142 Janus 1Johannes 3;19

Janus was ‘n Romeinse god met twee gesigte. Een wat agtertoe kyk, na die verlede, en een wat vorentoe kyk, na die toekoms. Hy was die god van die aanvang van dinge, van poorte, oorgange, tyd, deure, gange en die einde van dinge of sake.

Prof Bill Mounce (http://zondervanacademic.com/blog/whats-a-janus-1-john-319-mondays-with-mounce/) het my bewus gemaak van die konsep van ‘n Janus in die Bybel.

In die Bybel kry ons ook soms ‘n uitdrukking wat òf na die vorige stelling, òf na die opvolgende stelling kan verwys, maar dan is daar ook stellings wat na beide verwys, soos ‘n Janus. Die probleem is dat feitlik geen leestekens in die ou Griekse manuskripte gebruik is nie, selfs nie ‘n punt om die sin af te sluit nie. ‘n Egte Janus bied die uitdaging aan die vertaler om te kies hoe hy dit sou vertaal, sodat die leser sal besef dat die stelling in werklikheid na die vorige sowel as die opvolgende stelling verwys. En dit is nie maklik nie.

Ons kyk na enkele gevalle in die Nuwe Testament.

In Titus 3:6-8 kan “Dit is ‘n betroubare word” of na die vorige stelling dat ons erfgename van die ewige ewe kan word verwys, of na die opvolgende saak nl die effek van die goeie werke van gelowiges, of juis as ‘n Janus op albei van toepassing is. “…wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe. Dit is ‘n betroubare word; Ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.”

In 1 Timoteus 4:11 kan “hierdie dinge” na die vorige instruksies verwys om die valse leraars van Efese te vermy, of net so maklik na Paulus se persoonlike opdragte aan Timoteus wat volg. Maar dit kan ook soos ‘n Janus na beide groepe verwys: “…Want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges. Beveel en leer hierdie dinge. Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde,in gees, in geloof, in reinheid.”

n Ander treffende voorbeeld van ‘n Janus vind ons in 1 Johannes 3:19. Die Griekse woorde (ἐν τούτῳ)”in hierdie dinge” word vertaal as “hieraan” (1933/53)of “hierdeur” (Bybel, ‘n Direkte Vertaling) of “hierdie dinge” (Bybel vir Almal)Die vraag is watter dinge ter sprake is, die voorafgaande, of die opvolgende, of beide?

Ek haal 1 Johannes 3:18 – 20 eers in die 1933/53 Bybel aan:”My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.”

Waaraan weet ons dat ons uit die waarheid is? Deur ons woorde met die daad te bevestig, of deur die versekering dat ons nie veroordeel word nie? Of is dit juis beide (‘n Janus)? Hierdie vertaling kan as ‘n Janus verstaan word, wat na beide die vorige en die opvolgende verwys.

Die Bybel, ‘n direkte vertaling maak ‘n besliste keuse vir die daaropvolgende stelling: “18 Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong liefhê nie, maar met die daad ten volle. En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom en met ‘n geruste gewete voor God kan staan: wanneer ons gewete ons aankla, God is groter as ons gewete en Hy weet alles.”

Die 1983 vertaling maak ‘n keuse vir die voorafgaande stelling deur 19 met ‘n punt af te sluit en die daaropvolgende stelling as ‘n nuwe sin te hanteer: “18 Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 19 Hierdeur kan ons ook tewete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. 20 As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.”

Bybel vir almal hanteer dit die duidelikste as ‘n Janus: “18 Vriende, ons moet lief wees vir die ander gelowiges, maar ons moet dit nie net sê nie. Ons moet die dinge doen wat wys dat ons lief is vir hulle omdat ons weet wat die waarheid is. 19 As ons daardie dinge doen, dan sal ons weet dat God sy waarheid vir ons gegee het. As ons skuldig voel en dink God moet ons straf, dan moet ons nie bang wees vir God se oordeel nie. Want ons weet dat God belangriker is as die dinge wat ons in ons harte voel. En God weet alles.”

Hoe ons ookal daarna kyk, vers 19 gee aan ons die versekering dat as ons die dinge doen wat in vers 18 genoem word, dit vir ons ‘n bewys is dat ons aan God behoort. En as ons aan God behoort, het ons nie rede om bang te wees vir God se oordeel nie. “Hierdie dinge” (ἐν τούτῳ)funksioneer in hierdie verse as ‘n egte Janus, wat beide na die voorafgaande en na die opvolgende stellings verwys.

Seën

Herman.

Kommentaar onder aan hierdie bladsy of na bibledifferences@gmail.com is welkom.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria in the seventies. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a comment