sou wees, en watter die variasie.

Sou iemand doelbewus ‘n ingrypende bepaling soos “in Christus” doelbewus uithaal? Daar is geen voor die handliggende rede nie. Dit gee ook nie aanstoot nie en daar is nie enige grammatikale rede vir so ‘n stap nie. Gevolglik is die verwyder daarvan ondenkbaar.

Dit laat die vraag ontstaan of hierdie woorde inderdaad ingevoeg kon gewees het. Die grootste moontlikheid is dat dit in die gedagtes van ‘n kopieerder kon wees, en hy dit daarvolgens ingevoeg het. Maar van waar sou hy dit oorgedra het?

In Romeine 9:1 kry ons ‘n soorgelyke sin: “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.” En dan skryf Paulus ‘n geweldige geloofsoortuiging, nl: “Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af.

Dit is inderdaad ‘n moontlikheid dat ‘n kopieerder hierdie woorde kon onthou het en ingevoeg het na aanleiding van Romeine 9, maar om dit uit te laat, is ondenkbaar.

Volgens die interne gegewens, kom dit voor dat die weergawe met die woorde “in Christus” eerder die variasie sou wees.

  1. Intrinsieke kriteria.

Ons laaste kriterium is om na die konteks te kyk. Watter funksie sou hierdie woorde hê?

Soos hierbo verduidelik, het “in Christus” in hierdie sin die funksie om van die stelling dat Paulus as apostel en leraar van die heidiene aangestel is, ‘n eed te maak. Hoe algemeen en in watter gevalle bevestig Paulus ‘n saak met ‘n eed?

In die Pauliniese briewe vind ek vier gevalle waar Paulus ‘n saak moontlik met ‘n eed sou wou bevestig.

2 Korintiërs 11:10: “So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.”

2 Korintiërs 11:31: “Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie.”

Galasiërs 1:20: “En wat ek julle skryf – voor die aangesig van God, ek lieg nie!”

In al drie hierdie gevalle gebruik Paulus grammatikale konstruksies wat beslis nie as eed verstaan kan word nie.

Die vierde plek waar Paulus ‘n saak met ‘n eed sou wou bevestig, is Romeine 9:1: “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie. My gewete getuig saam met my in die Heilige Gees…” Hier is ‘n grammatikale konstuksie wat inderdaad sterk dui op ‘n eed.

Dit is baie duidelik dat Paulus nie maklik iets met ‘n eed bevestig nie.

Die stelling in 1Timotheus 2:7 wat ons tans ondersoek, gee alle aanduiding dat dit ‘n gewone stelling is, naamlik dat hy as apostel en leraar van die heidene aangestel is. Hy lieg nie daaroor nie. Daar is geen spesifieke rede waarom hy daaroor sou moes sweer en hom met ‘n eed op Christus sou beroep nie. Die sinskonstruksie is egter so dat die woorde “in Christus” maklik ingevoeg kon word om daarvan ‘n eed te maak.

Mens vra jou egter af of daar enige verskil in konteks en diepte is is tussen die stelling in 1 Timotheus 2:7 en die stelling in Romeine 9:1.

In Romeine 9 het ons inderdaad met ‘n ingrypende uitspraak van Paulus te doen. Daarvoor sou hy moontlik vir Chrisus as bevestiging wou byroep. Paulus sê dat hy self eerder verlore sal gaan, as dit maar net sou kon help dat sy volksgenote gered kon word. “Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af.” Dít is ‘n uitspraak wat met reg bevraagteken kon word. Dít is ‘n uitspraak waarvoor Christus in ‘n eed bygeroep kon word. Dít is iets waarvan die implikasies so geweldig is, dat Paulus by Christus sou wou sweer, en Hom dan as getuie sou wou byroep!

In Romeine 9:1 maak “in Christus” sin, en het dit ‘n ernstige funksie te speel.

Dit verskil hemelsbreed van die saak wat Paulus in 1 Timotheus 2:7 aanhaal. Die erns waarmee Paulus sy verhouding met Christus hanteer dui sterk daarop dat hy nie sondermeer by Christus sou sweer oor ‘n saak wat nie van diepe belang sou wees nie.

Dit maak dit feitlik ondenkbaar dat Paulus van die begin af met ‘n eed sou wou bevestig dat hy as apostel van die heidene aangestel is. Dit is ’n gewone stelling met nie naastenby dieselfde diepte of erns wat ander sake het waar Paulus nie met ‘n eed bevestig nie. Dit is uit die konteks ondenkbaar dat die “eed – variasie” die oorspronklike weergawe sou wees.

Volgens die intrinsieke ondersoek is dit duidelik dat die weergawe met die woorde “in Christus” eerder ‘n variasie op die oorspronklike autografie is.

Gevolgtrekking.

Al drie ons ondersoek kriteria dui daarop dat die weergawe sonder die woorde “in Christus” eerder die oorspronklike outografie sou verteenwoordig.

Inderdaad sou Paulus Christus kon byroep as die een by wie hy met ‘n eed bevestig dat hy sy lewe sou aflê as dit kon help om sy volksgenote tot verlossing te bring, maar sommer net om te bevestig dat hy aangestel is vir die heidene, is ondenkbaar. Dit maak die saak van ‘n eed aflê heeltemal te lig vir iemand soos Paulus wat met absolute erns die evangelie verkondig!

Seën,

Herman.

Kommentaar onder aan hierdie bladsy is baie welkom, of per e – pos aan bibledifferences@gmail.com

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Eksterne Maatstawwe (Gegewens), Evaluering: maatstawwe, Interne Kriteria, Intrinsieke kriteria, Konteks. Bookmark the permalink.

2 Responses to 125 Om ‘n Eed af te lê of nie. 1 Timotheus 2:7

  1. Ek noem net vir interressantheidshalwe dit wat vir my duidelik geword het aangaande die eed af te lê of om te sweer: Volgens wat Jesus by geleentheid sê van die eed en ook waar dit in die Skrif genoem word dat God, by gebrek aan iets of iemand hoër as Hyself, ‘n eed by Homself geneem het, word ‘n eed, in weerwil van die gebruik om ‘n eed af te lê oor iets wat in die verléde plaasgevind het, slegs geneem oor ‘n TOEKOMSTIGHEID soos bv. oor ‘n VOORNEME om iets te doen!
    Die rede dat Jesus bv. nooit van ‘n eed spreek oor iets wat in die verlede plaasgevind het nie, is volgens my denke dat dit vir Hom ondenkbaar is dat ‘n gelowige sal lieg oor iets wat gebeur het in die verlede, maar ‘n mens kan baie maklik spreek van ‘n voorneme wat hy/sy geneem het maar waaraan die mens hom nie self waarlik bind nie; daarom sê Jesus slegs dat ‘n mens se ‘ja’ ja moet wees en sy ‘nee’ nee, en dat dit wat meer is as dit uit die bose is.

    • Baie dankie Chris vir hierdie verduideliking aangaande ‘n eed. In die 119 verse wat ek haastig kon nagaan is dit inderdaad so dat almal óf na die toekoms verwys, óf na ‘n eed wat in die verlede afgelê is met die oog op die toekoms.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s