27.1 Intrinsieke kriteria

27.1 Intrinsieke kriteria
B. Intrinsieke kriteria om te bepaal wat die oorspronklike skrywer sou geskryf het.
Indien twee of meer verskillende lesings deur ewe sterk eksterne moontlikhede ondersteun word, hoe kan ons bepaal watter lesing die grootste moontlikheid het om die oorspronklike skrywer se woorde te wees? Elke mens het ‘n voorkeur vir ‘n bepaalde manier van ‘n ding sê. Ons het ook voorkeur vir sekere sinonieme, of gedagtes, of klemtone. Wanneer ons skryf, is daar ‘n logiese opbou. Al hierdie faktore kan ‘n rol speel in die bepaling van die beste moontlike keuse wanneer ons met twee of meer manuskripte gekonfronteer word wat verskil.
Die volgende intrinsieke oorwegings word gebruik:
1. Vergelyk die skrywer se woordeskat en styl met die res van sy geskrif. Almal weet dat Paulus die genade meer beklemtoon as die werke. Jakobus lê weer sterk klem op die feit dat jou dade jou geloof moet “bewys”, terwyl Johannes die apostel van die liefde is. In Ef.2:5 vind ons die volgende stelling: “Julle is uit genade gered.” Stel u voor dat ‘n ander manuskrip sê: “Julle is uit jul dade gered.”, en ‘n derde: “Julle is uit liefde gered.” As al die ander kriteria gelyk is, moet ons ‘n keuse maak op grond van wat Paulus tipies sou sê, nie waar nie? Dit sou die keuse op die eerste moontlikheid laat val.
2. Let op die onmiddelike konteks. In Mat.22:10 sê sommige manuskripte dat die bruilof (gamos) met gaste gevul is, ander dat die bruilofsaal (numf¬ōn) met gaste gevul is.
3. Ooreenstemming met die gebruik van die skrywer in ander geskrifte. Die woorde in 1Kor.14:34: “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.” word in sommige manuskripte nà 1Kor.14:40 geplaas. Sou ‘n monnik met ‘n aksie teen vroue hierdie woorde later ingevoeg het, of het Paulus dit geskrywe? As alle ander bewyse gelyk sou wees, moet ons in ag neem dat Paulus dieselfde opdrag in 1Tim.2:12 herhaal. Hierdie spesifieke vers word later meer volledig behandel.
4. Let op die Aramese agtergrond van Jesus se leringe. In Mat.5:38 haal Jesus ‘n Ou Testamentiese beginsel aan, nl: “Oog vir oog en tand vir tand.” Indien ons gekonfronteer word met ‘n andersins gelykwaardige manuskrip wat bv. sou sê: “Hand vir hand en tand vir tand.” kan ons kennis van Jesus se Aramese agtergrond die deurslag gee.
5. Neem die prioriteit van Markus as bron-evangelie in ag. Deeglike studie van die Sinoptiese evangelies het bewys dat Matteus en Lukas soms van Markus gebruik gemaak het, en nie andersom nie. Soms kan hierdie kennis help om tussen teksvariante te kies.
6. Let op die invloed van die Christelike gemeenskap op die formulering en oordra van die betrokke teks. In die asketiese lewe het monnike vas dikwels buitengewoon beklemtoon. Wanneer twee andersins gelyke manuskripte net verskil na aanleiding van die byvoeging van “gebed en vas”, kan “vas” feitlik verseker as ‘n latere invoeging aanvaar word, soos dit die geval is by Markus 9:29. Talle voorbeelde bewys die invloed van die Christelike gemeenskap in die kopieer van tekste.
Al die maatstawwe is nie noodwendig van toepassing by elke teksvariant nie. Indien ek ernstig begeer om so na moontlik te kom aan wat spesifiek oorspronklilk neergeskryf is, moet ek my eie voorkeure kruisig en biddend objektief alle beskikbare manuskripte evalueer. Al is ‘n teksvers vir my hoe kosbaar, as dit nie deel van die oorspronklike woord van God was nie, moet ek die moed hê om dit te verwerp. Selfs al het die HERE my daardeur aangeraak, indien dit deur die een of ander vroom monnik of deur ‘n publiseerder ingevoeg is, is dit nie woord van God nie. Indien die HERE my daardeur aangeraak het, kan ek die HERE dank, maar ek verhef dit nie tot woord van God nie. Die Here raak mense aan deur preke, boeke of spreuke van ander mense, maar ewe eens word dit nie tot woord van God verhef nie. Om met die woord van God om te gaan, vereis egte objektiwiteit en pynlike eerlikheid!
Al die bestaande Griekse tekste asook al die antieke vertalings asook aanhalings deur Kerkvaders, is tans tot beskikking van die moderne vertalers. Die Bybelgenootskappe gebruik sonder uitsondering ‘n gestandaardiseerde teks wat deur verskeie denominasies onderskryf word. Daarom kan die teks van moderne vertalings met groot sekerheid aanvaar en vertrou word as die naaste aan die oorspronklike manuskripte.
Wanneer ons na al hierdie maatstawwe kyk, besef mens dat die Bybelvertalers nie lukraak met die teks en die moontlikhede omgaan nie. Vir hulle is die vasstel van wat God laat neerskryf het, van nog groter belang, want enigeen kan verantwoording van hulle eis oor die kriteria wat hulle aangewend het met hul keuses.
Alles gaan om die eer van God!
Herman.

About Herman of bibledifferences.net

The reasons for the differences between older Bibles like the King James Version and newer Bibles like the New International Version have fascinated me ever since my studies in Theology at the University of Pretoria. I have great respect for scribes through the ages as well as Bible translators, so there must be good reasons for the differences. With more than 5600 Greek manuscripts and more than 19000 manuscripts of ancient translations to our disposal, the original autographs of the New Testament can be established without doubt. I investigate the reasons behind the differences and publish the facts in a post on my blogs www.bibledifferences.net (Afrikaans: www.bybelverskille.wordpress.com) to enable my readers to judge for themselves. Personally I love to make an informed decision based of facts. That is why I endeavor to provide that same privilege to the readers of my blogs. Since 1973 I am married to my dear wife and greatest friend, Leah Page, founder director of Act-Up Support (www.actup.co.za) a prayer ministry for families struggling with drug-, occult- and other dependencies. We are blessed with two daughters and two sons, four grand sons and two grand daughters. God is alive and omnipotent! Glory to His Name! Herman Grobler.
This entry was posted in Intrinsieke kriteria. Bookmark the permalink.

9 Responses to 27.1 Intrinsieke kriteria

  1. Pingback: 42. Maansiek? Mat.17:15 | Bybelverskille

  2. Pingback: 43. Die Einde van Romeine | Bybelverskille

  3. Pingback: 45. Die Eerste Beginsels van die Wêreld. | Bybelverskille

  4. Pingback: 44 Wie kom moeilik in die Koninkryk van God? | Bybelverskille

  5. Pingback: 45. Die Eerste Beginsels van die Wêreld | Bybelverskille

  6. Pingback: 46. Die Engelekoor (Lukas 2:14) | Bybelverskille

  7. Pingback: 50 Vrou in die Amp: Is 1Kor.14:34-35 ‘n Glos? | Bybelverskille

  8. Pingback: 50. Vrou in die Amp. | Bybelverskille

  9. Pingback: 56 Klere was of Gebooie doen? | Bybelverskille

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s