15. Foutiewe sien, 2: Haplografie en Dittografie.

‘n Tweede tipe fout deur foutiewe sien:

In hierdie uittreksel van ‘n deel van ‘n kolom uit die Kodeks Sinaïtikus het ek drie reëls met rooi omkring wat presies dieselfde letters bevat. In hierdie plasing bespreek ons die moontlikheid van ‘n fout wat kan ontstaan wanneer die oog van die een deel na die ander “spring”. Dit kan veroorsaak dat die gedeelte daartussen uitgelaat word (Haplografie) of gedupliseer word (Dittografie).

Hoewel nie baie verskille tussen die 1933/53 vertaling en die 1983 vertaling daardeur verklaar kan word nie, is daar een spesifieke geval wat ons aandag benodig.

Dit is presies wat in 1Johannes 2:23 gebeur het toe Erasmus die eerste Griekse teks gedruk het.

In 1Joh.2:23 is die woorde “…wie die Seun erken, erken ook die Vader…” uitgelaat uit die bronteks waaruit die Nederlandse State Vertaling en die 1933/53 Afrikaanse teks vertaal is. Die AOV lui: “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.” Die ANV het die volle teks: “Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader.“

In die King James is dit in later uitgawes bygevoeg. Hierdie fout het gebeur omdat die twee opvolgende sinne met dieselfde woorde eindig, nl.  “…ook die Vader.” Dit is ‘n duidelike gaval van Haplografie in Erasmus se eerste gedrukte Griekse teks.

Hierdie tipe fout word maklik raakgesien en verklaar. Die ontbrekende woorde kan dan uit ander manuskripte aangevul word. So ontstaan ‘n saamgestelde teks. Bybelgenootskappe gebruik eerder ‘n saamgestelde teks as om een enkele manuskrip as bronteks te gebruik.

Een van ons belangrikste kodekse uit die jaar ±350, die kodeks Sinaitikus het geweldig baie gevalle van haplografie.

Hoe oordeel mens oor die waarde van ‘n manuskrip waar baie ooglopende foute voorkom? Die doel van enige teksondersoek is om die oorspronklike bewoording vas te stel. Wanneer daar foute soos spelfoute, omruiling van letters, haplografie of dittografie in ‘n dokument voorkom, kan dit maklik geïdentifiseer word. Die belangrike saak is egter dat die teks wat wel daar is, tesame met die logiese in ag neming van ooglopende foute, ons nogtans nader bring aan die dokument waarvandaan dit afgeskryf is.

Die waarde van ‘n manuskrip is nie die netheid of uitnemendheid van die betrokke kopieerder nie, maar om nader aan die bronteks te kom. Wanneer ‘n bepaalde teksvers of gedeelte van ‘n teksvers nie in die dokument voorkom nie, en daar nie ‘n logiese verklaring soos haplografie vir die uitlaat daarvan gegee kan word nie, moet dit aanvaar word dat dit nie in die ouer dokument voorgekom het nie. Wanneer daar gevind word dat alle dokumente vòòr ‘n sekere datum nie ‘n bepaalde vers in het nie, terwyl baie dokumente van ‘n latere datum wel so ‘n teksvers het, kan met redelike sekerheid aanvaar word dat hierdie teksvers later ingevoeg is. ‘n Sprekende voorbeeld is die feit dat net een enkele handgeskrewe Griekse manuskrip van die Nuwe Testament, minuskel 629 (Grieks eenkant, Latyn op die teenblad) uit tyd tussen 1300-1400 die eerste deel van Hand.9:6 bevat. (“Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.”) Dieselfde manuskrip het dit niè in die Latyn nie. Dit kom wel voor in die gedrukte Griekse uitgawes van Erasmus. Vandaar het dit in meeste ouer vertalings van die tyd nà die Hervorming beland. Dit is duidelik dat Lukas nie hierdie woorde in Handelinge 9 geskrywe het nie, maar wel in Hand.26:14. Vandaar het die kopieerder van minuskule manuskrip 629 dit in Hand 9 ingedra. Ons bespreek hierdie teks later meer volledig.

Bruce M. Metzger bied ‘n hele aantal interessante voorbeelde in sy boek, “The Text if the New Testament”, second edition, gedruk deur: Oxford at the Clarendon Press, p187.

Wat ‘n wonderlike voorreg om in die moderne tyd te lewe waar ons al die variasies wat deur die jare in die oorskryf of die druk van die Bybel ontstaan het, kan bestudeer. Dit help ons om nader aan die presiese woorde te kom wat God vir ons laat neerskryf het!

Seën!

Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria in the seventies. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Dittografie, Haplografie, Textus Receptus, United Bible Societies Teks. Bookmark the permalink.

5 Responses to 15. Foutiewe sien, 2: Haplografie en Dittografie.

  1. Pingback: 41. 1Johannes2:23 Wie die Seun erken… | Bybelverskille

  2. Pingback: 26. Die Beoordeling van Variasies. | Bybelverskille

  3. Pingback: 11. Minuskel Manuskripte. | Bybelverskille

  4. Pingback: 23.5 Kodeks Sinaïtikus | Bybelverskille

  5. Pingback: gegroet | Bybelverskille

Leave a comment